Kapernaüm (Hebreeus: כפר נחום - Kefar Nachum, "dorp van Nahum") was 'n vissersdorpie aan die noordelike oewer van die Meer van Tiberias (See van Galilea).[1] Die nedersetting is tussen 150 v.C. en ongeveer 750 n.C. bewoon. Dit het 'n bevolking van ongeveer 1 500 mense gehad.[2]
Argeologiese opgrawings het getoon dat twee ou sinagoges hier gebou is, die een oor die ander. 'n Kerk naby Kapernaüm word as die huis van Petrus aangedui.
Kapernaüm word in die Nuwe Testament vermeld as die woonplek van Jesus en verskeie van sy dissipels: die broers Simon Petrus en Andreas, die broers Jakobus en Johannes en verder Matteus die tollenaar van die gelyknamige evangelie.