K2-18b | ||||
Eksoplaneet | ||||
’n Kunstenaarsvoorstelling van K2-18b (regs) wat om die rooidwerg K2-18 (links) wentel. Die onbevestigde eksoplaneetkandidaat K2-18c is tussen hulle te sien. | ||||
Soort planeet | Eksoplaneet | |||
Moederster | K2-18 | |||
Ster se eienskappe | ||||
Sterrebeeld | Leeu | |||
Regte klimming | 11h 30m 14.518s[1] | |||
Deklinasie | +07° 35′ 18.26″[1] | |||
Skynmagnitude (m) | 13,5[2] | |||
Afstand (ligjaar) | 124 ligjare | |||
Metaalinhoud | 0,123±0,157[3] | |||
Spektraaltipe | M2,8[4] | |||
Planeet | ||||
Massa | 8,63±1,35 M⊕[5] | |||
Radius | 2,71±0,07 R⊕[5] | |||
Temperatuur | 265 ± 5 K (-8 ± 5 °C)[5] | |||
Wentelperiode | 33 dae[6] | |||
Ontdekking | ||||
Datum | 2015[7] | |||
Ontdekkers | Kepler-ruimteteleskoop | |||
Metode | Oorgang | |||
|
K2-18b, ook bekend as EPIC 201912552 b, is ’n eksoplaneet wat om die rooidwerg K2-18 wentel, 124 ligjare van die Aarde af.[5] Die planeet, wat aanvanklik met die Kepler-ruimteteleskoop ontdek is, het ’n massa van sowat agt keer die Aarde s’n en is dus ’n superaarde. Dit wentel elke 33 dae om sy moederster en is binne die bewoonbare sone. Dit is egter waarskynlik onbewoonbaar.
In 2019 het twee onafhanklike navorsingstudies, wat data van die ruimteteleskope Kepler, Spitzer en Hubble gekombineer het, bevind daar is aansienlike hoeveelhede waterdamp in die planeet se atmosfeer, wat ’n eerste vir ’n planeet in die bewoonbare sone is.[8][9][10]
K2-18b is een van meer as 1 200 eksoplanete wat ontdek is as deel van die Keplerprogram se "Second Light" K2-sending.[11] Dit is in 2015 ontdek en wentel om ’n rooidwerg (nou bekend as K2-18) met ’n spektraaltipe van M2,8 sowat 124 ligjare (38 parsek) van die Aarde af. Dit is opgespoor vanweë wisselings in die ster se ligkurwe wat veroorsaak word deur die oorgang van die planeet voor die ster verby, soos van die Aarde af gesien.[5][12] Die planeet is "K2-18b" genoem omdat dit die 18de planeet was wat tydens die K2-sending ontdek is.
In 2017 het data van die Spitzer-ruimteteleskoop bevestig dat die planeet in sy moederster se bewoonbare sone om hom wentel. Sy wentelperiode van 33 dae is kort genoeg om verskeie omwentelingsiklusse van K2-18b waar te neem en die statistiese beduidenis van die sein te verbeter. Dit het gelei tot wydverspreide belangstelling in die voortgesette waarneming van K2-18b.[13]
Latere studies met die HARPS- en CARMENES-instrumente het ook ’n moontlike tweede eksoplaneet, K2-18c, opgespoor met ’n geraamde massa van 5,62±0,84 M⊕ in ’n kleiner wentelbaan met ’n periode van nege dae.[5] Dié planeet is nog nie bevestig nie; dit kan die oorblyfsel van ’n steraktiwiteit wees.[6]
Verdere studies is met die Hubble-ruimteteleskoop gedoen en dit het Kepler en Spitzer se bevindings bevestig. Bykomende metings van die planeet se atmosfeer is ook gedoen. Twee aparte ontledings van Hubble se data is in 2019 gepubliseer. Albei studies het die spektra van sterlig ondersoek wat tydens oorgange deur die planeet se atmosfeer skyn en het bevind K2-18b het waterstof en helium in sy atmosfeer met ’n hoë konsentrasie waterdamp, wat kan wissel van tussen 0,01% en 12,5% tot tussen 20% en 50%, na gelang van ander gasse wat teenwoordig is. Teen die hoogste konsentrasievlakke sal die waterdamp genoeg wees om wolke te vorm.[9][10][14]
Een studie is in die tydskrif Nature Astronomy gepubliseer; die ander studie, wat nog nie hersien is nie, is die dag tevore op arXiv.org gepubliseer.[15] Die eerste studie het water waargeneem met ’n statistiese beduidenis van 3,6 standaardafwykings, wat gelyk is aan ’n moontlikheid van 99,97%.[10] Dit is die eerste superaarde binne ’n ster se bewoonbare sone waarvan die atmosfeer waargeneem is,[10] asook die eerste ontdekking van water op ’n eksoplaneet in ’n bewoonbare sone.[8][9]
Sterrekundiges benadruk die feit dat die ontdekking van water in K2-18b se atmosfeer nie noodwendig beteken dat die planeet lewe onderhou of selfs bewoonbaar is nie, omdat dit waarskynlik nie ’n soliede oppervlak het of ’n atmosfeer wat lewe kan onderhou nie.[8] K2-18b is daarna waargeneem deur die James Webb-ruimteteleskoop, wat in 2021 lanseer is, en die ARIEL-ruimteteleskoop, wat na verwagting in 2028 sal begin werk. Albei teleskope bevat instrumente bevat wat die samestelling van eksopleetatmosfere kan bepaal.[9]
In September 2023 is berig dat die James Web Space Telescope in die planeet se atmosfeer dimetielsulfied ontdek het. Omdat hierdie stof op aarde net deur lewende organismes vervaardig word, is dit moontlik 'n aanwysing dat op dié planeet tog lewe bestaan. [16]
{{cite journal}}
: Cite has empty unknown parameter: |displayauthors=
(hulp)
{{cite journal}}
: CS1 maint: date and year (link)
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)