’n Klier is ’n orgaan in ’n dier se liggaam wat ’n stof soos hormone sintetiseer om in die bloedstroom (endokriene klier) of in holtes in die liggaam of sy oppervlak (eksokriene klier) vrygestel te word.
Kliere is organe wat ’n stof soos hormone sintetiseer om in die bloedstroom (endokriene klier) of in holtes in die liggaam of in sy oppervlak (eksokriene klier) vrygestel te word. Talle kliere bestaan in die menslike liggaam.
Elke klier word gevorm deur ’n ingroeisel van ’n epiteeloppervlak. Hierdie ingroeisel kan aan die begin ’n buisstruktuur hê, maar in ander gevalle kan kliere as ’n soliede kolom selle begin wat later ’n buis vorm.
Namate groei vorder, kan die kolom selle verdeel of takke laat uitgroei, in welke geval ’n saamgestelde klier gevorm word. In baie kliere is die aantal vertakkings beperk, maar in ander (speeksel, pankreas) word ’n baie groot struktuur uiteindelik gevorm deur herhaalde groei en verdeling. Gewoonlik verenig die vertakkings nie met mekaar nie, maar in een geval, die lewer, gebeur dit wel wanneer ’n geretikuleerde saamgestelde klier gevorm word. In saamgestelde kliere word die meer tipiese of sekretoriese epiteel in die einddeel van elke vertakking aangetref, en die verenigende dele vorm buise en word uitgevoer met ’n minder gemodifiseerde soort epiteelsel.
Kliere word volgens hulle vorm geklassifiseer.
Kliere is gespesialiseerde selle of organe wat bepaalde stowwe produseer en afskei. By eksokriene kliere word die klierprodukte direk na buite of in bepaalde liggaamsholtes soos die maag afgeskei. Voorbeelde hiervan is die sweetkliere en die verskillende kliere wat spysverteringsensieme afskei. Endokriene kliere daarteenoor skei hul produkte direk in die bloed uit. AI die hormoonproduserende kliere in die liggaam soos die hipofise en die skildklier behoort tot die groep. Kliere kom ook by feitlik alle plante voor, maar die verskille tussen endo - en eksokriene kliere is minder opvallend omdat die produkte van albei soorte kliere dikwels in dieselfde ruimte gestoor of deur dieselfde organe uitgeskei word.
Byna alle plante bevat een- of meersellige organe wat bepaalde stowwe produseer en uitskei. Hierdie plantaardige kliere kom voor in die opperhuid (epidermis) sowel as in die parenchiemweefsels en ander weefsels van die hoër plante. Behalwe enkelvoudige klierselle kom daar by plante ook nog afskeidingsholtes en kanale voor. Daar kan onderskei word tussen skisogene kliere, wat gevorm word wanneer afsonderlike selle van mekaar af wegbeweeg, en lisogene kliere, wat spruit uit aangrensende selle waarvan die gemeenskaplike selwande verdwyn het. Voorbeelde van skisogene kliere is die harskanale van dennebome en die olie-en slymkliere van die skerm-blommiges (familie Umbelliferae). Voorbeelde hiervan is die klierholtes by sitrusplante en 'n groot aantal mirtesoorte.
Wanneer die produkte wat deur die sel vervaardig is, binne die sel self geberg word, word dit sekresie of afskeiding genoem. Wanneer die produkte egter deur die selmembraan na buite uitgeskei word, word daarna verwys as ekskresie of uitskeiding. Hierdie onderskeid is by plante nie altyd baie duidelik nie omdat verskillende plantaardige klierprodukte dikwels in dieselfde ruimte geberg of deur dieselfde organe uitgeskei word. Die klierprodukte self hang af van die plantsoort.
Dit kan afvalprodukte soos suikers, hars en soute wees, maar dikwels het dit ʼn fisiologiese funksie soos in die geval van hormone en ensieme. Kliere wat die suikeragtige vloeistof nektar produseer, kom hoofsaaklik in die blomgedeelte van die plant voor, veral op die kelk en kroonblare, asook op die styl en blombodem. Die nektarkliere kan onder meer skyf- of buisvormig wees, en wanneer dit nie op die blom self geleë is nie, kom dit hoofsaaklik op die bladstingels en steunblare voor, soos dit by die genera Prunus, Acacia en Vicia die geval is.
Die geproduseerde nektar dien veral om insekte soos skoenlappers en bye, maar ook ander diere soos voëls en vlermuise, aan te lok ten einde blombestuiwing te bewerkstellig. Behalwe deur verdamping kan plante ook deur middel van waterkliere of hidatodes van oortollige water ontslae raak. Onder die invloed van worteldruk word die oortollige water uit die blaarselle na buite gevoer, waar dit druppeltjies op die blare vorm. Dit kom veral voor by grasse (familie Poaceae), fuchsia 's (genus Fuchsia) en plante soos die vrouemantel (Alchemilla vulgaris).
Melksapkliere kan eensellig wees maar kan ook uit 'n reeks geassosieerde selle bestaan. Die produk van die kliere bestaan uit oplossings of emulsies van tanniene, suikers, harse, wasagtige stowwe en alkaloïede. Plante met 'n baie hoe rubbergehalte in hul melksap is die rubberplant (Ficus elastica) en die rubberboom (Hevea brasiliensis). Die melksap van papawers bevat ʼn gewoontevormende alkaloïed, morfien, en die melksap van papajas bevat 'n ensiem, papaïen, wat proteïene in kleiner fragmente kan verteer.
Alle lewende selle is in staat om stowwe te produseer en uit te skei. Wanneer 'n aantal gespesialiseerde selle egter bymekaar lê en 'n orgaan vorm wat verantwoordelik is vir die produksie van 'n bepaalde verbinding, word die orgaan 'n klier genoem. Eensellige kliere word aangetref in die voering van die dermkanaal, terwyl die meersellige kliere verspreid deur die liggaam voorkom. Daar kan onderskei word tussen endokriene en eksokriene kliere. Eersgenoemdes stel hul produkte in die bloed vry, terwyl laasgenoemdes dit in liggaamholtes of na buite vrystel.
Daar bestaan verskillende maniere waarop die klierprodukte deur die selle vrygestel word. Die afskeiding kan hiervolgens in drie tipes verdeel word. By merokriene sekresie bly die sel dwarsdeur die hele proses ongeskonde. Die selle neem gewoonlik deur hul onderkante produkte op uit die bloed, konsentreer of verander dit en skei dit weer aan die teenoorgestelde kant van die sel uit. Die tipe uitskeiding kom by sowel endokriene as eksokriene kliere voor. By holokriene sekresie daarteenoor hoop die klierprodukte in die sel op totdat die sel doodgaan en opbreek sodat die produk saam met die selreste vrygestel word. ʼn Tussenvorm, apokriene sekresie, kom ook voor. In hierdie geval verloor 'n sel slegs die gedeelte van sy sitoplasma waarin die opgehoopte produk (die sekreet) voorkom.
Kliere word op grond van hulle funksie in twee groepe verdeel:
Endokriene kliere skei stowwe af wat deur die bloedstroom sirkuleer. Hierdie kleiere wat hulle produkte deur die basale lamina in die bloedstroom afskei het nie ’n vatstelsel nie. Hierdie kliere skei dikwels hormone af en speel ’n belangrike rol in die handhawing van homeostase. Die pineale klier, timusklier, pituitêre klier, skildklier en die twee byniere is almal endokriene kliere.
Endokriene kliere skei hul produkte, die hormone. direk in die bloedstroom uit, van waar dit na ander dele van die liggaam vervoer word. Van die belangrikste endokriene kliere is die epifise, hipofise, skildklier, byskildklier, timus, byniere, die eilandjies van Langerhans en die geslagskliere. Die meeste kliere het ʼn komplekse struktuur wat bestaan uit stringe selle wat geskei word deur ʼn groot aantal vertakte bloedvaatjies (kapillêres). Die skildklier bestaan uit afskeidingsholtes (follikels) met 'n wand wat een sellaag dik is. Die bloedvaatjies lê tussen hierdie follikels.
Die chemiese samestelling van die hormone wat deur die kliere afgeskei word, verskil en daar kan onderskei word tussen proteïen-, glikoproteïen- en polipeptiedhormone. Hierdie tipe hormone word gewoonlik as korrels in afskeidingsholtes in die sel geberg. Wanneer hierdie afskeidingsholtes tot teenaan die selmembraan gedruk word, kan hulle oopbars en die hormone vrystel.
Benewens bogenoemde hormoontipes is daar ook steroïedhormone wat waarskynlik in die mitochondrieë van selle gesintetiseer word. Daar is geen aanduidings dat hierdie tipe hormone geberg word nie. Steroïedhormone kan in 'n opgeloste vorm ongehinderd deur die selmembrane beweeg. Wanneer die hormone buite die sel beland, moet hulle nog deur die basaalmembraan beweeg asook deur die endoteelsellaag waaruit die wand van die bloedvate saamgestel is. Die endoteel besit hiervoor spesiale dun, deurlaatbare plekke wat as fenestra bekend staan.
'n Endokriene klier word geaktiveer deur die sentrale senuweestelsel of deur ander endokriene kliere, of 'n kombinasie daarvan. Die samehang tussen al hierdie faktore is baie belangrik vir die regulering van die verskillende fisiologiese aktiwiteite van die liggaam. Hierdie aktiwiteite sluit in die aktivering, onderdrukking of instandhouding van sellulêre funksies elders in die liggaam. Die epifise (pineale klier) is ʼn klein orgaantjie wat by die mens in die derde ventrikel van die brein geleë is. Die funksie van die klier is nie volkome duidelik nie maar daar word aangeneem dat dit deur middel van 'n hormoon 'n rol speel by die regulering van die ritmiese aktiwiteite van die endokriene sisteem.
Die hipofise is by die mens ongeveer 100 mm in deursnee en is geleë in die cella turcica in die basis van die skedel. Die hipofise is die klier wat verreweg die belangrikste regulerende invloed op die hele organisme uitoefen. Dit produseer minstens 9 hormone: somatotrope hormoon (STH), follikelstimulerende hormoon (FSH), luteïniserende hormoon (LH of ICSH), prolaktien, adrenokortikotrofiese hormoon (ACTH), tiroïedstimulerende hormoon (TSH), melanosietstimulerende hormoon (MSH), oksitosien en vasopressien. Die hipofise bestaan uit twee dele, naamlik die neurohipofise en die adenohipofise. Die neurohipofise ontwikkel as 'n uitsakking aan die onderkant van die diënsefalon en kan om die rede as 'n deel van die sentrale senuweestelsel beskou word.
Die adenohipofise ontstaan gedurende embrionale ontwikkeling as 'n dorsale (aan die bokant geleë) uitstulping in die dak van die mondholte (Rathke se divertikel). Die twee dele ontwikkel verder tot die hipofise. Die skildklier (tiroïedklier) bestaan ook uit twee lobbe wat deur middel van 'n smal tussenstuk met mekaar verbind is. Die klier lê teenaan die larinks of strottehoof. Dit bestaan uit 'n groot aantal follikels of blasies wat omring is deur selle wat deur hulle basale kant stowwe uit die bloed opneem en die tiroïedhormoon deur hul ander kant in follikels uitskei. Daarvandaan word dit weer in die bloedstroom afgegee. Die tiroksienhormoon wat in die skildklier gevorm word, bevat jodium en speel 'n rol in metabolisme en groei.
Die byskildklier (paratiroïedklier) bestaan uit selle wat dig op mekaar geleë is en soms in stringe gerangskik is. Die paratiroïedhormoon wat deur die klier afgeskei word, reguleer die kalsiumvlakke in die bloed. Die timus is 'n orgaan waarin die limfosiete, 'n sekere klas witbloedliggaampies, gevorm word. Daar word waarskynlik ook 'n hormoon geproduseer. Die klier is veral by pasgeborenes en jong mense en diere goed ontwikkel. Met toenemende ouderdom verloor die timus sy funksie en word dit vervang deur vetweefsel.
By die meeste soogdiere lê die timus teenaan die perikardium ('n membraansak om die hart) op die plek waar die groot bloedvate die hart binnekom. Die bynier lê aan die bokant van die nier en bestaan uit twee dele wat duidelik van mekaar onderskei kan word, naamlik die bynierskors en die byniermedulla (murggedeelte). Die skors of korteks produseer die kortikosteroïede en die androgene en estrogene hormone. Die medulla produseer adrenalien en noradrenalien, wat 'n rol speel by die regulering van die bloeddruk.
Die eilandjies van Langerhans vorm die endokriene deel van die pankreas. Hulle bestaan uit gevormde groepies epiteelselle wat deur middel van bloedvaatjies baie goed van bloed voorsien is. Daar kan onderskei word tussen alfaselle, wat die hormoon glukagon afskei, en betaselle, wat die baie bekende hormoon insulien produseer. Die testis is 'n tweeledige klier met sowel 'n endokriene as 'n eksokriene funksie. Die endokriene gedeelte bestaan uit interstisiële selle (Leydig se selle) wat die manlike geslagshormone testosteroon produseer. Hierdie hormone is verantwoordelik vir sekondêre geslagskenmerke soos baardgroei. Onder die invloed van die hipofisehormone produseer die ovarium ook 'n aantal hormone soos estrogeen en progesteroon.
Eksokriene kliere skei hulle produkte af deur ’n buis op ’n buite-oppervlak van die liggaam, soos die vel of die menslike spysverteringstelsel. Sekresie is direk op die apikale oppervlak. Die kliere in hierdie groep in in drie groepe verdeel word:
Die soort afskeidingsproduk van eksokriene kliere kan ook in een van drie kategorieë val: