Krieket Skotland | |
---|---|
Kenteken van Krieket Skotland
| |
Engelse naam | Cricket Scotland |
Afkorting | CS |
Land | Skotland |
Sportsoort | Krieket |
Stigting | 1879 (1908) |
Lid van | Internasionale Krieketraad |
Aangesluit in | 1994 |
Vastelandse beheerliggaam | Europese Krieketraad |
Setel | Edinburg, Skotland |
Amptelike taal | Engels |
Amptelike webwerf | cricketscotland.com |
Krieket Skotland (Engels: Cricket Scotland, afgekort “CS”), voorheen die Skotse Krieketunie (Scottish Cricket Union, “SCU”), is die bestuursliggaam wat krieket in Skotland beheer. Die beheerliggaam is in 1908 gestig en in Edinburg gesetel. Sedert 1994 verteenwoordig dit Skotland by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n assosiaatlid en ook by die Europese Krieketraad (European Cricket Council, “ECC”).
In 1879 is met die Skotse Krieketunie (Scottish Cricket Union, SCU) die eerste beheerliggaam gestig,[1] wat weens finansiële moeilikhede en ’n dalende ledetal egter net vier jaar bestaan het.[2][3] In 1908 is die Skotse Krieketunie opnuut gestig.[1]
Tot in die vroeë 1990’s is Skotland (net soos Ierland) in internasionale krieket amptelik verteenwoordig deur die Engelse nasionale krieketspan wat as ’t ware die span van die hele Verenigde Koninkryk en die Republiek Ierland was. In 1992 het Skotland sy bande met die Engelse beheerliggaam Toets- en Countykrieketraad verbreek en aansoek gedoen vir eie lidmaatskap in die Internasionale Krieketraad (IKR), wat in 1994 goedgekeur is,[2][1][4] een jaar later as Ierland.[5][6] In 2001 is die beheerliggaam in Krieket Skotland hernoem wat met strukturele hervormings gepaard gegaan het.[7]
Krieket Skotland organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Skotland se nasionale seniorkrieketspan vir mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Krieket Skotland verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Skotse span.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Skotland.[8] Net soos ander krieketlande beskik Skotland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[9]
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Skotland is die Regional Pro Series. In 2019 het Krieket Skotland saam met die Krieket Ierland en Koninklike Nederlandse Krieketbond die Euro T20 Slam aangekondig. Aan dié nuwe toernooi sal twee spanne elk uit Ierland, Nederland en Skotland deelneem.[10]
Krieket Skotland organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die Krieketwêreldbeker 1999 (saam met Engeland, Ierland en Nederland). Saam met Engeland en Ierland sal Skotland ook die T20I-wêreldbeker 2030 aanbied.[11]
Die dissel is die nasionale blom van Skotland en ook die embleem van die Skotse nasionale krieketspan. Volgens ’n legende het die “beskermende dissel” sy rol gespeel tydens die verdediging van Skotland teen ’n snagse aanval deur Noorse Wikings, een van hulle skree van pyn toe hy kaalvoet op ’n dissel trap, wat die Skotse verdedigers waarsku. Die Latynse Nemo me impune lacessit (“Niemand ontlok my ongestraf nie!” in Afrikaans) is ’n antieke leuse van die Skotse monarge, en ook van die voorste ridderorde van Skotland, die oudste en edelste orde van die dissel, en van die Skotswagte (van wie die twee laasgenoemde aan die monarg “behoort” het).[12]