Katherine Johnson | |
Geboortenaam | Katherine Coleman Goble Johnson |
---|---|
Gebore | 26 Augustus 1918 |
Oorlede | 24 Februarie 2020 (op 101) |
Blyplek | Verenigde State |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Katherine Coleman Goble Johnson (26 Augustus 1918 - 24 Februarie 2020) was 'n Amerikaanse wiskundige, wie se berekeninge van wentelbaan meganika as werknemer van die NASA van kritieke belang was vir die sukses van die eerste ruimtevaart en die daaropvolgende Amerikaanse bemande ruimtevaarte. Tydens haar 35-jarige loopbaan by NASA en sy voorganger, het sy 'n reputasie verwerf vir die bemeestering van ingewikkelde handberekeninge en het gehelp om die eerste rekenaars in gebruik te neem om die take uit te voer. Die ruimteagentskap het kennis geneem van haar "historiese rol as een van die eerste Afro-Amerikaanse vroue wat as 'n wetenskaplike in NASA gewerk het".
Johnson se werk het berekening van trajekte, lanseervensters en noodterugkeerbane vir die Mercury-projek ruimtevlugte behels, insluitend dié vir die ruimtevaarders Alan Shepard, die eerste Amerikaner in die ruimte, en John Glenn, die eerste Amerikaner in 'n wentelbaan, en ontmoetingspaaie vir die Apollo maanmodule en beheermodule vir vlugte na die maan.[1] Haar berekeninge was ook noodsaaklik vir die begin van die ruimtependeltuig-program, en sy het aan planne gewerk vir 'n sending na Mars. In 2015 het president Barack Obama Johnson die presidensiële medalje van vryheid toegeken. In 2019 word Johnson die Kongres-goue medalje toegeken. Sy is deur Taraji P. Henson uitgebeeld in die hoofrol van die film Hidden Figures van 2016.
Katherine Coleman is in 1918 gebore as die dogter van Joshua en Joylette Coleman in White Sulphur Springs in Greenbrier County, Wes-Virginië.[2][3] Sy was die jongste van vier kinders. Haar vader het as timmerman, boer en balju gewerk. Haar ma was 'n onderwyseres.[2][4] Vandat sy 'n kind was, het Katherine 'n groot talent vir wiskunde gehad. Haar ouers het die belangrikheid van onderwys benadruk. Omdat swart studente in Greenbrier County nie na die einde van hul laerskooljare ("agtste graad") kon skoolgaan nie, is Katherine en haar broers en susters by 'n hoërskool in Institute, Kanawha County, Wes-Virginië, ingeskryf. Die gesin het gedurende die skooljaar hul tyd tussen Institute en White Sulphur Springs in die somer verdeel.
Johnson het na haar hoërskoolloopbaan na die West Virginia State College gegaan en wiskunde-lesse geneem by verskillende professore, soos die chemikus en die wiskundige Angie Turner King (wat ook haar mentor tydens hoërskool was) en W.W. Schiefflin Claytor (die derde Afro-Amerikaner wat 'n PhD in wiskunde ontvang). Johnson behaal in 1937 summa cum laude in wiskunde en Frans op 18-jarige ouderdom.[3][4] Nadat sy gegradueer het, verhuis Johnson na Marion (Virginië) om wiskunde, Frans en musiek te onderrig.
In 1938 was Johnson die eerste Afro-Amerikaanse vrou wat by die Wes-Virginië-universiteit in Morgantown (Wes-Virginië) toegelaat is, ná die Verenigde State se hooggeregshof uitspraak, Missouri ex rel. Gaines v. Canada.[4][5]
Johnson het gehoor dat die National Advisory Committee for Aeronautics (NACA), later NASA, op soek was na nuwe mense, veral Afro-Amerikaanse vroue vir die departement van leiding en navigasie. Johnson tree in 1953 in diens.
Van 1958 tot haar aftrede in 1983 het sy as ruimtetegnoloog gewerk. Later het sy by die ruimtebeheerkantoor gaan werk. Daar bereken sy Alan Shepard se baan vir sy ruimtevaart in 1959,[6][7] die eerste Amerikaner in die ruimte. Sy bereken ook die lanseringvenster vir sy Mercury-program in 1961.[7] Sy het ook navigasietabelle vir ruimtevaarders opgestel in geval van elektroniese probleme.
Toe NASA die eerste keer in 1962 elektroniese rekenaars gebruik het om die baan van John Glenn na die aarde te bereken, is Johnson gevra om die resultate na te gaan. Johnson het later ook met digitale rekenaars gewerk. Sy bereken ook die baan vir die vlug van Apollo 11 na die maan in 1969.[6] Johnson was tydens die maanlanding by 'n vergadering in die Pocono-gebergte. Sy en 'n paar ander het op televisie na die eerste tree op die maan gekyk.
In 1970 werk Johnson op die Apollo 13-sending na die maan. Nadat hierdie missie laat vaar is, het Johnson op die rugsteunprosedures en tabelle gewerk waarmee die bemanning vier dae later veilig na die aarde teruggebring is. Later in haar loopbaan het Johnson aan die pendeltuigprogram gewerk, die Earth Resources Satellite en aan planne vir 'n sending na Mars.[7]
In 1939 trou Johnson met James Francis Goble; hulle het drie dogters saam gehad. Na Goble se dood in 1956 trou sy weer in 1959 met lt. Kolonel James A. Johnson, waarna sy haar loopbaan by NASA voortgesit het.
Johnson was in totaal mede-outeur van ses en twintig wetenskaplike artikels.[8] NASA hou 'n lys van Johnson se belangrikste artikels by.[6]
Johnson se sosiale invloed as 'n baanbreker in ruimtewetenskappe en rekenaars kan maklik gesien word in die huldeblyk wat sy ontvang het en die aantal kere wat haar verhaal vertel is. Sy kan beskou word as 'n rolmodel.[9][10][11][12][13][14]
Sedert 1979 (voordat sy afgetree het) was Johnson se biografie 'n ereplek in opnames van Afro-Amerikaners in wetenskap en tegnologie.[15][16]
Op 16 November 2015 het die Amerikaanse president Barack Obama Johnson benoem as een van 17 Amerikaners wat die presidensiële medalje van vryheid in 2015 ontvang het. Sy het die prys op 24 November 2015 ontvang en is benoem as 'n voorbeeld van Afro-Amerikaanse vroue in wetenskaplike vakke (STEM).[17]
In 2017 is die film Hidden Figures vrygestel, 'n film oor Johnson en haar Afro-Amerikaanse kollegas by NASA.[18]