Kanovaart

Piktogram wat Kanovaart aandui
'n Kanovaart
Mense ontspan in kano's

Kanovaart is 'n sport waar die vaarder 'n kano op die water voortdryf met 'n roeispaan. Kano's word meestal met 'n enkelblad-spaan aangedryf. 'n kajak is 'n kano wat met 'n dubbelblad-spaan ('n blad aan weerskante) gevaar word.

Behalwe as wedstrydsport word kanovaart ook algemeen as ontspanning beoefen.

'n Kano is 'n ligte boot wat met behulp van een of meer spane oor die water beweeg word. Teenswoordig word kanovaart hoofsaaklik vir ontspanning of as sportsoort beoefen. By wedstrydkanovaart word 2 tipes kano's gebruik, naamlik die gewone of Kanadese kano en die kajak. In verskillende wedstryde word onder meer in afdelings soos snelroei en langafstandwedvaarte meegeding.

Kanovaart word sedert 1938 in Suid-Afrika as 'n sportsoort beoefen en die land se 3 belangrikste langafstandwedvaarte vergelyk goed met die strafstes ter wêreld. Die gebruik om met kano's op die water te vaar, het in verskillende ou kulture onafhanklik van mekaar ontwikkel. Die oudste bekende kano is 'n silwermodel wat 6 000 jaar oud is en in 'n graf naby Ur in die Eufraatgebied gevind is.

Die term kano verwys oor die algemeen na 'n vaartuig met 'n houtraam wat vroeër met huide oorgetrek is, maar vandag met laaghout bedek word. In die laaste paar jaar word kano's ook van kunsvesel gemaak. Ander soortgelyke vaartuie, soos uitgeholde boomstamme, is waarskynlik nag vroeë as regte kano's gebruik. Teenswoordig word 2 verskillende tipes kano's gebruik, naamlik die gewone of Kanadese kano, wat sy oorsprong by die Rooihuide van Kanada gehad het, en die kajak, wat deur die Eskimo's gebruik is. Die belangrikste verskil tussen die 2 kano's is die spane.

Die spaan van ʼn gewone kano het net een roeiblad en kan dus net aan die een kant van die kano gebruik word, terwyl die spaan van die kajak aan albei punte 'n roeiblad het sodat dieselfde spaan gebruik kan word om weerskante van die vaartuig te roei. Die kajak is aan die bokant toe, behalwe vir die ruimte waar die roeier(s) sit, en dit lê laag in die water, terwyl die gewone kano bo gedeeltelik of heeltemal oop is en baie hoër rante het. By die kajak sit die roeier(s) en dryf die boot aan deur 'n spaan met 'n roeiblad aan elke punt, terwyl die gewone kano voortbeweeg word deur 'n roeier wat op sy knieë staan en met 'n enkelbladspaan om die beurt aan weerskante van die boot roei.

Wedstrydsport

[wysig | wysig bron]

Kanovaart as wedstrydsport is nog 'n jong sportsoort wat eers op dreef gekom het nadat dit in 1,936 op die program van die Olimpiese Spele geplaas is. Op internasionale gebied vaar die Skandinawiërs, die Finne, die Wes-Duitsers en verteenwoordigers van die Oos-Europese Ian de gewoonlik die beste. Vir wedstryddoeleindes word die vaartuie in verskillende kategorieë ingedeel, afhangende van hoeveel roeiers elke kano beman. Die klassifikasie word as volg aangedui: K1 vir 'n kajak met 1 roeier, K2 vir een met 2 roeiers, K4 vir 4 roeiers en so meer, terwyl die letter C vir Kanadese kano's gebruik word. Daar is ook verskillende soorte kanovaartwedstryde, waarvan die volgende die gewildste is:

- Snelroei: Wedvaarte word oor afstande van 500 m, 1 000 m en 10 000 m beslis. Spesiale kano's waarby die klem val op die snelheid wat 'n boot kan behaal, word hiervoor gebou. Die geskikste roeiplek vir snelroeivaarte is diep, stilstaande mere.

- Afstandwedvaarte: Die klem val op snelheid oor langer afstande, naamlik van 6 tot 10 km. Snel vloeiende riviere is die beste vir die wedvaarte.

- Langafstandwedvaarte: Die afstand van die roete is nie voorgeskrewe nie, maar vind tussen 2 punte op 'n rivier plaas sodat die deelnemers met 'n verskeidenheid watertoestande, soos bruisende water, watervalletjies, vinnig vloeiende water en dies meer te doen kry.

- Slalomwedvaarte: Die deelnemers moet in snel vloeiende water tussen 'n aantal kunsmatige hindernisse deurroei. Hier is vaart en vernuf ewe belangrik aangesien die strafpunte vir foute as 'n gelyke gelal sekondes getel word by die tyd wat behaal is.

Kanovaart in Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Kanovaart word sedert 1938 op 'n georganiseerde grondslag in Suid-Afrika kanovaart beoefen, maar het eers in 1951 groter ondersteuning begin kry nadat die eerste Dusi-kanowedvaart van Pietermaritzburg na Durban in daardie jaar aangebied is.

Die Suid-Afrikaanse Kanofederasie is in 1956 gestig en het in dieselfde jaar lid van die Internasionale Kanofederasie geword. Suid-Afrika is egter in 1970 om politieke redes uit die liggaam geskors. Hoewel Springbokspanne dus nie aan die wêreldkampioenskap-byeenkomste kan deelneem nie, ding die roeiers wel individueel teen oorsese spanne mee en verower gereeld belangrike titels. In Suid-Afrika word bykans uitsluitlik kajakke gebruik en hoewel snelroei- en afstandswedvaarte baie gewild is, presteer die Springbokke veral baie goed in die langafstandwedvaarte.

Die Bergrivier-, die Dusi- en die Vaaldam-na-Parys-wedvaart vergelyk baie goed met die strafste langafstandwedvaarte ter wêreld. Die enigste vertakking van die kanosport wat in Suid-Afrika nie veel aftrek kry nie, is die slalomkompetisies, hoofsaaklik omdat geskikte water en kano's baie skaars is. Die bekendste Suid-Afrikaanse kanovaarders is die Van Riet-gesin. Die broers Willem, Roeloff en Enslin het almal belangrike nasionale titels gewen en oorsee goed gepresteer, terwyl hul pa, mnr. Willem van Riet (senior), nou betrokke is by die bestuur van kanovaart in Suid-Afrika.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]