KV42 | ||
Die grafkelder van Meritre-Hatsjepsoet | ||
Fragment van 'n fles. | ||
Ligging | Vallei van die Konings | |
Land | Egipte | |
Ontdek | 9 Desember 1900? | |
Uitgrawings deur | Victor Loret (1899?) Howard Carter (1900, 1921) | |
← Vorige KV41 Volgende →
KV43 |
KV42 in die Vallei van die Konings by Thebe, naby die moderne stad Luxor in Egipte, is as grafkelder ontwerp vir Meritre-Hatsjepsoet, die vrou van farao Toetmoses III van die 18de Dinastie. Sy is egter nie daarin begrawe nie.
Die grafkelder is dalk tydens die bewind van Amenhotep II deur Sennefer, 'n burgemeester van Thebe, en verskeie lede van sy familie herbruik.[1] Dit bevat 'n cartouchevormige grafkamer, nes ander vroeëre grafkelders uit dié dinastie.
Die grafkelder is laat in 1900 ontdek deur twee plaaslike inwoners, Chinouda Macarios en Boutros Andraos.[2] Hulle het 'n permit vir uitgrawingswerk gekry op grond van hulle verklaring dat hulle die ligging daarvan ken. Howard Carter sê egter in sy verslag dat dit waarskynlik nie hulle geheim was nie, want die terrein is 18 maande tevore deur Victor Loret ontdek. "Hulle kennis is waarskynlik van sy werksmense verkry."[3]
Die uitgrawings deur Carter het op 27 November 1900 begin en dit was van die begin af duidelik dit is in antieke tye beroof en oorvloei met water.[3]
Die cartouchevormige grafkamer het 'n onvoltooide steensarkofaag bevat, waarvan die deksel met 'n stuk hout oopgehou is. Daar was ook 'n goed bewaarde stel begrafnisflesse vir Senetnai, die vrou van Sennefer. 'n Stel gefragmenteerde flesse en 'n offerandetafel van albaster is ook gevind. Dit het die inskripsie "koninklike ornament" bevat asook die naam van 'n vrou, Baketra. Vier begrafnisflesse met deksels in die vorm van 'n bebaarde man is ook gevind, Carter het aangeneem dit was Sennefer s'n.[3] Nog bekers met Sennefer en Senetnai se name is ook ontdek.[2] Die klein sykamer het 20 tot 30 gebreekte flesse bevat, waarvan sommige nog verseël was.
Net die grafkamer was versier. 'n Deel van die plafon was bedek met geel sterre op 'n blou agtergrond. Verder was net die boonste dele van die mure geverf.[3]