Kafeïen of kafeïne is ’n alkaloïed wat onder meer in koffiebone, tee, mate en kakaobone voorkom. Kafeïen as ’n suiwer stof is ’n wit, bitter poeier. Dit is ’n matige psigoaktiewe stof met ’n stimulerende werking.
Kafeïen is ook die opwekkende stof in ’n paar drankies soos kolas en energiedrankies. Soms word kafeïen by pynstillers soos parasetamol gevoeg om ’n sterker en langer uitwerking te verkry. Kafeïen stimuleer die ortosimpatiese senuweestelsel, hartslag en asemhaling. Die uitwerking begin gewoonlik ’n uur ná inname en neem tot vyf ure daarna af.
Met gereelde inname deur die mens kan die uitwerking per hoeveelheid afneem, en meer kafeïen word dan benodig om dieselfde uitwerking te verkry. Verslawing kan intree en ’n skielike afname in gebruik kan hoofpyn, ’n groot daling in bloeddruk en ander onttrekkingsimptome tot gevolg hê.
Die hoeveelheid kafeïen wat in drankies voorkom, is min of meer:
Drankie | Milligram kafeïen per 100 ml of 100 g |
Eenheid | Mg kafeïen per porsie |
---|---|---|---|
Filterkoffie | 70 mg | Koppie 125 ml | 85 |
Kitskoffie | 50 mg | Koppie 125 ml | 60 |
Espresso | 130 mg | Koppie 50 ml | 65 |
Kafeïenvrye koffie | 2,5 mg | Koppie 125 ml | 3 |
Swart tee | 30 mg | Koppie 125 ml | 40 |
Groen tee | 15 mg | Koppie 125 ml | 20 |
Kola | 10 mg | Glas 180 ml | 18 |
Ys tee | 9 mg | Glas 180 ml | 16 |
Energiedrankie | 30 mg | Blik 250 ml | 80 |