Iyasu II | |
---|---|
Keiser van Ethiopië | |
Iyasu en Mentewab uit ’n 18de-eeuse manuskrip. | |
Dinastie | Huis van Salomo |
Bewind | 19 September 1730 - 27 Junie 1755 |
Gebore | 21 Oktober 1723 |
Gesterf | 27 Junie 1755 (op 31) |
Voorganger | Bakaffa |
Opvolger | Iyoas I |
Eggenote | Welete Bersabe |
Vader | Bakaffa |
Moeder | Keiserin Mentewab |
Iyasu II, of Joshua II (Ge'ez: ኢያሱ; 21 Oktober 1723[1] - 27 Junie 1755), met die troonnaam Alem Sagad (Ge'ez: ዓለም ሰገድ ʿAläm Sägäd, "Voor wie die wêreld buig") was van 19 September 1730 tot met sy dood[2] keiser van Ethiopië, Hy was ’n lid van die Gondar-tak van die Salomoniese Dinastie en die seun van keiser Bakaffa en keiserin Mentewab (en ook bekend onder sy doopnaam, Welete Giyorgis).
Keiserin Mentewab het ’n groot rol tydens Iyasu se bewind gespeel, dalk teen haar wil. Kort nadat hy tot keiser verklaar is, het ’n mededingende aanspraakmaker op die troon die koninklike fort agt dae lank aangeval en die hoofstad, Gondar, net verlaat toe ’n leër met 30 000 soldate van Gojjam opdaag. Hoewel die aanvallers nie deur die fort se mure kon dring nie, is ’n groot deel van Gondar verwoes.[3] In plaas daarvan om die titel "regent" aan te neem, het Mentewab haarself as medeheerser laat kroon – die eerste vroulike heerser in die Ethiopiese geskiedenis. Keiserin Mentewab het baie mag gehad tydens die bewind van haar seun en later tydens ’n groot deel van haar kleinseun s'n.
Iyasu II het ’n onbekwame monarg blyk te wees, ondanks Mentewab se raad. Hy het dikwels op jaguitstappies gegaan en wild soos buffels, renosters en olifante geskiet.[4] Volgens Paul Henze is Iyasu gekritiseer "omdat hy te veel tyd aan plesier bestee het en te veel geld uitgegee het om Gondar te verfraai, oorsese werkers te betaal en luuksegoedere, ornamente en spieëls uit Europa in te voer".[5] Prutky het weer die keiserin geblameer dat sy Iyasu se inkomste so verklein het deur die manier waarop sy die keiserryk opgedeel het, dat hy skaars geld gehad het vir sy gewone uitgawes. Toe Prutky in 1752 in Ethiopië was, was die keiser in ’n stryd met sy eie suster gewikkel oor die opbrengste van Gojjam.[6]
In ’n poging om sy onderdane se guns te wen het keiser Iyasu op ’n veldtog teen die Koninkryk Sennar gegaan. Dit het geëindig in ’n nederlaag in 1738.[7] Hy kon nie weer homself militêr bewys nie, ondanks veldtogte teen rebellerende provinsies.[8]
Keiser Iyasu was diep gegrief oor die romantiese verhouding wat sy ma met ’n jong lid van die koninklike familie aangegaan het. Keiserin Mentewab het betrokke geraak by Iyasu, die seun van haar voormalige skoonsuster Romanework, wat die suster was van die vorige keiser, Bakaffa. Mentewab se verhouding met die veel jonger susterskind van haar oorlede man is as ’n groot skandaal beskou en die jong prins is "Melmal Iyasu", of "Iyasu die Hou-man", genoem.
Daar word geglo die keiser het self opdrag gegee dat sy ma se minnaar in 1742 van ’n krans naby die Tanameer afgestamp word.[9]
Iyasu het in Mei 1755 ernstig siek geword en is die volgende maand dood. Daar is algemeen geglo hy is deur die suster van Melmal Iyasu vergiftig uit weerwraak vir haar broer se dood. Toe keiserin Mentewab geld uit die staatskas wou hê om haar seun te begrawe, was daar net ’n paar dinar oor. Sy was so hartseer hieroor dat sy gedreig het om haar in haar paleisklooster terug te trek, maar ’n groep adellikes het haar oorreed om regent vir haar kleinseun, Iyoas I, te word.[10]