’n Konka (Xhosa: inkonkxa, "blik") is ’n houer vir warm kole, dikwels in die vorm van ’n staande of hangende bak of blik. Dit word gewoonlik gebruik om ’n vuur met steenkool in te maak en verskaf hitte, maar kan ook gebruik word vir kookdoeleindes en kulturele rituele.
Konkas is op baie vroeë argeologiese terreine ontdek, soos die Nimrud-vuurbak wat ’n paar jaar gelede deur die Irakse Nasionale Museum opgegrawe is en uit 824 v.C. of selfs vroeër dateer.[1]
Die Hebreeuse woord vir konka is van Egiptiese oorsprong en dit dui daarop dat dit van Egipte af ingevoer is. In die Bybel word twee keer na konkas verwys: Genesis 15:17 ("oond" in die Afrikaanse Bybel) en Jeremia 36:22-23 ("bak gloeiende kole"; "kolebak").
Die Romeinse keiser Jovianus is deur koolstofmonoksied vergiftig nadat hy in 364 in sy tent die walms van ’n konka ingeasem het, en dit het ’n einde gebring aan die afstammingslyn van Konstantyn die Grote.
Ondanks die gevare van die verbranding van kole in oop vure, word dit algemeen gebruik as ’n bron van hitte. In baie kulture is ’n unieke weergawe van die konka ontwikkel. In Suid-Afrika word 'n groterige blik, gewoonlik ’n leë paraffienblik, se wand vol gate gekap voordat ’n vuur daarin gemaak word vir verwarming of om kos te kook.[2]
Soms word die hittebron onder ’n lae tafel geplaas met komerse oorgegooi om die hitte vas te vang: die kotatsu in Japan, die korsi in Iran, die sandali in Afganistan[3] en die voetstoof in Noord-Europa. In Spanje was die brasero die hoofbron van verhitting in huise tot vroeg in die 20ste eeu.[4]
Wanneer roos- en wingerdsnoeisels gebrand word, stel dit ’n skerp, soet rook vry en dit is ook ’n goeie brandmiddel. Wanneer die dampe oorheersend raak, word aromatiese middels (laventelsaad of lemoenskille) soms bygevoeg.[5]
In Japannees word ’n oop konka ’n hibachi genoem. Dit word hoofsaaklik vir kookdoeleindes gebruik en in rituele soos die Japannese teeseremonie.