Interslawies medžuslovjansky меджусловјанскы | ||
---|---|---|
Geskep deur: | Vojtěch Merunka en Jan van Steenbergen | |
Omstandigheid en gebruik: | Hulptaal vir kommunikasie tussen Slawiërs in Sentraal- en Oos-Europa | |
Totale sprekers: | 2000 (2017)[1] | |
Kategorie (doel): | kunstaal internasionale hulptaal sonale hulptaal pan-Slawiese taal Interslawies | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | geen | |
ISO 639-2: |
| |
ISO 639-3: | isv
| |
![]() | ||
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Interslawies (medžuslovjansky jezyk, меджусловјанскы језык [mɛd͡ʑusɫɔ'vjanskɪ 'jæzɪk]) is 'n kunsmatige taal wat ontwerp is om kommunikasie met en tussen verteenwoordigers van verskillende Slawiese volke te vergemaklik. Die grondgedagte is dat die Slawiese tale so eenders is dat dit op grond van gemeenskaplike eienskappe moontlik moet wees om 'n taal te skep wat deur alle Slawiërs sonder voorafgaande studie verstaan kan word.[2] Grammatika sowel as woordeskat is gebaseer op die hierdie ooreenkomste. Gevolglik het Interslawies drie geslagte en 'n volledige verbuiging en vervoeging, in teenstelling met hoogs vereenvoudigde internasionale hulptale soos Esperanto en Interlingua. Interslawies word geskryf met sowel die Latynse as die Cyrilliese alfabet.
Die taal word hoofsaaklik in internetverkeer gebruik, maar bevat ook 'n aantal elektroniese en gedrukte publikasies. Boonop vind internasionale konferensies sedert 2017 plaas. In teenstelling met baie soortgelyke projekte het Interslawies nie 'n sambreelorganisasie nie, maar kan die ongeveer 15 000 gebruikers en belangstellendes hoofsaaklik op sosiale media gevind word. Besluite oor leerhulpbronne, grammatika en woordeskat word deur 'n komitee van vyf lede geneem.[3]
Deur die eeue heen is baie pogings aangewend om 'n gemeenskaplike literêre taal vir Slawiërs te skep. Die eerste Pan-Slawiese grammatika is in die jare 1659–1666 geskryf deur die Kroatiese priester Juraj Križanić. Tientalle ander projekte het in die 19de en 20ste eeu die lig gesien. Aanvanklik het hul skrywers geglo dat alle Slawiërs verenig kon word deur 'n gemeenskaplike skryftaal, wat 'n moderne voortsetting van die Ou Kerkslawies sou wees. Later het die doelstelling geleidelik verander en het hulle bloot probeer om (dikwels met Esperanto as voorbeeld) 'n taal vir die onderlinge kommunikasie tussen verskillende Slawiese volke te skep. Na die Tweede Wêreldoorlog het hierdie idee op die agtergrond verdwyn, maar aan die begin van die 21ste eeu het dit danksy die koms van die internet 'n nuwe impuls gekry.
Die hedendaagse Interslawies is in 2006 onder die naam Slovianski begin deur 'n groep mense uit verskillende lande. Hulle het 'n eenvoudige en naturalistiese taal beoog wat die Slawiërs kan verstaan sonder dat hulle dit geleer het, en wat slegs bestaan uit materiaal wat in alle of die meeste Slawiese tale voorkom, sonder kunsmatige toevoegings. In 2012 het Slovianski etlike honderde sprekers gehad.[4]
In 2010 het die Tsjeggiese informatikus Vojtěch Merunka 'n ander Pan-Slawiese taalprojek publiseer, genaamd Novoslovienskij ("Nieuslawies").[5] Anders as Slovianski, was dit nie baseer op die moderne Slawiese tale nie, maar was dit 'n poging om Ou Kerkslawies te vereenvoudig en by die moderne tyd aan te pas. Vanaf 2011 het albei projekte nou saamgewerk onder die gemeenskaplike naam Interslawies, 'n naam wat in 1908 vir die eerste keer deur die Tsjeg Ignác Hošek voorgestel is.[6] In 2017 het hulle uiteindelik saamgesmelt in een enkele standaardtaal.
Interslawies speel ook 'n rol in die Tsjeggiese regisseur Václav Marhoul se rolprent The Painted Bird, wat tydens die Venesiaanse filmfees van 2019 vrygestel is.[7][8] Hierdie rolprent, 'n swart-wit verfilming van Jerzy Kosinski se roman Die geverfde voël, beskryf die ervarings van 'n (waarskynlik joodse) seuntjie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog rondval op 'n platteland iewers in Oos-Europa en wegkruip onder wrede kleinboere. Hierin is Interslawies die taal van die plattelandse inwoners. Marhoul was op soek na 'n "Slawiese Esperanto" om nie 'n spesifieke Slawiese volk te identifiseer met die gruweldade wat in die film afspeel nie.[9][10]
Veral sedert die première van die film het die gebruikersgemeenskap van Interslawies vinnig gegroei. Tans het die hoofgroep op Facebook meer as 15.000 gebruikers en belangstellendes.[11]
'n Belangrike beginsel van Interslawies is dat elke Slaaf die taal maklik op sy eie sleutelbord kan skryf.[12] Daarom kan dit met die Latynse sowel as die Cyrilliese alfabet geskryf word. Die Latynse alfabet bestaan uit 30 letters, insluitend drie digrawe (dž, lj, nj) en vier letters met 'n omgekeerde kappie (š, ž, č, ě). Die Cyrilliese alfabet bevat letters uit Serwies en Masedonies (ј, љ, њ), Russies en Belarussies (ы) en Oekraïens (є). Alternatiewe spellings word voorgestel vir letters wat nie op alle Slawiese sleutelborde voorkom nie.
- Latyns | A | B | C | Č | D | DŽ | E | Ě | F | G | H | I | J | K | L | LJ | M | N | NJ | O | P | R | S | Š | T | U | V | Y | Z | Ž |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Cyrillies | А | Б | Ц | Ч | Д | ДЖ | Е | Є | Ф | Г | Х | И | Ј | К | Л | Љ | М | Н | Њ | О | П | Р | С | Ш | Т | У | В | Ы | З | Ж |
Uitspraak (IFA) | ɑ a |
b | t͡s | t͡ʃ t͡ʂ |
d | d͡ʒ d͡ʐ |
ɛ e |
jɛ | f | g ɦ |
x | i ɪ |
j | k | l ɫ |
lʲ ʎ |
m | n | nʲ ɲ |
o ɔ |
p | r | s | ʃ ʂ |
t | u | v ʋ |
ɪ ɨ |
z | ʐ ʒ |
Afgesien van die basiese alfabet hierbo, kan in die Latynse alfabet ook 'n reeks addisionele letters gebruik word. Hulle verskil van die standaardortografie deur 'n diakritiese teken toe te voeg en is bedoel om bykomende etimologiese inligting oor te dra en Interslawies direk aan Ou Kerkslawies te koppel.
Opsionele tekens | Å | Ć | D́ | Đ | Ė | Ę | Ĺ | Ń | Ȯ | Ŕ | Ś | T́ | Ų | Ź |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Uitspraak (IFA) | ɒ | t͡ɕ | dʲ ɟ |
d͡ʑ | ɛ ǝ |
jæ | lʲ ʎ |
nʲ ɲ |
ə ʌ |
rʲ r̝ |
sʲ ɕ |
tʲ c |
o ʊ |
zʲ ʑ |
Interslawies het, net soos die ander Slawiese tale, drie geslagte (manlik, vroulik, onsydig). Selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde, voornaamwoorde en telwoorde word verbuig in sewe naamvalle (nominatief, genitief, datief, akkusatief, instrumentalis, lokatief, vokatief) in enkelvoud en meervoud. Daar bestaan rofweg vier deklinasies. Daar is geen lidwoorde in Interslawies nie. Werkwoorde word vervoeg volgens tyd (teenwoordige tyd, verlede tyd, toekomende tyd), persoon, wyse en getal. Daarnaas beskik werkwoorde oor die kategorie aspek, waarmee die voltooidheid of onvoltooidheid van 'n handeling uitgedruk word.
Dit is kenmerke wat gewoonlik in internasionale hulptale angsvallig vermy word. Nogtans is 'n hoë mate van vereenvoudiging bereik deur onreëlmatigheid tot 'n minimum te beperk.
Hier volg die Onse Vader in Interslawies:
Latynse alfabet | Cyrilliese alfabet | Vertaling |
---|---|---|
Otče naš, ktory jesi v nebesah, |
Отче наш, кторы јеси в небесах, |
Onse Vader wat in die hemele is, |
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Interslawies. |