Kirgisiërs | |
---|---|
Totale bevolking: | ca. 4,5 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Kirgisië ~3,8 miljoen[1] Oesbekistan 250 000[2][3] |
Taal: | Kirgisies |
Geloofsoortuiging: | Hoofsaaklik Soennitiese Islam Tengriisme • Christendom • Sjamanisme • Tibettaanse Boeddhisme |
Verwante etniese groepe: | Ander Turkse volke soos Azerbeidjanners, Basjkiriërs, Gagaoesiërs, Karakalpakke, Kasakke, Oeigoere, Oesbeke, Tartare, Tsjoewasjiërs, Turke en Turkmene |
Die Kirgisiërs (Kirgisiese enkelvoud: кыргыз/kyrgyz, meervoud: кыргыздар/kyrgyzdar) vorm naas die Oesbeke, Kasakke en Turkmene die vierde grootste Turkse etniese groep in Sentraal-Asië. Hulle vorm die titulêre nasie van Kirgisië, waar hulle sowat 72,6% van dié land se bevolking uitmaak, en praat Kirgisies, 'n Turkse taal, as moedertaal.
Naas Kirgisiërs woon nog klein minderhede soos Oesbeke (14,4%) en Russe (6,4%) in Kirgisië. Kirgisiese minderhede woon ook in lande soos Oesbekistan (250 000), die Volksrepubliek China (143 500) en Rusland (103 422).
Wêreldwyd is daar omtrent 4,5 miljoen Kirgisiërs, waarvan sowat 3,8 miljoen in Kirgisië woon. In die Volksrepubliek China behoort die Kirgisiërs tot een van die 56 amptelik erkende etniese groepe ("nasionaliteite"). Hulle woon veral in die Wes-Chinese outonome gewes Xinjiang saam met ander verwante etniese groepe soos Oeigoere, Oesbeke en Kasakke.
Die naam van die Kirgisiërs is moontlik van 40 (Turks: kyrk met die meervoud-agtervoegsel -yz) stamme afgelei wat onder die epiese held Manas verenig is en teen die Mongole geveg het. Die 40 strale van die son op die vlag van Kirgisië vertoon hierdie 40 stamme.[9][10] Volgens 'n ander teorie is die naam afgelei van 40 meisies wat krygers geword en waaruit die Kirgisiërs ontwikkel het.