’n Karavanserai of khan (Persies: كاروانسرا kārvānsarā; Turks: kervansaray) was ’n (meestal Persies-geïnspireerde) herberg langs die pad waar reisigers kon rus ná die dag se reis. Karavanserais het die vloei van handel, inligting en mense aan die handelsroetes van Sentraal-Asië, Noord-Afrika en Suidoos-Europa aangehelp.
Die meeste karavanserais was geboue omring deur ’n vierkantige of reghoekige muur met ’n groot genoeg poort sodat groot, swaargelaaide diere soos kamele daardeur kon gaan. Die binnehof was feitlik altyd oop bo en al met die mure langs was kiosks, inhamme en kamers waar handelaars, slawe en diere kon oornag en handelsware gestoor kon word.[1]
In die karavanserais was daar water vir mense en diere, asook geriewe vir was en rituele. Daar was voer vir die diere en winkels waar reisigers hul voorrade kon aanvul of van hul ware verhandel.[2]
Die Persiese woord is ’n samestelling van kārvān (reisiger-karavaan) en sara (paleis, gebou met binnehowe). Dit was ook bekend as ’n khan (Persies: خان,; Turks: han), funduq (in Arabies) of fundaco (in Venesië).
↑Sims, Eleanor. 1978. Trade and Travel: Markets and Caravanserais.' In: Michell, George. (ed.). 1978. Architecture of the Islamic World – Its History and Social Meaning. London: Thames and Hudson Ltd, 101.
Erdmann, Kurt, Erdmann, Hanna. 1961. Das anatolische Karavansaray des 13. Jahrhunderts, 3 vols. Berlin: Mann, 1976, ISBN 3-7861-2241-5
Yavuz, Aysil Tükel. 1997. The Concepts that Shape Anatolian Seljuq Caravanserais. In: Gülru Necipoglu (red). 1997. Muqarnas XIV: An Annual on the Visual Culture of the Islamic World. Leiden: E.J. Brill, 80-95. Aanlyn beskikbaar by archnet.org/library/pubdownloader/pdf/8967/doc/DPC1304.pdf.