Die toernooi se formaat van 2002 het onveranderd gebly en twaalf nasionale krieketspanne het aan die Kampioenetrofee 2004 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe) saam met die assosiaatlede Kenia en die Verenigde State. Die spanne is in vier groepe van drie elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die beste span van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet.
Australië, Engeland, Pakistan en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Engeland het Australië en Wes-Indië het Pakistan geklop, waardeur Engeland en Wes-Indië in die eindstryd ontmoet het. In die eindstryd op The Oval het Wes-Indië die gasheer met twee paaltjies verslaan en sodoende sy eerste internasionale kriekettitel sedert die Krieketwêreldbeker 1979 ingepalm. Die verdedigende medekampioene Indië en Sri Lanka asook Suid-Afrika is reeds in die groepfase uitgeskakel.
Die destydse tien toetslande het regstreeks vir die Kampioenetrofee 2004 gekwalifiseer: Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe. Daarbenewens het Kenia en die Verenigde State, wat destyds oor EDI-status beskik het, vir dié toernooi gekwalifiseer. Nadat die Verenigde State die IKR Sesnasiesuitdaagtoernooi met ’n beter lopietempo bo Kanada, Namibië, Nederland, Skotland en die Verenigde Arabiese Emirate afgesluit het, het hulle vir hul eerste vername kriekettoernooi gekwalifiseer.[3]
Tydens die toernooi is drie Engelse stadions gebruik. Altesaam 15 wedstryde is tydens die Kampioenetrofee 2004 gespeel, waaronder twee halfeindstryde en die eindstryd.
Die Kampioenetrofee 2004 is oor 16 dae tussen twaalf verskillende spanne oor 15 wedstryde beslis. Dit het op 10 September 2004 op Edgbaston in Birmingham met die openingswedstryd tussen die gasheer Engeland en Zimbabwe begin. Die toernooi het geëindig op The Oval in Londen op 25 September met die eindstryd tussen Engeland en Wes-Indië, waartydens Wes-Indië die Kampioenetrofee ingepalm het. Dieselfde formaat is voorheen tydens die Kampioenetrofee 2002 gebruik.
Die volgende tabel dui die Kampioenetrofee 2004 se daaglikse program aan. ’n Pers blokkie dui op wedstryde tydens die groepfase, ’n groen blokkie op wedstryde tydens die uitklopfase en ’n geel blokkie op die eindstryd.
Die Kampioenetrofee 2004 is deur twaalf nasionale krieketspanne beslis. Vir die groepfase is die twaalf deelnemende spanne in vier groepe van drie elk verdeel; elke span het een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep gespeel, dus het elke span twee wedstryde in die groepfase gespeel. Twee punte is vir ’n oorwinning toegeken, een vir ’n gelykop of onbesliste wedstryd en geen punte vir ’n nederlaag: spanne wat met dieselfde aantal punte geëindig het, is volgens lopietempo, dan boultempo en dan die uitslag van die direkte ontmoeting gerangskik. Die beste span van elke groep het na die uitklopfase deurgedring.
Van die begin van dié fase af het die toernooi ’n uitklopformaat aangeneem wat uit drie wedstryde bestaan het: twee halfeindstryde en die eindstryd. Die beste span van elke groep het na die uitklopfase deurgedring. Die wenner van die eerste groep het teen die wenner van die vierde groep en die wenner van die tweede groep het teen die wenner van die derde groep in die halfeindstryde gespeel. Elke wedstryd in die uitklopstadium moes met ’n oorwinning vir een van die spanne eindig. As daar ná albei kolfbeurte ’n gelykopuitslag was, is die wedstryd deur ’n uitboul beslis.
Nathan Astle (NZ) teken ’n kampioenetrofeehonderdtal aan.[4]
Nathan Astle teken die gesamentlik beste individuele telling tydens ’n Kampioenetrofeewedstryd aan – gedeel met Andy Flower (Zim) tydens die 2002-toernooi.[4]
Pakistan wen met sewe paaltjies Edgbaston, Birmingham Skeidsregters: Billy Doctrove (WI) en Darrell Hair (Aus) Speler van die wedstryd: Shahid Afridi (Pak)
Pakistan het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Op 14 September was geen speel moontlik nie, vervolgens moes die reserwedag gebruik word.
Sri Lanka wen met vier paaltjies The Oval, Londen Skeidsregters: Daryl Harper (Aus) en David Shepherd (Eng) Speler van die wedstryd: Elton Chigumbura (Zim)
Sri Lanka het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.