Kerk van die Tiendes | ||
Die verwoeste Kerk van die Tiendes in 1826 (tekening deur Abraham van Westerveld). | ||
Plaaslike naam | Десятинна церква | |
Land | Oekraïne | |
Soort | Katedraal | |
Streek | Kiëf | |
Geskiedenis | ||
Stigter | Wladimir die Grote | |
Gestig | 996 (voltooi) | |
Tydperk | 10de-20ste eeu | |
Kulture | Kiëf-Roes |
Die Kerk van die Tiendes (Oekraïens: Десятинна церква, Desjatinna tserkwa; Russies: Десятинная церковь, Desjatinnaja tserkof), ook bekend as die Kerk van die Hemelvaart van die Maagd, was die eerste steenkerk in Kiëf.[1] Dit is oorspronklik tussen 989 en 996 in opdrag van grootprins Wladimir die Grote gebou[1] deur Bisantynse en plaaslike werkers. Dit is aanvanklik die "Kerk van Ons Dame" genoem ter ere van die hemelvaart van Maria. Die kerk is in 1240 verwoes tydens die stad se beleg deur die invallende Mongoolse magte van Batoe Khan.
Wladimir het ’n tiende van sy inkomste en eiendomme eenkant gesit vir die bou en onderhoud van die kerk, vandaar die naam.
Op inisiatief van die metropolitaan (biskop) van Kiëf is die kerk in die middel van die 19de eeu herbou, maar dit is in 1928 weer verwoes, dié keer deur die Sowjetregering.[1]
In opdrag van Wladimir is sy ouma Olga, die eerste Christelike heerser van Kiëf-Roes, in die kerk herbegrawe.[2] Wladimir en sy vrou, Anna, dogter van die Bisantynse keiser Basilius II, is ook hier begrawe.
Die kerk is in 1017 erg in ’n brand beskadig en is deur Jaroslaf die Wyse laat herbou.[3] In 1044 het Jaroslaf die kerk ’n mausoleum vir Kiëfse prinse gemaak toe hy die oorskot van Jaropolk I en Oleg van die Drewliana laat doop en hier herbegrawe het.[2]
In 1171 en 1203 is die kerk geplunder[3] en in 1240 het die inwoners van Kiëf dit as ’n laaste skuiling gebruik tydens die Mongoolse inval[3] toe dit finaal ineenstort weens ’n brand.
In die vroeë 19de eeu het metropolitaan Ewgeni Bolchowitinof die terrein laat opgrawe. Onder sy administrasie is ’n nuwe Kerk van die Tiendes tussen 1828 en 1842 gebou.[4]
Die Russiese ontwerp daarvan het min gemeen gehad met die oorspronklike kerk. Dié kerk is in 1935 deur die Sowjetregering verwoes.