Joris van Spilbergen (*Antwerpen, gedoop 2 November 1568 - †Bergen op Zoom, voor 15 Januarie 1620) was ‘n Nederlandse seevaarder en ontdekkingsreisiger wat die Kaap die Goeie Hoop in 1601 besoek het.
In 1598 is Van Spilbergen betrokke by die verowering van die eiland Príncipe. Twee jaar later is hy op ‘n verkenningsreis na Brasilië. Op 5 Mei 1601 vertrek as hy as die admiraal van ‘n vloot bestaande uit die skepe Ram, Schaap en Lam na Indië, Ceylon, Atjeh, Sumatra en omgewing. In 1604 is hy terug in Nederland en publiseer sy Historiael journael. Onder Jacob van Heemskerk neem hy in 1607 met die skip Aeolus deel aan die Slag by Gibraltar teen die Spaanse vloot. In 1614 vaar hy as admiraal van ‘n vloot van vyf skepe vir die VOC rondom die wêreld. Hy vaar deur die Straat van Magellaan en besoek o.a. Chili, Peru, Filippyne, Ternate, Bantam, Java en Malakka. Terug in Nederland publiseer hy sy reisjoernale en landkaarte. Die bekendste daarvan is Oost ende West-Indische spiegel der nieuwe navigatie, waarin vertoond wordt de eerste reize gedaan door Joris van Spilbergen, admiraal van deze vloot; in wat manier hij de wereld omgezeild heeft. Dit is in 1619 gepubliseer en daarna vertaal in Latyn, Frans, Duits en Engels.
Toe Van Spilbergen in 1601 op pad is na Java en Sumatra kom hy aan die Weskus van die suidelike deel van Afrika verby ‘n baai wat hy aansien vir die baai wat in 1503 deur António de Saldanha besoek is. Hy noem dit derhale Saldanhabaai. Ook sien hy in die baai ‘n aantal klein eilande, nl. Schaapeneiland, Malgaseiland, Meeuweneiland, Markus, Jutteneiland en Vondeling, bevolk deur robbe en voëls. Effens verder op die reis land hy en sy matrose op Ilha Branca, die Wit Eiland. Hy noem dit Eilzabeth-eiland, en teenswoordig bekend as Dasseneiland. Op daardie eiland tref hy ‘n graf aan van ‘n Deense kaptein wat daar gesterf het toe sy skip in ‘n storm daar moes skuil. Op 3 Desember is hy in die baai aan die voet van Tafelberg en noem die baai Tafelbaai. Die eiland in die baai, vandag bekend as Robbeneiland, vernoem hy na sy moeder Cornelia. Van Spilbergen se vloot het soos baie ander voor hom ‘n groot aantal skeurbuikpasiënte aan boord gehad. Aan wal is enkele tente opgeslaan waarin die siekes verpleeg kon word en grondwalle aangelê as beskerming teen eventuele aanvalle deur die Strandlopers. In die weke aan die Kaap kom sy matrose af op die Soutrivier en Van Spilbergen noem dit die Jacquelinerivier. Jan van Riebeeck het blykbaar oor ‘n kopie van Van Spilbergen se ‘’Historiael journael” beskik wat geraadpleeg is te voorbereiding van ‘n verkenningstog in November 1652 na St. Helenabaai, Saldanhabaai, die eilande aan die weskus en omgewing.