Kot Diji کوٹ ڈیجی | |
---|---|
Argeologiese terrein | |
Die Kot Diji-fort van die dorp af gesien. | |
Koördinate: 27°20′44″N 68°42′24″O / 27.34556°N 68.70667°OKoördinate: 27°20′44″N 68°42′24″O / 27.34556°N 68.70667°O | |
Land | Pakistan |
Distrik | Sindh |
Opgrawings | 1955, 1957 |
Die antieke terrein by Kot Diji (Oerdoe: کوٹ ڈیجی) in Pakistan was die voorloper van die Indusvalleibeskawing. Die terrein was reeds teen 3300 v.C. bewoon. Die oorblyfsels bestaan uit twee dele: die fortgebied op hoë grond (sowat 12 m) en ’n buitegebied. Pakistan se departement van argeologie het in 1955 en 1957 opgrawings daar gedoen.[1]
Dit is in die Pakistanse distrik Sindh geleë, aan die oosteroewer van die Indus regoor Mohenjo-Daro. Dit lê aan die voet van die Rohriheuwels en ’n fort is in 1790 gebou. Die fort, op die kant van ’n steil heuwel, is goed bewaar.
Die terrein is 2,6 ha groot. Die vroegste besetters was voor-Harappa, of vroeg in die vorming van die vroeë Harappa.[2]
Teen die tyd van die eerste laag, Kot Diji I (2605 v.C.), is koper en brons nog nie gebruik nie.[3] Die huise en versterkings was van ongebakte modderstene. Wapens soos pylpunte toon ooreenkomste met Mundigak-lae II-IV. Die pottebakkersware lyk voor-Harappa.[4] Later is brons gebruik, maar net vir persoonlike versierings.
Potte wat ontdek is, het ontwerpe met horisontale en golwende strepe, of ringe en eenvoudige driehoekpatrone. Ander voorwerpe wat gevind is, sluit in panne, houers, balle, armbande, krale, terracottafigure, brons pynpunte en goeie steenwerktuie. ’n Interessante vonds by Kot Diji is ’n speelgoedkar, wat wys die pottebakkerswiel moes reeds gebruik gewees het om wiele vir die oskarre van dié tyd te maak.
Geglasuurde seepsteenkrale is gemaak en daar was ’n duidelike oorgang van die Ravi-pottebakkersware na dié van die Kot Diji-fase. Rooi en swart geverfde ontwerpe het die veelkleurige versierings van die Ravi-fase vervang. Daarna was daar ’n geleidelike oorgang na wat oor die algemeen Harappa-fase-pottebakkersware genoem word.[5]
Vroeë Indusskrif kon op seëls en potte begin verskyn het. Die gebruik van seëls met inskripsies en die standaardisering van gewigte is moontlik in die Kot Diji-tydperk.[6]
Daar is duidelike tekens van groot brande oor die hele terrein (in sowel die laer woondeel as die hoër, ommuurde dorp), wat ook gesien kan word by ander terreine uit die Vroeë Harappa: tydperk III by Gumla, tydperk II by Amri, tydperk ID by Naushero. Daar is egter steeds geen verduideliking vir die verlating van die terreine teen die einde van die Vroeë Harappa-fase nie.[7]