Engelse digter
Gebore
13 Julie 1793
in Helpston, Soke of Peterborough,
Northamptonshire, Engeland
Oorlede
20 Mei 1864
in Northampton, Engeland
Literêre stroming
Romantiek, landelike digkuns
Bekende werke
Poems Descriptive of Rural Life and Scenery
John Clare (* 13 Julie 1793, † 20 Mei 1864) was 'n Engelse digter en seun van 'n plaaswerker wat bekendheid verwerf het met sy lofdigte aan die natuur van die Engelse platteland en die versteuring wat daaraan gedurende die nywerheidsomwenteling gedoen is. Sy digkuns is in die laat 20ste eeu herwaardeer sodat Clare tans dikwels as een van die belangrikste 19de eeuse digters beskou word - en as een van min Engelse digters wat op die landelike lewe gefokus het.
Sy biograaf Jonathan Bate merk op dat Clare "die grootste werkersklasdigter [was] wat Engeland ooit opgelewer het. Niemand het ooit met kragtiger woorde oor natuur, oor kinderjare op die platteland, en die ontvreemde en onstabiele self geskryf nie."
John Clare is as seun van eenvoudige ouers in Helpston, 'n dorp ses myl noord van Peterborough in Northamptonshire, gebore. Sy tweelingsuster Bessy is nog in haar kinderjare oorlede. Clare het sy skoolloopbaan reeds op twaalfjarige ouderdom beëindig om as plaaswerker tot die familie-inkomste by te dra, maar naas sy formele opleiding was dit veral die natuur van die platteland wat sy dors na kennis geles en van hom 'n selfopgeleide digter gemaak het.
Clare het in 'n tyd van groot maatskaplike veranderinge geleef wat hy fyn dopgehou het. Die landboukundige omwenteling, waartydens weivelde in akkergrond omgeskep, bome en groen heinings verwyder, moerasse drooggelê en dorpsvelde deur die sogenaamde enclosures in privaat weivelde omgeskep is, het die lewens van plattelandbewoners ingrypend geraak en die doodsklok gelui vir eeue oue leefstyle en tradisies. Groot getalle plaaswerkers is deur die hebsug van grondeienaars en boere, wat lone laag gehou, maar pryse verhoog het, in armoede gedompel en genoodsaak om saam met hul kinders 'n heenkome in nuut gestigte fabrieke te vind. Vir Clare was hierdie veranderinge, waarvan hy in sy gedigte en prosa noukeurig rekord gehou het, troumaties.
Clare het ná sy skooltyd in Glinton en 'n kort loopbaan as plaaswerker werk as kroegbediende in die Blue Bell-drinkplek gevind waar hy op 'n jong dame, Mary Joyce, verlief geraak het. Haar pa, 'n welgestelde boer, het hulle verhouding egter verbied. Clare was vervolgens vanaf 1807 as tuinier by die Burghley House-herewoning werksaam, het in 1812 by die Nottinghamshire-burgermag aangesluit, 'n tyd lank in 'n Roma-kamp gebly en in 1817 in Great Casterton en Pickworth in Rutland as kalkbrander gewerk. Hier het hy kennis gemaak met sy latere vrou, Martha "Patty" Turner. Maar in die volgende jaar was hy op die armesorg van sy parogie aangewese.
Reeds in die ouderdom van elf het John Clare met digkuns in aanraking gekom nadat sy oom vir hom 'n uitgawe van Pomfret se gedigte geskenk het. Danksy dié werk, wat deur sy pa voorgelees is, het hy 'n liefde vir poësie ontwikkel. Later het Clare 'n uitgawe van die Skotse digter James Thomson (1700-1748) se gedigbundel The Seasons gelees en uiteindelik gekoop. Die bundel het Clare gemotiveer om sy eie gedigte en sonnette te skryf, en so het in 1806 The Morning Walk ontstaan.
Clare se ouers is later gedreig om weens agterstallige paaiemente uit hul huis gesit te word. In 'n poging om geld met sy digkuns te verdien, het hy Edward Drury, 'n boekhandelaar te Stamford, en Octavius Gilchrist, 'n plaaslike redakteur, genader. Drury het Clare se gedigte aan sy John Taylor gestuur. Sy uitgewery, Taylor & Hessey, het onder meer werke van John Keats gepubliseer. In 1820 het Clarke se eerste gedigte as Poems Descriptive of Rural Life and Scenery verskyn en lof van kritici ingeoes. Die eerste uitgawe van 1 000 eksemplare is gou uitverkoop sodat drie verdere uitgawes gedruk moes word. In dieselfde jaar het hy met Martha Turner getrou. In 1821 is sy Village Minstrel and other Poems gepubliseer.
Clare se finansiële situasie het in dié tyd verbeter. Graaf Spencer het vanaf 1819 'n vaste lyfrente van £10 aan hom betaal, die markies van Exeter, eienaar van Burghley House, het vanaf die volgende jaar 'n soortgelyke lewensannuïteit van 15 ghienies aan hom uitgereik. Clare het nou oor meer geld beskik as wat hy ooit in sy lewe verdien het.
In 1823 het Clare weer in finansiële moeilikhede beland. Werke soos The Shepherd's Calendar, wat in 1827 gepubliseer en deur die digter self bemark is, het minder aandag by die leserspubliek ontvang. Clare het weer as plaaswerker begin werk, maar kort daarna ernstig siek geword. Graaf FitzWilliam het 'n nuwe plaashuis en 'n stuk grond aan die gesin geskenk wat Clare vanweë sy swak gesondheidstoestand egter nie kon bewerk nie.
Clare het al lank in 'n spanningsveld tussen twee wêrelde verkeer - literêre Londen en sy dikwels ongeletterde bure, sy kreatiewe drang om gedigte te skryf en die noodsaaklikheid van 'n gereelde inkomste waarmee hy in die behoeftes van sy gesin kon voorsien. Hy was nie net liggaamlik siek nie, maar het ook in 'n diep depressie verval wat erger geword het ná die geboorte van sy sesde kind in 1830, terwyl sy digbundels maar swak verkoop het. In 1832 het Clare se vriende en Londense beskermhere saamgespan om die Clare-gesin in 'n nuwe en groter plaashuis op 'n kleinhoewe in Northborough, 'n dorp naby Helpston, te vestig. Clare het egter steeds meer vervreemd geraak.