Kosmologie (van die Griekse woord κόσμος kosmos, "wêreld", en -λογία -logia, "studie van") is ’n tak van sterrekunde wat die oorsprong en evolusie van die heelal bestudeer, van die Oerknal tot vandag en in die toekoms. Fisiese kosmologie is die wetenskaplike studie van die oorsprong van die heelal, sy grootskaalse strukture en dinamika, en sy uiteindelike lot, sowel as die wetenskapwette wat op hierdie gebiede van toepassing is.[2]
Die term "kosmologie" is in 1656 die eerste keer gebruik, in Engels in die leksograaf Thomas Blount se Glossographia,[3] en daarna in 1731 in Latyn deur die Duitse filosoof Christian Wolff in Cosmologia Generalis.[4]
Godsdienstige of mitologiese kosmologie is ’n stelsel oortuigings wat gebaseer is op mitologiese, godsdienstige en esoteriese geskrifte oor skeppingsmites en eskatologie.
Fisiese kosmologie word bestudeer deur wetenskaplikes soos sterrekundiges en fisici, sowel as filosowe soos metafisici en ander. Vanweë dié gedeelde terrein met filosofie kan teorieë in fisiese kosmologie beide wetenskaplike en niewetenskaplike voorstelle insluit en kan hulle berus op aannames wat nie getoets kan word nie. Kosmologie verskil van sterrekunde deurdat eersgenoemde betrekking het op die heelal as ’n geheel, terwyl laasgenoemde betrekking het op individuele hemelliggame.
Moderne fisiese kosmologie word oorheers deur die Oerknalteorie, wat probeer om waarneembare sterrekunde en deeltjiefisika te kombineer;[5][6] meer spesifiek ’n paremetrisering van die Oerknal met donker materie en donker energie, bekend as die Lambda-KDM-model.
Die teoretiese astrofisikus David N. Spergel het kosmologie beskryf as ’n "historiese wetenskap", want "wanneer ons na die ruimte kyk, kyk ons terug in die verlede" vanweë die beperktheid van ligsnelheid.[7]
Fisika en astrofisika het ’n sentrale rol gespeel in die vorming van ’n begrip van die heelal deur wetenskaplike waarnemings en eksperimente. Beide wiskunde en waarnemings het ’n rol gespeel in fisiese kosmologie om die hele heelal te ontleed. Daar word algemeen geglo die heelal het begin met die Oerknal, en dit is feitlik onmiddellik gevolg deur kosmiese inflasie: ’n metriese uitdying van die ruimte waaruit die heelal 13,799 ± 0,021 miljard jaar gelede ontstaan het.[8] In kosmogonie word die oorsprong van die heelal bestudeer en in kosmografie die eienskappe van die heelal.
In Diderot se Encyclopédie word kosmologie verdeel in uranologie (die wetenskap van die hemele), aërologie (die wetenskap van die lug), geologie (die wetenskap van die kontinente) en hidrologie (die wetenskap van water).[9]
Metafisiese kosmologie is ook al beskryf as die plasing van die mens in die heelal in verhouding tot alle ander entiteite. Dit word geïllustreer deur Markus Aurelius se waarneming oor die mens se plek in daardie verhouding: "Hy wat nie weet wat die wêreld is nie weet nie waar hy is nie, en hy wat nie weet om watter rede die wêreld bestaan nie weet nie wie hy is of wat die wêreld is nie."[10]