Johann Gottfried Schadow | |
---|---|
Litograaf (1830) van Johann Gottfried Schadow | |
Gebore | 20 Mei 1764 |
Sterf | 27 Januarie 1850 |
Nasionaliteit | Pruisies |
Beroep | Beeldhouer |
Bekend vir | Strydwa bo-op die Brandenburgse Poort in Berlyn |
Johann Gottfried Schadow (20 Mei 1764 – 27 Januarie 1850) was 'n Pruisiese beeldhouer.
Sy merkwaardigste werk is die strydwa bo-op die Brandenburgse Poort in Berlyn.
Schadow is gebore in Berlyn. Sy vader was 'n kleremaker.
Hy is opgelei as beeldhouer onder Jean-Pierre-Antoine Tassaert,[1] vir wie Frederik die Grote 'n beskermheer was. Taessert wou gehad het dat Schadow met sy dogter moes trou. maar die jong leerling het verkies om saam met 'n Joodse meisie, Marianne Devidel, na Rome[1] uit te wyk, en Taessert het nie slegs die oortreding goedgekeur nie, maar selfs geld verskaf vir hul verblyf in Italië.[2] Nadat Schadow met Devidel in Rome getroud is, het hy ook die beeldhouersprys van die Accademia di San Luca in 1786 gewen.[1] Nadat hy beïnvloed is deur die beeldhouer Antonio Canova tydens sy verblyf in Rome, het hy in 1788 na Berlyn teruggekeer om Tassaert op te volg as beeldhouer[1] aan die hof en as sekretaris van die Pruisiese Kunsakademie en Roral Porseleinfabriek. Met sy terugkeer was sy eerste werk die graf van die seun van die Pruisiese koning Frederik Willem II, Aleksander von der Mark.[1] In die tydperk van 'n halfeeu het hy meer as tweehonderd werke vervaardig, wat verskil het in beide styl en onderwerp.
Van sy mees ambisieuse pogings is die standbeelde van Frederik die Grote in Stettin, Blücher in Rostock en Luther in Wittenberg. Sy portretstandbeelde van Frederik die Grote met die honde, en die monument van Louise en haar suster Frederika, was baie gewild.[1] Laasgenoemde werk is verskeie keer onwettig gekopieer, wat gelei het tot 'n tydelike dispuut met sy gipsmodelbouer Beyer in September 1795.[1] Sy borsbeelde, waarvan daar meer as honderd is, sluit in sewentien kolossale koppe in die Walhalla-tempel in Ratisbon; Goethe, Wieland, en Fichte is uit die lewe gemodelleer.
Dertig kerkmonumente en gedenkwerke word aan hom toegeskryf; maar tog word Schadow nie gereken as een van die belangrikste Christelike beeldhouers nie. Hy is hoog gereken deur klassici en idealiste: die quadriga ('n strydwa met vier perde) op die Brandenburgse Poort en die allegoriese fries op die fasade van die Koninklike Munt, beide in Berlyn, word beskou as van die beste studies uit die antieke wêreld. Schadow het as direkteur van die Berlynse Akademie 'n groot invloed uitgeoefen. Hy het geskryf oor die proporsies van die menslike figuur, oor nasionale fisionomie, ens.; en baie volumes deur homself en andere beskryf en illustreer sy werksmetodes.
Sy belangstelling in fisionomie word gedokumenteer deur die tekening wat hy gemaak het van Harry Maitey, die eerste Hawaiiaan in Pruise.
Vandag word van sy beeldhouwerke en borsbeelde in die Friedrichswerdersche Kirche en die Alte Nationalgalerie in Berlyn vertoon.
Schadow het 'n vriendskap met Goethe aangeknoop toe Goethe se seun vir Schadow in Weimar besoek het, en het 12 bronsmedaljes van Goethe geskep. Een van die medaljes is tans in die besit van die Britse Museum.[3]
Hy is in 1850 in Berlyn oorlede. Sy seuns Rudolph en Friedrich Wilhelm was onderskeidelik bekend as beeldhouer en skilder. Hy was die grootvader van admiraal Felix von Bendemann van die Kaiserliche Marine (Duitse Keiserlike Vloot).[4]
Hy was die oom van die beeldhouer Emil Wolff.