Kalaharitruffel N'abbas | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | Fungi
|
Divisie: | Ascomycota
|
Klas: | |
Orde: | Pezizales
|
Familie: | |
Genus: | Kalaharituber
|
Sinonieme | |
|
Die Kalaharitruffel is 'n swamgenus in die familie Pezizaceae.[1] Dit is 'n monotipiese genus waarvan die enkele truffelagtige spesie, die Kalaharitruffel, in die Kalahariwoestyn voorkom, asook in ander dele van Suider-Afrika (naamlik Angola, Botswana, Namibië en Suid-Afrika).[2][3] In Namibië is die plaaslike naam vir die plant N'abbas.
Die swam is in 1895 vir die eerste keer wetenskaplik deur die Duitse mikoloog Paul Christoph Hennings as Terfezia pfeilii beskryf.[4] Dit is in 2005 deur James Trappe en Varda Kagan-Zur na sy eie geslag verskuif.[5]
Die vrugliggame kan tot 12 cm in deursnee wees. Dit weeg ongeveer 200 gram, hoewel goeie reën (wat die massa beïnvloed) dit twee keer soveel sal kan laat weeg.[6] Die vrugliggame groei naby die oppervlak, wat na reën 'n kraak op die grond veroorsaak.
Die Kalaharitruffel word in die Kalahariwoestyn gevind, asook in ander droë streke van Suid-Afrika, Angola, Botswana en Namibië. Dit kom voor in grond met 'n pH van 5,5 tot 6,5, met 'n sandinhoud van 94%-97%, 'n klei-inhoud van 2%-5% en 'n slikinhoud van 1–4%.
Dit is bekend dat die Kalaharitruffel 'n ektomikorisale verhouding met waatlemoen vorm, en vermoedelik het dit 'n aantal ander moontlike verwantskappe met ander plantspesies. Dit sluit in graansorghum, Eragrostis-spesies, Grewia flava, verskeie spesies acacia, en kweekgras.
Die Kalaharitruffel word geëet deur meerkatte, hiënas, bobbejane en bakoorjakkalse, sowel as mense. Volgens 'n gevallestudie deur die Australiese Nasionale Botaniese Tuine word die vrugliggaam deur die Khoisan van die Kalahari geëet. Kommersiële verbruik van die spesie kom soms voor.
Die voorkoms van die Kalaharitruffel is vermoedelik besig om agteruit te gaan, met moontlike oorsake van oormatige oes, klimaatsverandering of die landpraktyke wat in Kalaharitruffel-habitats beoefen word.