Kollektiewe onbewuste (Duits: kollektives Unbewusstes), 'n term wat deur Carl Jung geskep is, verwys na strukture van die onbewuste wat deur lede van dieselfde spesie gedeel word. Volgens Jung word die menslike kollektiewe onbewuste deur instinkte en argetipes geokkupeer: universele simbole soos die Groot Moeder, die Wyse Ou Man, die Skaduwee, die Toring, Water, die Boom van Lewe en baie ander.
Die naam "kollektiewe onbewuste" het vir die eerste keer in Jung se 1916-essay "The Structure of the Unconscious" verskyn.[1] Hierdie essay onderskei tussen die "persoonlike" Freudiaanse onbewuste, gevul met seksuele fantasieë en onderdrukte beelde, en die "kollektiewe" onbewuste wat die siel van die mensdom as geheel omsluit.[2]
Op 19 Oktober, 1936, hou Jung 'n lesing "The Concept of the Collective Unconscious" voor die Abernethian Society by die St. Bartholomew's Hospital in Londen.[3] Hy het gesê:
My tesis is dan soos volg: Benewens ons onmiddellike bewuste wat van 'n suiwer persoonlike aard is en wat vermoedelik die enigste empiriese psige is, bestaan daar 'n tweede psigiese stelsel van 'n kollektiewe, universele en onpersoonlike aard wat identies in alle individue is. Hierdie kollektiewe onbewuste is oorgeërf. Dit bestaan uit vooraf bestaande vorms, die argetipes, wat slegs sekondêr tot bewussyn kom en 'n definitiewe vorm aan sekere psigiese inhoud gee.[4]
Jung het die kollektiewe onbewuste verbind met dit wat Freud "argaïese oorblyfsels" genoem het – verstandelike vorms waarvan die teenwoordigheid nie deur enigiets in die individu se eie lewe verklaar kan word nie en wat inheemse, ingebore en oorgeërfde vorms van die menslike verstand is.[5]
Wanneer die moderne mens sy individuasieproses ondergaan en uit die kollektiewe onbewuste na sy volwasse self beweeg, word 'n persona gevestig — daardie klein gedeelte van die kollektiewe psige wat die individu beliggaam, waarmee hy optree en identifiseer.[6]
Jung se uitleg van die kollektiewe onbewuste bou voort op die klassieke kwessie in die sielkunde en biologie rakende die natuur versus die leer (nature versus nurture). Indien ons aanvaar dat die natuur, of oorerflikheid, 'n invloed op die individuele psige het, moet ons vra hoe hierdie invloed in die werklikheid inslaan.[7]
Argetipes en instinkte bestaan gelyktydig in die kollektiewe onbewuste as onderling afhanklike teenoorgesteldes, sou Jung later verklaar.[8][9] Terwyl intuïtiewe begrip by die meeste diere volkome met instink verweef is, het die argetipes in mense 'n afsonderlike register vir verstandelike verskynsels geword.[10]
Volgens Jung beleef mense vyf instinkte: honger, seksualiteit, aktiwiteit, refleksie en kreatiwiteit. Hierdie instinkte, in volgorde van toenemende abstraksie, veroorsaak en beperk menslike gedrag, maar laat ook ruimte vir vryheid in hulle implementering en veral in hulle interaksie. Selfs 'n eenvoudige honger gevoel kan tot baie verskille response lei, insluitend metaforiese sublimering.[10][11] Verskeie lesers van Jung het opgemerk dat hy in sy hantering van die kollektiewe onbewuste, 'n ongewone kombinasie van onontwikkelde "laer" kragte en geestelike "hoër" kragte suggereer.[12]
In 'n vroeë definisie van die term, skryf Jung: "Argetipes is tipiese begripswyses, en oral waar ons uniforme en herhaaldelike begripswyses teëkom, het ons met 'n argetipe te make, ongeag of die mitologiese karakter herken word of nie."[13]
Hierdie argetipes bestaan in 'n wêreld buite die chronologie van 'n menslike leeftyd, en ontwikkel op 'n evolusionêre tydskaal. Wat die animus en anima betref, die manlike beginsel in die vrou en die vroulike beginsel in die man, skryf Jung:
Hulle bestaan en funksioneer klaarblyklik in die dieper lae van die onbewuste, in die kollektiewe onbewuste. Hierdie lokalisering verklaar heelwat van hulle vreemdheid: hulle bring 'n onbekende psigiese lewe uit 'n verre verlede na ons kortstondige bewuste. Dis ons onbekende voorouers se manier van dink en voel, die manier waarop hulle die lewe en die wêreld, gode en mense beleef het, hulle psige. Die bestaan van hierdie argaïese strata is vermoedelik die oorsprong van die mens se geloof in reïnkarnasie en herinneringe aan "vorige ervarings." Net soos die menslike liggaam, is die menslike psige ook 'n museum van sy filogenetiese geskiedenis.[14]
Dit is nie moontlik om 'n volledige lys van argetipes op te stel of om die verskille tussen argetipes heeltemal te uit te beeld nie.[15] Ten spyte hiervan het June Singe 'n gedeeltelike lys van deeglik bestudeerde argetipes saamgestel en in pare van teenoorgesteldes gelys:[16]
Ego | Skaduwee |
---|---|
Groot Moeder | Vreeslike Moeder |
Wyse Ou Man | Bedrieër |
Anima | Animus |
Betekenis | Absurditeit |
Sentraliteit | Verstrooiing |
Orde | Chaos |
Teenstand | Samevoeging |
Tyd | Ewigheid |
Heilig | Wêrelds |
Lig | Duisternis |
Transformasie | Vastheid |
Wanneer die moderne mens sy individuasieproses ondergaan en uit die kollektiewe onbewuste na sy volwasse self beweeg, word 'n persona gevestig — daardie klein gedeelte van die kollektiewe psige wat hy beliggaam, waarmee hy optree en identifiseer.[17]
Jung het herhalende temas voorgelê as bewyse vir die bestaan van psigiese elemente wat deur alle mense gedeel word. Byvoorbeeld: "Die slangmotief was beslis nie 'n individuele verwerwing van die dromer nie, want slangdrome is baie algemeen onder stadsbewoners wat waarskynlik nog nooit 'n regte slang gesien het nie."[18][19] Nog sterker bewyse het volgens hom aan die lig gekom wanneer pasiënte komplekse beelde en narratiewe met verborge mitologiese parallelle beskryf.[20]
Popperiaanse kritikus Ray Scott Percival betwis sommige van Jung se voorbeelde en redeneer dat sy sterkste bewerings nie weerlegbaar is nie. Percival beskuldig Jung van oordrewe determinisme en skryf: "Hy kon nie die moontlikheid insien dat mense soms idees skep wat nie voorspel kan word nie, selfs in beginsel." Betreffende die bewering dat alle mense sekere denkpatrone toon, redeneer Percival dat hierdie gemeenskaplike patrone deur gemeenskaplike omgewings verklaar kan word (i.e. deur die leer, nie die natuur nie). Aangesien alle mense gesinne het, plante en diere teëkom, en nag en dag ervaar, is dit nie verrassend dat hulle basiese verstandelike strukture rondom hierdie verskynsels sal ontwikkel nie.[21]
Bewyse vir die bestaan van 'n kollektiewe onbewuste, en insig daarin, kan hoofsaaklik uit drome en die aktiewe verbeelding verkry word.[22]
Jung het gemeen dat "die skaduwee" en die anima en animus van die ander argetipes verskil aangesien daar 'n meer direkte verband tussen hulle inhoud met die individu se persoonlike situasie is.[23] Jung het pasiënte aangemoedig om direkte, bewuste dialoog met hierdie innerlike persoonlikhede te voer.[24] Terwyl die skaduwee gewoonlik die persoonlike onbewuste verpersoonlik, kan die anima of Wyse Ou Man as verteenwoordiger van die kollektiewe onbewuste optree.[25]
Op grond van sy interpretasie van sinchronisiteit en ekstrasensoriese persepsie het Jung voorgehou dat psigiese aktiwiteit die brein te bowe gaan.[26]
Die menslike psige bemiddel tussen die oerkrag van die kollektiewe onbewuste en die belewenis van bewussyn of droom. Simbole mag dus interpretasie vereis voordat hulle as argetipes verstaan kan word.
'n Enkele argetipe kan op baie verskillende manier manifesteer. Die Moeder-argetipe is byvoorbeeld nie net van toepassing op ma's, oumas, stiefma's, skoonma's en mitologiese moeders nie, maar ook op verskeie konsepte, plekke, voorwerpe en diere:
Simbole van die moeder verskyn in konsepte wat die vervulling van ons verlange na verlossing verteenwoordig, soos die paradys, die koninkryk van God, die hemelse Jerusalem. Baie konsepte wat 'n gevoel van toewyding of ontsag uitlok, byvoorbeeld die kerk, hemel, aarde, die onderwêreld en die maan, kan moedersimbole wees. Dié argetipe word dikwels met dinge en plekke geassosieer wat vrugbaarheid verteenwoordig: 'n geploegde land of 'n tuin. Dit kan ook aan 'n diep put, of houers soos 'n doopvont of komvormige blomme soos die roos of die lotus gekoppel word. Weens die beskerming wat dit impliseer, kan die mandala 'n vorm van die moeder-argetipe wees. Hol voorwerpe soos oonde of bakke word met die moeder-argetipe geassosieer en vanselfsprekend die uterus, joni, en enigiets met 'n soortgelyke vorm. Die lys sluit ook verskeie diere soos die koei en haas in.[27]
'n Mens kan 'n droom egter nie eenvoudig dekodeer deur te aanvaar dat hierdie betekenisse konstant is nie. Argetipiese verduidelikings werk die beste wanneer 'n reeds bekende mitologiese vertelling gebruik kan word om 'n individu se verwarrende ervaring te verduidelik.[19]
Psigoterapie wat op analitiese sielkunde gebaseer is, het ten doel om die verhouding tussen 'n persoon se individuele bewussyn en die dieper, onderliggende gemeenskaplike strukture te ontleed. Persoonlike ervarings aktiveer argetipes in die psige en verleen betekenis en inhoud daaraan.[28] Argetipes is terselfdertyd op bedekte wyse besig om menslike ervarings en herinneringe te organiseer, maar die kragtige effek daarvan word eers indirek, agterna beskou, duidelik.[29][30] 'n Begrip van die krag van die kollektiewe onbewuste kan 'n individu help om sy weg deur die lewe te vind.
'n Pasiënt wat die impak van die argetipe verstaan, kan die onderliggende simbool dissosieer van die werklike persoon wat die simbool beliggaam. Sodoende sal die pasiënt nie meer sy gevoelens oor die argetipe outomaties na mense in die gewone lewe oordra nie, en gevolglik sal hy gesonder en meer persoonlike verhoudings geniet.[31]
Elemente van die kollektiewe onbewuste kan onder groepe mense manifesteer wat per definisie almal 'n band met hierdie elemente deel. Groepe mense kan veral vir spesifieke simbole ontvanklik raak weens die historiese situasie waarin hulle hul bevind.[32]
Alhoewel die beskawing mense forseer om hulle bande met die mitologiese wêreld van onbeskaafde samelewings te ontken, was Jung van mening dat aspekte van die primitiewe onbewuste nietemin in die vorm van bygelowe, alledaagse gebruike en onbetwiste tradisies soos die Kersfeesboom herhaal word.[33]
Op grond van empiriese bevindinge het Jung geglo dat alle mense, ongeag ras en geografiese verskille, dieselfde kollektiewe poel instinkte en droombeelde in gemeen het, alhoewel dit weens die vormende invloed van kultuur verskillend manifesteer.[34] Bo en behalwe die primitiewe kollektiewe onbewuste, mag dit ook wees dat mense binne 'n sekere kultuur bykomende primitiewe kollektiewe idees deel.[35]
Die universele toepasbaarheid van argetipes het nie die aandag van bemarkingspesialiste ontsnap nie. Hulle het opgemerk dat handelsmerkgewing (branding) met verbruikers resoneer wanneer daar tot argetipes in die kollektiewe onbewuste gespreek word.[36][37]