Krystian Zimerman (gebore op 5 Desember, Zabrze) is 'n Poolse pianis en dirigent wat al beskryf is as een van die beste lewende pianiste.[1][2] Hy het in 1975 die 9de Internasionale Chopin Klavierkompetisie gewen.
Zimerman was in Zabrze, in die destydse kommunistiese Pole gebore en het by die Karol Szymanowski Musiekakademie in Katowice onder Andrzej Jasiński gestudeer. Sy loopbaan was 'n hupstoot gegee toe hy die 1975 Warskou Internasionale Chopin Klavierkompetisie gewen het. Hy het in 1976 saam met die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Herbert Blomstedt gespeel[3] en het in 1979 sy debuut in die VSA gemaak saam met die New York Filharmoniese Orkes. Hy het wyd getoer en 'n aantal opnames gemaak. Sedert 1996 gee hy onderrig in klavier by die Musiekakademie in Basel, Switserland. Zimerman het in 1999 die Poolse Fees-orkes geskep om die 150ste jaar sedert Frédéric Chopin se dood te gedenk.[4]
Zimerman[5] is die beste bekend vir sy interpretasies van Romantiese musiek alhoewel hy 'n wye varieteit klassieke stukke speel. Hy is ook 'n ondersteuner van hedendaagse klassieke musiek. Witold Lutosławski het bv. sy klavierconcerto vir Zimerman geskryf, wat dit later twee keer opgeneem het. Van sy bes bekende opnames is die klavierconcertos van Grieg en Schumann met Herbert von Karajan; die Brahms concertos met Leonard Bernstein, die klavierconcertos van Chopin, een wat deur Carlo Maria Giulini gedirigeer is en die latere opname wat deur homself by die klavier gedirigeer is; die Derde, Vierde en Vyfde Klavierconcertos van Beethoven onder Bernstein (Zimerman lei self die Weense Filharmoniese Orkes van die klavier af in Beethoven se Eerste en Tweede Concertos); die eerste en tweede klavierconcertos van Rachmaninoff; die klavierconcertos van Liszt met Seiji Ozawa, die klavierconcertos van Ravel met Pierre Boulez, en solo klavierstukke deur Chopin, Liszt, Debussy en Schubert. In 2006 het Zimerman Brahms se Klavierconcerto No. 1 met die Berliner Philharmoniker, gedirigeer deur Simon Rattle, opgeneem. (DG 477 5413; Limited Edition DG 477 6021).