Jalapeño | |
---|---|
Jalapeño's aan die boom wat nog nie ryp is nie.
| |
Spesie | Capsicum annuum |
Kultivar | Jalapeño |
Oorsprong | Mexiko |
Scovilleskaal | 4 000 tot 8 500 |
Brandgraad | Medium |
'n Jalapeño is 'n mediumgroot rissiekultivar van die spesie Capsicum annuum.[1] 'n Ryp jalapeñorissie is 5-10 cm lank en 25-38 mm breed. Dit kan 'n variasie van brandgrade hê, met brandeenhede van 4 000 tot 8 500.[2] op die Scoville-skaal.
Dit word meestal gepluk terwyl dit nog groen is, maar soms word jalapeño's aan die boom gelos om ten volle ryp te word. Dan word hulle rooi, oranje of geel. Jalapeño's brand gewoonlik minder as die soortgelyke serranorissie.[3]
Die naam "jalapeño" is Spaans vir "van Xalapa", die hoofstad van Veracruz, Mexiko, waar die rissie tradisioneel gekweek is.[4] Die naam Xalapa self kom uit Nahuatl en is gevorm van die wortels xālli (IFA: ˈʃaːlːi, "sand") en āpan (ˈaːpan, "waterplek").
Die Asteke het jalapeño's voor die Spaanse verowering reeds gebruik. Bernardino de Sahagún skryf in die Florentynse Kodeks van Asteekse markte wat gerookte jalapeño's en vars rissies verkoop.[5] Die gebruik van rissies in die Amerikas dateer van duisende jare gelede, onder meer die praktyk om sommige variëteite van rissies te berook om hulle te preserveer.[6]
In 1999 is jalapeno's op rofweg 43 000 hektaar grond in Mexiko verbou; teen 2011 het dit verminder tot omtrent 41 000 hektaar. Jalapeños maak 30% uit van Mexiko se rissievervaardiging. Hoewel die totale gebied wat vir verbouing gebruik word afgeneem het, het die volume wat vervaardig word met 1,5% toegeneem danksy doeltreffende besproeiing en die gebruik van kweekhuise en beter tegnieke, toerusting en kennis. In 2009 is altesaam 619 000 ton jalapeño's vervaardig.[7]
In Noord-Amerika verbou Kalifornië die meeste jalapeño's, gevolg deur Nieu-Mexiko en Texas: 'n totaal van 209 800 ton in 2014.[8][9]
Ook China, Peru, Spanje en Indië verbou rissies, onder meer jalapeño's, kommersieel.[10]
{{cite news}}
: |author=
has generic name (hulp)