Krieket Ierland

Krieket Ierland
Kenteken van Krieket Ierland
Kenteken van Krieket Ierland
Engelse naam Cricket Ireland
Afkorting CI
Lande Flag of Ireland Ierland en Vlag van Noord-Ierland Noord-Ierland
Sportsoort Krieket
Stigting 1923
Lid van Internasionale Krieketraad
Aangesluit op 6 Julie 1993
Vastelandse beheerliggaam Europese Krieketraad
President William Wilson
Voorsitter Brian MacNeice
Hoof- uitvoerende beampte Warren Deutrom
Setels Clontarf en Malahide, Dublin, Ierland
Amptelike taal Engels
Amptelike webwerf cricketireland.ie

Krieket Ierland (Engels: Cricket Ireland, afgekort “CI”), oftewel die Ierse Krieketunie (Irish Cricket Union, “ICU”), is die bestuursliggaam wat krieket in Ierland (beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland) beheer. Die beheerliggaam is in 1923 gestig en het sy setels in Clontarf en Malahide, Dublin. Sedert 2017 verteenwoordig dit Ierland by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en ook by die Europese Krieketraad (European Cricket Council, “ECC”).

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

In 1890 is ’n vroeë voorloper van Krieket Ierland gestig, maar hul enigste taak was om die Ierse internasionale span saam te stel.[1] Die Ierse Krieketunie is amptelik in 1923 deur verteenwoordigers uit Munster, Northern, Connacht en North West gestig.[2] Tot in die vroeë 1990’s is Ierland (net soos Skotland) amptelik verteenwoordig deur die Engelse nasionale krieketspan[3] wat as ’t ware die span van die hele Verenigde Koninkryk en die Republiek Ierland was. Ierland het in 1993, een jaar vroeër as Skotland, by die IKR as ’n assosiaatlid aangesluit.[4][5][6]

In Januarie 2012 het Krieket Ierland se hoof- uitvoerende beampte, Warren Deutrom, Ierland se voorneme, om teen 2020 toetskrieket te speel, openlik verklaar. Hul begeerte om toetstatus te bereik, was deels te danke aan die struikelblok van Ierse spelers wat die verblyfreëls gebruik het om toetskrieket in Engeland te speel. Deutrom het die ambisie uiteengesit toe hy die nuwe strategiese plan vir Ierse krieket in die tydperk tot 2015 onthul het. Dié plan het ’n reeks van strekdoelwitte, insluitende die verhoging van die deelnemende spelers tot 50 000, die vordering tot die agtste plek in die wêreldranglys, die oprigting van ’n plaaslike eersterangse struktuur, en die bevordering van krieket tot die vyfde gewildste spansport in Ierland, ingesluit.[7][8]

Deutrom het reeds in 2009 ’n brief vir die IKR gestuur, waarin hy die voorneme van sy raad om vir volle lidmaatskap aansoek te doen verklaar het – ’n moontlike pad na toetskrieket toe – en om duidelikheid oor dié proses te verkry.[9] Daar was egter geen vaste kriterias nie, waarvolgens dit onduidelik was, wanneer Ierland hierdie stap sou doen.[10] Die voormalige Australiese kolwer Jason Gillespie het gesê dat indien Ierland toetsstatus sal verkry, sal „dit groot nuus vir wêreldkrieket wees, en dit sou ’n massiewe positiewe verhaal vir die wêreldspel wees.“[11] Ná Ierland se oorwinning teen Wes-Indië tydens die Krieketwêreldbeker 2015 het die voormalige Wes-Indiese snelbouler Michael Holding gesê dat die IKR onmiddellik toetsstatus aan Ierland moet toeken: „hulle moet nou erken word“.[12] Die IKR het in 2015 verduidelik dat Ierland in 2019 toetsstatus sal verkry, indien hulle die Interkontinentale beker 2015–17 wen en die tiende geplaaste toetsland tydens ’n vier-toetsreeks in 2018 verslaan.[13] Op 22 Junie 2017, ná meer as ’n dekade se internasionale krieket van hoogste gehalte, is tydens ’n IKR-vergadering in Londen volle lidstatus aan Ierland (saam met Afghanistan) toegeken, waarvolgens hulle die elfde toetsspan geword het.[14]

Krieket Ierland organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Ierland se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die Men in Green of Green Whites), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Krieket Ierland verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Ierse span.

Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Ierland.[15] Net soos ander krieketlande beskik Ierland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[16] Ireland Wolves is die tweede nasionale span van Ierland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Ierland is die Interprovinsiale Kampioenskap in eersterangse krieket (drie spanne), die Interprovinsiale Beker in EDI-krieket (vier spanne) en die Interprovinsiale Trofee in T20-krieket (vier spanne). In 2019 het Krieket Ierland saam met die Koninklike Nederlandse Krieketbond en Krieket Skotland die Euro T20 Slam aangekondig. Aan dié nuwe toernooi sal twee spanne elk uit Ierland, Nederland en Skotland deelneem.[17]

Krieket Ierland organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die Krieketwêreldbeker 1999 (saam met Engeland, Nederland en Skotland). Saam met Engeland en Skotland sal Ierland ook die T20I-wêreldbeker 2030 aanbied.[18]

Simbole

[wysig | wysig bron]
Vlag van Krieket Ierland

Krieket Ierland se embleem bevat ’n klawerblaar (Shamrock) op ’n krieketbal. Tydens wedstryde word net die beheerliggaam se vlag gehys wat die tradisionele Ierse Shamrock-embleem in groen op ’n donkerblou agtergrond gebruik.

Die Ierse nasionale krieketspan is een van min nasionale spanne op die eiland, wat beide deur Ierse nasionaliste en Unioniste ondersteun word. Aangesien die span sy spelers uit twee aparte lande keur, het dit tot kwessies rondom die vlag en himne tydens hul internasionale wedstryde gelei. As ’n kompromie word sedert die 1990’s voor Ierland se wedstryde Ireland's Call gespeel, ’n spesifiek deur Phil Coulter oorspronklik vir dié eiland se nasionale rugbyspan saamgestelde himne, wat na die vier historiese Ierse provinsies se gevoel van samehorigheid verwys en nie die politieke verdeling noem nie.[19][20]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Gerard Siggins (2005). Green Days: Cricket in Ireland 1792–2005. Nonsuch Publishing Ltd. p. 40.
  2. (en) "A brief history of cricket: Cricket in Ireland". ESPNcricinfo. Besoek op 14 Februarie 2024.
  3. (en) Wisden Cricketers' Almanack (128 uitg.). John Wisden & Co Ltd. 1991. pp. 293, 1321. ISBN 0-947766-16-2.
  4. (en) "1989 – present – International Cricket Council". Internasionale Krieketraad. Besoek op 14 Februarie 2024.
  5. (en) "Ireland". Internasionale Krieketraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Januarie 2013. Besoek op 23 Januarie 2013.
  6. (en) "Ireland". Cricket Archive. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2018. Besoek op 2 Februarie 2018.
  7. (en) "'Ireland set out their goal to play Test cricket". Europese Krieketraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Maart 2016. Besoek op 3 Maart 2016.
  8. (en) "Ireland announce plans to apply for Test status". BBC. 24 Januarie 2012. Besoek op 14 Februarie 2024.
  9. (en) Alex Brown (3 November 2009). "Ireland in hot pursuit of Full Member status". ESPNcricinfo. Besoek op 14 Februarie 2024.
  10. (en) "'Glass ceiling' frustrates Irish". BBC. 3 Junie 2009. Besoek op 14 Februarie 2024.
  11. (en) "Australian Jason Gillespie backs Ireland for full Test status". BBC. 15 Desember 2014. Besoek op 14 Februarie 2024.
  12. (en) "Cricket World Cup: Michael Holding calls for Ireland Test status". BBC. 17 Februarie 2015. Besoek op 14 Februarie 2024.
  13. (en) "Ireland begin bid for Test status against UAE". BBC. 1 Junie 2015. Besoek op 14 Februarie 2024.
  14. (en) "Cricket Ireland". Internasionale Krieketraad. Besoek op 14 Februarie 2024.
  15. (en) "Cricket Ireland Academy". Krieket Ierland. Besoek op 14 Februarie 2024.
  16. (en) Martin Williamson (11 Januarie 2006). "The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 14 Februarie 2024.
  17. (en) "'Euro T20 Slam' – Name of the new European T20 league confirmed". Internasionale Krieketraad. 20 Maart 2019. Besoek op 14 Februarie 2024.
  18. (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 14 Februarie 2024.
  19. (en) Rory Carroll (10 Augustus 2019). "Ireland's Call: how a derided rugby dirge became a song for Irish unity". The Guardian. Besoek op 14 Februarie 2024.
  20. (en) Sharda Ugra (26 Februarie 2013). "One team, two countries, no 'national' anthem". ESPNcricinfo. Besoek op 14 Februarie 2024.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]