John Dow Fisher Gilchrist | |
Gebore | 1866 Anstruther, Fife, Skotland |
---|---|
Oorlede | 1926 (59-60 jaar oud) St James, Wes-Kaap, Suid-Afrika |
Burgerskap | Skots |
Vakgebied | Igtioloog |
Alma mater | Universiteit van St Andrews, Skotland Universiteit van Edinburgh Universiteit van München Universiteit van Zurich Jena Universiteit |
Bekend vir | Gilchrist se ronde haring |
John Dow Fisher Gilchrist FRSSAf (1866-1926) was 'n Skotse igtioloog, wat igtilogie as 'n wetenskaplike dissipline in Suid-Afrika gevestig het. Hy was instrumenteel in die ontwikkeling van mariene biologie in Suid-Afrika en die ontstaan van 'n wetenskaplik-gebaseerde plaaslike visvangbedryf.
Gilchrist is in 1866 gebore in Anstruther, Fife, Skotland.[1][2] Sy vroeë opleiding was aan Madras College, St Andrews, Skotland. Hy het aan die Universiteit van St Andrews en die Universiteit van Edinburgh studeer, en 'n Baccalaureus scientiae (BS) en 'n Magister artium (MA) verwerf.[3] Hy is 'n beurs vir gevorderde studies en navorsing aan die Tentoonstelling van 1851 toegeken. Dit het hom in staat gestel het om voeding in mariene visse te studeer. Na verdere studies aan die Ludwig Maximilian Universiteit van München en die Universiteit van Zurich het hy sy PhD in geologie aan Jena Universiteit in 1894 verwerf.[2]
Hy het mariene biologie studeer in Napels, Monaco en die Isle of Man waarna hy lesings in dierkunde aan die Universiteit van Edinburgh aangebied het.[2] Gedurende hierdie tyd het hy Monismus as Band Zwischen Religion und Wissenschaft , deur Ernst Haeckel, in Engels vertaal in twee afsonderlike titels, Monism as Connecting Religion and Science (Afrikaans: Monisme as aansluitende godsdiens en wetenskap)[4] (1894) en Confessions of faith of a man of science (Afrikaans: Geloofsbelydenis van 'n man van die wetenskap)[5] (1903).
Gilchrist is in Desember 1895 aangestel as Mariene Bioloog in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye van die Kaapprovinsie in Suid-Afrika en het vroeg in 1896 in die pos begin werk. Hy was aangestel as Professor en Direkteur van Visserye en Mariene Biologiese opname van Suid-Afrika[6] en in 1897 het hy 'n mariene biologiese opname begin met die boot "Pieter Faure" wat gelei het tot die ontdekking van nuwe reserwes van stokvis naby Dasseneiland en tongvis naby Mosselbaai. Die opname is in 1901 uitgebrei na die Natalse kus, maar geen nuwe treilvisserygronde is gevind nie.[2][7]
'n Biologiese laboratorium vir mariene navorsing wat fokus op mariene diere, seetemperatuur en saliniteit as 'n manier om seestrome te bestudeer, is in 1902 in St. James op versoek van Gilchrist gebou.[2] William Wardlaw Thompson was sy assistent vir die meeste van Gilchrist se ampstermyn[8].Gilchrist en Thompson, as mede-outeur, het baie belangrike referate saam geskryf, insluitend The Freshwater Fishes of South Africa (Afrikaans: Varswater Visse van Suid-Afrika) en A catalogue of the sea fishes recorded from Natal (Afrikaans: 'n Katalogus van die seevisse wat uit Natal aangeteken is).[9]
Die monsters wat tydens die mariene opnames versamel is, het gelei tot die ontdekking van honderde nuwe spesies en verskeie nuwe genusse van mariene organismes, insluitende baie wat nog nie in Suid-Afrikaanse waters waargeneem was nie. Gilchrist het baie van die nuwe spesies self beskryf, terwyl ander na oorsese spesialiste gestuur is, soos George Albert Boulenger, George Brettingham Sowerby III, Thomas Roscoe Rede Stebbing, Sydney J. Hickson en John Stanley Gardiner. Beskrywings van die spesies is in die ses volumes van Marine investigations in South Africa (Afrikaans: Mariene ondersoeke in Suid-Afrika )(1902-1910), die eerste mariene wetenskapsjoernaal in Suider-Afrika gepubliseer. Gilchrist het die joernaal geredigeer en het baie referate daaraan bygedra.[2][10]
Gilchrist was 'n eksaminator vir die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop in plantkunde (1902-1903) en dierkunde (1903, 1912-1916). Hy is in 1905 deur die Universiteit van Edinburgh 'n DS toegeken en is aangestel as toesighouer van mariene studies by die Suid-Afrikaanse Kollege. In 1907 is hy aangestel as professor in dierkunde aan die Suid-Afrikaanse Kollege, en het Arthur Dendy vervang. Sy onderwysassistent was J. Stuart Thompson. Hy was professor in dierkunde tot kort voor sy dood in 1926.[2]
In 1907 is die pos van Staatsbioloog afgeskaf, maar Gilchrist het steeds 'n belangrike rol gespeel in die Departement van Landbou se mariene opnames as voorsitter van die Raad op Vissery. In 1908 het hy 'n nuwe soort Hemichordata beskryf. Na 1910 was hy as direkteur van die Fisheries Survey of the Union of South Africa (Afrikaans: Vissery Opname van die Unie van Suid-Afrika) aangestel. As visseryadviseur van die Kaapse Provinsiale Administrasie het hy vier Mariene Biologiese Verslae saamgestel wat die bedrywighede gedurende die jare 1912 tot 1917 gedek het.[2][7]
Gilchrist het sy posisie in Desember 1910 bedank, toe 'n voltydse kurator van mariene versamelings onder die Unie van Suid-Afrika aangestel is. Saam met sy assistent, W.W. Thompson, het Gilchrist 'n omvattende Catalogue of the sea fishes recorded from Natal (Afrikaans: Katalogus van die seevisse uit Natal) in die Annale van die Durbanse Museum gepubliseer.[11] In 1918 het hy 'n nuwe genus van kruipende medusa beskryf sowel as 'n ondersoek na trematode parasiete.[2]
In 1920 het Gilchrist maritieme ekspedisies in 'n omgeskakelde walvisjagboot, die Pickle gelei. Die ekspedisies het so ver as Laurenço Marques in die ooste en Walvisbaai na die noorde gegaan. Onder ander ontdekkings was nuwe treilingsgrond vir stokvis noordwes van Kaapstad. Hierdie ontdekkings is gedek deur die verslae van die Vissery en Mariene Biologiese Opname vir die jare 1920 tot 1925, uitgereik deur Gilchrist.[7] In 1925 het hy 'n nuwe enteropneust (akker wurm) ontdek.[2]
Hy is die erkende gesag vir baie genera en spesies vis, soos Paralichthodes algoensis, die Masels-botvis.[12] Sy standaard afkorting onder die Internasionale Kode van Dierkundige Nomenklatuur is Gilchrist.
Die genus Gilchristella, 'n lid van die Clupeidae (haring) familie, is in 1935 tot sy ere genoem.[1]
Gilchrist was beskeie en gewild, hoewel hy die reputasie gehad het om 'n afwesige professor te wees. Hy het getroud met Elfreda R. Raubenheimer en hulle het een seun en een dogter gehad.[3] Hy moes in 1926 weens sy swak gesondheid aftree. Hy het Europa besoek in 'n poging om sy gesondheid te herstel en het in Julie 1926 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy is dood in die mariene laboratorium by St James, Kaapstad op 22 Oktober 1926.[1][2]
Gilchrist was van 1898 tot 1908 lid van die Meteorologiese Kommissie van die Kaap die Goeie Hoop. In 1896 het hy by die Suid-Afrikaanse Filosofiese Genootskap aangesluit (voorganger van die Royal Society of South Africa) en gedien as sy president, vise-president en tesourier op verskillende tye. In 1908, toe die Royal Society of South Africa gestig is, is Gilchrist as grondslaggenoot verkies en het gedien op sy raad (1908-1910) en as president ( 1918-1922).[2]
In 1902 was hy 'n stigterslid van die Southern Africa Association for the Advancement of Science (Afrikaans: Suider-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap). In 1916 word hy 'n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Biologiese Vereniging. Hy was 'n lid van die Zoological Society of London, 'n mede-lid van die Linnean Society of London, en 'n erelid van die Societe Centrale d'Aquiculture of Paris.[2]
Gilchrist het verskeie wetenskaplike referate bygedra tot, onder andere, die volgende joernale:
In 1905 was hy gesamentlike redakteur met W. Flint van die tydskrif Science in South Africa. Hy en Cecil von Bonde het Dissection of the platana and the frog (Afrikaans: Disseksie van die platana en die padda) (Kaapstad, 1919) en Practical zoology for medical and junior students (Afrikaans: Praktiese dierkunde vir mediese- en junior studente) (Edinburgh 1922) geskryf.[2]
Ander noemenswaardige publikasies:
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)