Jigme Khesar Namgyel Wangchuck འཇིགས་མེད་གེ་སར་རྣམ་རྒྱལ་དབང་ཕྱུག | ||
Koning van Bhoetan | ||
Bewind | 9 Desember 2006 – tans | |
Voorganger | Jigme Singye Wangchuck | |
Erfgenaam | Prins Jigme Namgyel Wangchuck | |
Gade | Jetsun Pema | |
Kinders | Jigme Namgyel Wangchuck[1] | |
Koningshuis | Wangchuck | |
Gebore | 21 Februarie 1980 Kathmandu, Nepal[2] | |
Vader | Jigme Singye Wangchuck | |
Moeder | Tshering Yangdon |
Jigme Khesar Namgyel Wangchuck (འཇིགས་མེད་གེ་སར་རྣམ་རྒྱལ་དབང་ཕྱུག་, Wylie: jigs med ge sar rnam rgyal dbang phyug;[3] gebore 21 Februarie 1980) is die huidige koning van Bhoetan. Nadat sy pa, Jigme Singye Wangchuck, geabdikeer het, het hy op 9 Desember 2006 die troon bestyg. Hy is op 6 November 2008 gekroon – ’n veelbelowende jaar aangesien dit die 100ste bewindsjaar van die Huis van Wangchuck was.[4]
Khesar is die oudste seun van die vierde Druk Gyalpo[5] en sy derde vrou, koningin Ashi Tshering Yangdon.[6] Hy het ’n jonger suster, prinses Ashi Dechen Yangzom, en broer, prins Gyaltshab Jigme Dorji, asook vier halfsusters en drie halfbroers.[7]
Ná die voltooiing van sy sekondêreskoolloopbaan aan die Yangchenphug-hoërskool in Bhoetan het Khesar in Amerika studeer en daarna aan Magdalen-kollege aan die Universiteit van Oxford afstudeer.[8]
As kroonprins was hy gewild en het hy sy pa op baie toere vergesel. Op 8 Mei 2002 het hy Bhoetan by die 27ste Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies verteenwoordig en sy eerste toespraak voor die VN gehou.[9] In 2006, tydens ’n besoek aan Thailand, het hy ’n sensasie veroorsaak en ’n horde vroulike aanhangers in dié land gekry.
In Desember 2005 het koning Jigme Singye Wangchuck aangekondig hy gaan abdikeer en onmiddellik verantwoordelikheid aan sy seun begin oordra.[10] Hy het sy abdikasie amptelik op 9 Desember 2006 aangekondig.[11] Khesar is op 6 November 2008 gekroon. Godsdienstige en openbare feesvierings is gehou en die antieke, kleurryke kroningseremonie in Thimphu is deur duisende buitelandse ampsdraers bygewoon.[12][13]
Op 20 Mei 2011 het Khesar sy verlowing aan Jetsun Pema aangekondig. Hulle is op 13 Oktober van dié jaar getroud[14][15] en hul eersteling is op 5 Februarie 2016 gebore. Hulle het sy geboorte op Facebook aangekondig.[16][17]
Die jong koning het sy bewind begin deur sy land na demokrasie te lei. Volgens hom is dit die huidige geslag Bhoetanese se verantwoordelikheid om die sukses van demokrasie te verseker. Hy het die regering versterk in voorbereiding vir die demokratiese veranderinge van 2008. Die eerste verkose parlement het die land se grondwet op 18 Julie 2008 aanvaar.
Net die vorige jaar het hy ’n nuwe vriendskapsverdrag met Indië gesluit wat die ou verdrag van 1949 vervang het.[18]
Hy het in Maart 2009 ’n veldtog geloods om lank bestaande grondkwessies op te los[19] en so onder meer die lewe van mense in afgeleë gebiede verbeter.[20] Die koning lê klem op opvoeding en besoek dikwels skole om daaroor te praat. Verskeie beurse om oorsee te studeer is ingestel.
Die jong koning het nog geen humanitêre of politieke standpunt ingeneem oor die Bhoetanese burgers van Nepalese herkoms wat sy pa se regering uit die land verban het om Bhoetan se "unieke nasionale identiteit" te behou nie.[21][22][23][24][25] Dit het na bewering die meeste vlugtelinge per capita in die 1990's tot gevolg gehad.[23] Sowat 108 000 van dié staatlose Bhoetanese bly nog in sewe vlugtelingkampe in Nepal, hoewel baie in Westerse lande hervestig is.[26][27][28]
{{cite news}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)