Joshua Bell | |
---|---|
Bell na 'n uitvoering met die San Francisco Simfonieorkes, 2010 | |
Agtergrondinligting | |
Gebore | 9 Desember 1967 Bloomington, Indiana, VSA |
Genres | Klassiek |
Beroep(e) | Violis en dirigent |
Instrumente | Viool |
Jare aktief | 1980s–teenswoordig |
Webwerf | joshuabell.com/ |
Joshua David Bell (* 9 Desember 1967 – ) is 'n Amerikaanse violis en dirigent. Sy instrument is die Gibson Stradivarius-viool.
Bell het in 1985 op sewentienjarige ouderdom sy buiging by Carnegie Hall saam met die St. Louis Simfonieorkes gemaak. Hy het sedertdien saam met verskeie van die wêreld se voorste orkeste en dirigente opgetree. Bell het bykomend tot die standaard-concerto repertoire ook nuwe werke uitgevoer. Nicholas Maw se vioolconcerto is aan Bell gewy, wat in 1993 die eerste uitvoering daarvan gelewer het en 'n Grammy vir sy opname daarvan gewen het. Hy het die solodeel van John Corigliano se Oscar-bekroonde klankbaan vir die rolprent The Red Violin gespeel. Bell het saam met ander gerekende violiste in die rolprent Music of the Heart verskyn, naamlik 'n verhaal oor die krag van musiek.
Bell se instrument is 'n 300-jaar oue Stradivariusviool genaamd die Gibson ex Huberman wat in 1713 gemaak is gedurende die tydperk wat vandag as Antonio Stradivari se "Goue Era" bekendstaan. Die viool is twee keer van die vorige eienaar (Bronisław Huberman) gesteel. Die laaste keer het die dief op sy sterfbed bely dat hy dit gesteel het.[1] Bell het die viool reeds bespeel, toe die eienaar daarvan op daardie stadium, die violis Norbert Brainin grappenderwys aan Bell gesê het dat die viool vir viermiljoen VS-dollar syne kon wees.
Bell was op 3 Augustus 2001 in Londen om tydens die Proms te speel. Hy het voor die konsert by J & A Beare aangeklop. Hy het aldaar te wete gekom dat die viool daar was, en dat dit op die punt was om aan 'n Duitse industrialis verkoop te word ten einde deel van 'n versameling te word. Bell het die viool nog daardie selfde aand tydens die Proms bespeel.[2] Hy het later sy vorige viool, die Tom Taylor Stradivarius,[3] vir bietjie meer as twee miljoen dollar verkoop en die Gibson ex Huberman vir bietjie minder as vier miljoen Dollar aangeskaf. Die verhaal van die diefstal, teruggawe en gevolglike aankoop deur Bell word in die 2013 dokumentêre program, The Return of the Violin, waarvan Haim Hecht die regisseur is, vertel.[4] Bell se eerste opname wat met die viool gemaak was, was Romance of the Violin (vir Sony Classical Records) in 2003.
Bell het vanaf 2004 tot 2007 as die kunsvennoot van die Sint Paul Kamerorkes gedien, en ook as besoekende professor by die Koninklike Akademie van Musiek in Londen. Hy dien ook op die kunstenaarskeurkomitee vir die Kennedy Center Honors en is 'n adjunk-assosiaatprofessor by die Massachusetts Instituut van Tegnologie.[5]
Die Avery Fisher-prys is op 10 April 2007 by die Lincoln Center in New York Stad aan Bell toegeken. Die prys word elke paar jaar toegestaan aan klassieke instrumentaliste vir uitstaande prestasie. Die Indiana Universiteit se Jacobs School of Music het op 3 Mei 2007 aangekondig dat Bell by die fakulteit aangesluit het as 'n seniorlektor.[6][7]Bell het saamgewerk met die rolprent-komponis Hans Zimmer deurdat hy solostukke vir die klankbaan van die rolprent Angels & Demons gespeel het, welke rolprent gebaseer is op Dan Brown se roman met dieselfde naam.
Bell is in Mei 2011 as die nuwe Musikale Direkteur van die Academy of St Martin in the Fields (ASMF) aangewys.[8][9] Bell het kommersiële opnames saam met die ASMF vir die Sony Classical plate-etiket gemaak.[10] In Julie 2017 het die ASMF die verlenging van Bell se kontrak aangekondig, met inbegrip van 2020[11] Bell en die orkes het die 17de (2017) Helpmann Toekenning vir Beste Individuele Klassieke Musiek Uitvoering gewen.[12]
<ref>
tag; no text was provided for refs named wp
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Joshua Bell. |