Kannibalisme (van die Spaanse naam Caníbales vir die Karibs,[1] ’n Wes-Indiese stam wat voorheen kannibalisme beoefen het)[2] is die eet van menslike vleis of interne organe deur ander mense. Dit word ook antropofagie genoem. Iemand wat kannibalisme beoefen, word ’n kannibaal genoem. Die term is uitgebrei na die diereryk en behels enige lid van ’n spesie wat ’n lid van dieselfde spesie eet; dit sluit seksuele kannibalisme in.
Die mense van die Karib-eiland in die Klein Antille het ’n reputasie ontwikkel dat hulle kannibale is vanweë hul legendes, wat in die 17de eeu geboekstaaf is.[3] Daar is ’n mate van twyfel oor die akkuraatheid van die legendes en die voorkoms van kannibalisme onder die Karibs. Die praktyk was in die verlede wydverspreid in baie dele van die wêreld en het tot in die 19de eeu voortgeduur in afgesonderde kulture van Australasië, en kom vandag nog voor in dele van tropiese Afrika. Kannibalisme is beoefen in Nieu-Guinee en dele van die Solomoneilande, en vleismarkte het bestaan in sommige dele van Melanesië.[4] Fidji was eens bekend as die "Kannibaal-eilande".[5]
Die Neanderdallers het vermoedelik kannibalisme beoefen,[6][7] en hulle is ook dalk deur anatomies moderne mense geëet.[8]
In sommige gemeenskappe, veral onder sekere stamme, is kannibalisme ’n kulturele norm. As iemand dele van ’n persoon uit sy eie gemeenskap eet, word dit endokannibalisme genoem; rituele kannibalisme van onlangs afgestorwenes kan deel van die rouproses wees,[9] of ’n manier om die siel van die afgestorwene in die liggaam van sy oorlewende afstammelinge in te lei.[10]
Eksokannibalisme is die eet van iemand buite die gemeenskap, gewoonlik om ’n oorwinning oor ’n ander stam te vier.[10] Albei soorte kannibalisme kan ook aangevuur word deur die geloof dat die eet van ’n ander persoon se vleis of organe die kannibaal sal toerus met die eienskappe van die oorledene.[11] In die meeste gevalle word nekrokannibalisme beoefen, dus die eet van iemand wat reeds dood is, teenoor die doodmaak van ’n persoon om hom te eet. Gevalle van outofagie, of selfkannibalisme, is ook bekend.
In pre-moderne tye het die nou verouderde teorie van humorisme kannibalisme verduidelik aan die hand van ’n swart "humor" (een van die liggaam se vier vloeistowwe) wat in die voering van die hartkamer voorkom en die lus vir mensvleis sou veroorsaak.[12]
Kannibalisme kom voor in legendes en volksvertellings van baie kulture en word meestal toegeskryf aan bose karakters of as voorbeelde van ekstreme wraak. Voorbeelde sluit in die heks in Hansie en Grietjie, Lamia in die Griekse mitologie en Baba Jaga in die Slawiese mitologie.
’n Paar mites in die Griekse mitologie behels kannibalisme, veral die eet van nabye familielede, soos die mite oor Kronos (Saturnus in die Romeinse mitologie) of Tantalos.
Die wendigo is ’n figuur in die legendes van die Noord-Amerikaanse Algonkin-stamme. Dit word alternatiewelik beskou as ’n kannibalistiese bose gees wat kan besit neem van mense of as ’n soort monster waarin mense fisiek kan verander. Mense wat kannibalisme beoefen, is veral in gevaar;[13] dit lyk of die legende dié praktyk as ’n taboe verklaar het.
Gerugte dat sekere kulture wat reeds gevrees, op neergesien of onbekend was, kannibalisme beoefen is ook volop. In antieke tye het die Grieke geskryf oor verafgeleë, nie-Hellenistiese "barbare", en dit het in hul mitologie veral verwys na die wêreld van die "primitiewe" oergode, voor die koms van die Olimpiese gode. Alle eilandbewoners van die Suidersee was kannibale sover dit hul vyande betref. Toe die Amerikaanse walvisvangboot Essex in 1820 deur ’n walvis gestamp is en begin sink, het die kaptein verkies om 3 000 myl windop na Chili te vaar eerder as 1 400 myl windaf na die Marquesas-eilande omdat hy gehoor het die eilandbewoners is kannibale. Ironies het baie van die oorlewendes van die skeepswrak hulle eindelik tot kannibalisme gewend om te oorleef.
William Arens, die skrywer van The Man-Eating Myth: Anthropology and Anthropophagy,[14] het die geloofbaarheid van berigte oor kannibalisme bevraagteken. Hy het geglo die beskrywing van een groep as kannibale deur ’n ander groep is ’n manier om hul kulturele meerderwaardigheid te vestig. Hy het sy bevinding geskoei op talle "klassieke" bewerings van kulturele kannibalisme deur verkenners, sendelinge en antropoloë, en bevind dit is gebaseer op rassisme, vooroordeel en dikwels hoorsê-getuienis.[15] Arens se bevindings is omstrede en is al ’n voorbeeld genoem van pogings om die koloniale geskiedenis te herskryf.[16]
Kannibalisme is onlangs beoefen en sterk veroordeel in verskeie oorloë, veral in Liberië[17] en die Kongo.[18] Teen 2006 was die Korowai een van die min stamme wat vermoedelik nog mensvleis eet as deel van hul kultuur.[19] Dit word ook in verskeie Melanesiese stamme beoefen as deel van rituele of tydens oorloë.
Mense wat ’n hongersnood beleef, wend hulle nog soms tot kannibalisme, ook in moderne tye. ’n Bekende voorbeeld is die rampspoedige weswaartse ekspedisie van ’n groep 19de-eeuse Amerikaanse pioniere, die Donner-geselskap, en meer onlangs die neerstorting van die Uruguayse vlug 571 in 1972 in die Andesgebergte, waarna van die oorlewendes dele van die dooie passasiers geëet het om te oorleef.
Daar is verskeie gevalle van moordenaars wat ’n mate van seksuele bevrediging daaruit gekry het om hul slagoffers te eet, soos die reeksmoordenaars Jeffrey Dahmer en Albert Fish. Sulke mense word gewoonlik as sielsiek beskou, hoewel die behoefte om mensvleis te eet nie amptelik gelys word as ’n geestesteuring in die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM) nie,[20] en daar is teenkanting teen die klassifisering van kannibalisme as sulks.[20]
{{cite journal}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)
{{cite journal}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)
{{cite journal}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)