KV54 | ||
Toetankamen se balsemingswegsteekplek | ||
'n Papirusdeksel van KV54. | ||
Ligging | Vallei van die Konings | |
Land | Egipte | |
Ontdek | 21 Desember 1907 | |
Uitgrawings deur | Edward R. Ayrton | |
← Vorige KV53 Volgende →
KV55 |
KV54 is 'n grafkelder in die Vallei van die Konings by Thebe, naby die moderne stad Luxor in Egipte. Uitgrawings is deur Edward R. Ayrton gedoen.
Dit was nie soseer 'n grafkelder nie as 'n skag naby die grafkelder van Seti I. Dit het sowat 12 groot, verseëlde houers bevat. In die houers was toerusting en voorwerpe wat baie versigtig verpak is. Daar was erdeware, borde, dierebene en linne met tekste oor die laaste jare van die destyds redelik onbekende farao Toetankamen.
In 1909 het Davis dit wat hy mag verwyder het (die inhoud van ses houers),[1] aan die Metropolitan-kunsmuseum in New York geskenk.[2] Dit word nou daar uitgestal. Davis het vir die pers gesê hy het die graf van Toetankamen gevind, en het sy bevindings in 1912 gepubliseer in 'n boek met die naam Tombs of Harmhabi and Touatankhamanou (met die destydse Franse spellings van farao's Horemheb en Toetankamen se name).
Een van die kritieke vondste in KV54 was 'n stuk lap met die Hiëratiese teks: "Die goeie god, heer van die Twee Lande, Nebcheperoere [die praenomen van Toetankamen], geliefde van Min. Linne van jaar 6."[3] Howard Carter, die argeoloog wat eindelik die regte grafkelder van Toetankamen sou ontdek, het besef KV54 was nie die regte grafkelder nie, maar dat dit dui op 'n grafkelder wat nog ontdek moes word. Hy het in 1915 gekorrespondeer met die direkteur van die museum, Herbert Winlock, oor die onderwerp.[4]
In 1923 het Winlock nog baie soortgelyke vondste uit ander grafkelders gevind. Hy het KV54 geïdentifiseer as nie die werklike grafkelder van Toetankamen nie, maar 'n balsemingswegsteekplek met oorblyfsels van die mummifisering van die farao. Uit kos wat ook daar ontdek is, het hy afgelei dit het oorgebly van die begrafnis en dat daar agt amptelike roubeklaers op die begrafnis was.[5]
Toe Toetankamen se graf eindelik in 1922 ontdek is, is soortgelyke voorwerpe in die eerste gang gevind.[6] Daar word vermoed die balsemingsoorblyfsels is ná die eerste rooftog op die grafkelder na KV54 geskuif, en dat die gang met puin gevul is om moontlike toekomstige rowers weg te hou.