'n Katafrak was 'n soort gepantserde kavaleris in antieke oorlogvoering in Eurasië en Noord-Afrika. Die woord kom van die Griekse κατάφρακτος, kataphraktos, wat letterlik "gepantser" of "heeltemal bedek" beteken.
Histories was die katafrak 'n uiters swaargepantserde ruiter, met hom en sy perd feitlik heeltemal bedek in 'n geskubde harnas of maliekolder, en met gewoonlik 'n lans as belangrikste wapen.
Katafrakte is deur talle ryke en nasies gebruik, hoofsaaklik om deur die vyand se linies te breek. Hulle word deur talle historici beskryf, van die vroegste dae van antieke oorlogvoering tot die Middeleeue.[1]
In Europa was die mode van swaar gepantserde kavalleriste blykbaar 'n antwoord op die oostelike veldtogte van die Parters en Sassaniede in Klein-Asië, sowel as talle neerlae teen Irannese katafrakte op die Eurasiese steppe, veral die Slag van Carrhae in 53 v.C. in Bo-Mesopotamië. Daarteenoor het die Romeinse Ryk hoofsaaklik van liggepantserde ruiters met spiese en swaarde gebruik gemaak vir skermutselings voor en tydens gevegte, waarna hulle die vlugtende vyand agternagesit het. Die gebruik van katafrak-agtige formasies het in die laat 3de en die 4de eeu begin. Keiser Gallienus Augustus (bewind: 253-268) en sy generaal Aureolus (oorlede: 268) het moontlik baie daartoe bygedra dat die Romeine katafrak-afdelings in die laat Romeinse weermag gehad het.