Kluitjie | ||
Joodse kibbeh. | ||
Soort gereg | Gekookte kos | |
Hoofbestanddeel | Meel | |
Ander bestanddele | Aartappel, rys, vleis, pampoen, lewer, ens. |
Kluitjies is ’n breë klassifikasie vir ’n gereg wat uit stukkies deeg bestaan en gebak, gebraai, gekook of gestoom word. Die deeg is dikwels om bestanddele soos vleis of groente gedraai.
Souskluitjies is ’n tipies Suid-Afrikaanse gereg. Dit word gemaak van kluitjies meel of rys wat met ’n lepel in kookwater geplaas en dan gekook word.[1] Daarna word dit met botter, suiker en kaneel voorgesit, en soms met vla.[2][3] Nog ’n Suid-Afrikaanse gereg waarin kluitjies voorkom, of soms deegsnysels, is melkkos. Die snysels of kluitjies word in melk gekook en dan daarmee opgedien. Strooisuiker word ook oorgestrooi.[4][5] ’n Groot verskeidenheid kluitjies kom in Suid-Afrika voor. Benewens meel kan die basis ook bestaan uit gekookte rys, groente of lewer. Kluitjies kan ook in ’n sop of bredie gekook word, of in ’n stroop vir ’n soet gereg.
In Afrikaans kan kluitjie ook "leuen" beteken, soos in die skertsende uitdrukking "om kluitjies te bak": om leuens te vertel.
Ghana se banku en kenkey is ook deegballe wat gekook of gestoom word en dus ook ’n vorm van kluitjies. Dit word van gegiste mieliemeel gemaak. Banku word gekook en moet voortdurend geknie word, terwyl kenkey gedeeltelik gekook en dan in mielie- of piesangblare gaargestoom word.[6]
Tihlo, wat sy oorsprong in die Tigray-streek van Ethiopië het en van geroosterde gortmeel gemaak word, is nou ook in omliggende gebiede gewild.[7]
Kluitjies is oral in die streek gewild.[8] Manti of mantoe is ’n gestoomde kluitjie in Sentraal-Asië en China. Dit bevat ’n mengsel van gemaalde lams- of beesvlies wat met swartpeper gegeur is. Dit word voorgesit met botter, jogurt, suurroom of uiesous. Chuchvara is ook gewild in Oezbekistan en Tadjikistan. Dit word gemaak van ongesuurde deegvierkante wat met vleis gevul is. Dit is soortgelyk aan die Russiese pelmeni en die Chinese wonton. Die chuchvara kan alleen of in ’n helder sop voorgesit word.
In China is ’n legende dat kluitjies in die tyd van die Drie Koninkryke, omstreeks 225 n.C., uitgevind is. Die jiaozi is ’n algemene Chinese kluitjie wat gewoonlik uit maalvleis en fyn gekapte groente bestaan. Die deegvel wat omgedraai word, kan dun of dik wees. Ander bestanddele soos vis, kool, knoffel of roereiers kan ook gebruik word. Dit word gewoonlik gekook, gestoom of gebraai en word veral met die Chinese Nuwejaar of op familiereünies geëet. As die kluitjies in ’n dun laag water in ’n pan geplaas word en dan met die deksel op gaargestoom word, word dit guotie genoem. Wonton het meer vleis in en word in sop gekook.
In Indië is verskeie geregte wat as kluitjies kwalifiseer. Ada is ’n soet Suid-Indiese gereg wat klapper en suiker bevat. Bhajia word met vrugte of groente gevul en fara met lensies en ander lekkernye. Gujia is ’n soet kluitjie en kachori ’n ronde deegbal met ’n gebakte vulsel in. Ander soorte kluitjies sluit in karanji, kozhukkatta (soet of sout), modak pidi (met kerriehoender) en pitha (gestoom of diepgebraai).
In Japan is dango ’n soet kluitjie wat heeljaar geëet word, maar met verskillende vulsels na gelang van die seisoen. Dit word aan ’n rygpen voorgesit. Nikuman is die Japannese weergawe van die Siberiese baozi.
Kluitjies wat met balle deeg gemaak word, is deel van die Britse en Ierse kookkuns. Die deegballe word met sout en peper gegeur en in ’n pot sop of bredie gegooi. Dit is ná sowat 10 minute gaargekook en –gestoom. Ander geurmiddels kan ook by die deeg gevoeg word en kaas kan in die middel gesit word.
Duitsland, Roemenië, Oostenryk, Tsjeggië en Slowakye spog met ’n groot verskeidenheid kluitjies, soet én sout. Die algemeenste soort hier word van meel en eiers gemaak en in water gekook. Ander kluitjies kan vleis of lewer bevat. Lewerkluitjies word dikwels saam met sop opgedien.
Halušky is ’n tradisionele verskeidenheid kluitjies wat in Sentraal- en Oos-Europa (Tsjeggië, Hongarye, Pole, Roemenië, Serwië, Slowakye en Oekraïne) gemaak word. Dit is klein klonte dik deeg wat in water gekook word.
In Roemenië word kluitjies met pruime in galusca cu prune genoem en in Hongarye nokedli. Dit word gemaak deur die deeg om die pruime of appelkose te draai en as dit gaar is in warm broodkrummels met botter te rol.
Bryndzové halušky, wat as die Slowake se nasionale gereg beskou word, is klein aartappelkluitjies sonder ’n vulsel wat met sout skaapkaas bo-op voorgesit word. ’n Ander weergawe, pirohy, word gewoonlik gevul met kaas, aartappels, uie, kool, sampioene en vleis.
In Tsjeggië kan kluitjies twee vorme aanneem: knödel, ’n brood- of aartappelkluitjie wat in snye gesny word, of ovocné knedlíky, wat vrugtevulsels kry en voorgesit word met dikmelkkaas, botter en suiker.
Khinkali is ’n Georgiese kluitjie[9] waarvan die vulsels van streek tot streek wissel.
Pierogi van Pole, wareniki van Oekraïne en pelmeni van Rusland en Belarus is ravioli-agtige kluitjies met sout of soet vulsels. Wareniki word gewoonlik gekook of gestoom. Pierogi word dikwels gebraai nadat dit gekook is.
Uszka (Pools), oesjki (Russies) of woesjka (Oekraïens) is ringvormige kluitjies wat met vleis of sampioene gevul word en tradisioneel saam met borsjt of helder sop voorgesit word. Kluski is ook ’n soort Poolse kluitjie.
Die Russiese pelmeni is klein en kry net maalvleis en speserye in. Dit word gewoonlik in water met speserye en sout in gekook of in vleissop. Hulle moet klam binne wees en word voorgesit saam met baie suurroom.
In Siberië, veral Boerjatië, is gestoomde kluitjies met die naam pozi (buuz in Mongools) baie gewild. Hulle word gewoonlik van ongesuurde deeg gemaak, maar nie altyd nie. Die tradisionele vulsel is vleis, maar die soort vleis wissel.