Die Islamitiese mitologie is die versameling tradisionele vertellings wat met die Islam verbind word uit ’n mitografiese oogpunt.
Baie gebeure en helde in die Bybel is ook in die Islamitiese mitologie opgeneem. Verhale oor Moesa (Moses)[1] en Ibrahim (Abraham)[2] vorm deel van Islamitiese geskrifte. Die Koran vertel in besonderhede die storie van Joesoef (Josef), wat aan ’n Egiptenaar verkoop is,[3] en van Marjam (Maria), die moeder van Isa (Jesus).[4] In albei gevalle voeg dit besonderhede en ’n Islamitiese vertolking by: Jesus praat volgens die Islam byvoorbeeld as ’n baba,[5] en hy is ’n profeet, nie die Seun van Allah (God) nie.[6]
Volgens die Koran was die hemele en die aarde aan mekaar vas as een skepping, waarna hulle "weer oopgemaak" is.[7] Daarna was dit ’n "soort wasem".[8] In sommige dele van die Koran word gesê die skepping het ses dae geneem;[9] in ander dele word besonderhede oor die skepping gegee: twee dae vir die aarde,[10] twee dae vir die berge en nog twee dae vir die voedingsmiddele,[11][12] en toe nog twee dae vir die sewe hemele en die sterre.[13] Die Afrikaanse Koran gebruik hier die woord "tydperke", nie "dae" nie
Volgens die Koran het God die wêreld en die heelal geskape, en "uit water alles gemaak wat lewendig is".[14] Hy het die engele asook die son, maan en sterre gskape. Hy het reën afgestuur en die grond opgebreek om die graan, druiwe en ander plante voort te bring: dadelpalms en graan, olywe en granate.
God het daarna die mens uit klei gemaak; dit was Adam. Hy het al die engele en die djin Iblis opdrag gegee om voor Adam neer te kniel. Die engele het dit gedoen, maar Iblis het geweier. Daarvoor is hy uit die Paradys gestuur.
God het Adam en Eva in ’n Paradys laat woon. Hulle mag van alles in die Paradys geëet het, behalwe die vrugte van ’n verbode boom. Iblis het hulle in die versoeking gelei om van die vrugte te eet. God het hulle toe uit die Paradys gestuur. Moslemse geleerdes verskil of dié Paradys die een in die hemel is wat op die Oordeelsdag aan alle gelowiges gegee sal word, en of dit ’n paradys op aarde is.
Volgens Islamitiese tradisie het God aan Adam opdrag gegee om ’n gebou op te rig wat die aardse weergawe van die hemelse Huis sou wees. Dit is die vierkantige gebou wat die Kaäba genoem word, die heiligste plek in die Islam. Die Kaäba is in die vloed van Nuh (Noag) verwoes.[15] Later het Ibrahim en Ismail (Ismael) opdrag van God gekry om die Kaäba op sy ou fondament te herbou.[16][17] Terwyl Ismail ’n klip gesoek het om ’n hoek mee te merk, het hy die engel Jibrail (Gabriël) teengekom. Dié het vir hom die Swart Steen gegee. Volgens hadit was die steen wit nadat dit uit die hemel geval het, maar dit het later swart geword weens die sondes van die mense wat daaraan geraak het.
Ná Ibrahim se dood het die mense die Kaäba met afgode gevul. Toe Mohammed Mekka verower, het hy van die afgode ontslae geraak en die Kaäba weer aan God gewy.[18] Dit is nou ’n belangrike plek in bedevaarte wat elke Moslem wat daartoe in staat is, minstens een keer in sy of haar lewe moet besoek. Moslems bid ook vyf keer per dag terwyl hulle in die rigting van die Kaäbla (genoem die kiebla) draai.[19]