Ktesifon | |
---|---|
Antieke stad | |
Koördinate: 33°5′37″N 44°34′50″O / 33.09361°N 44.58056°O | |
Land | Irak |
Gebied | Mesopotamië |
Ktesifon (Persies: تیسفون; Grieks: Κτησιφῶν) was 'n antieke stad aan die oostelike oewer van die Tigrisrivier en sowat 35 km suidoos van die hedendaagse Bagdad. Dit was langer as 800 jaar die hoofstad van Iran, ook bekend as Persië, in die tyd van die Partiese en Sassanidiese Ryk.[1]
Ktesifon het in 'n ryk kommersiële sentrum van meer as 600 000 mense ontwikkel en was vol kerke, sinagoges, Boeddhiste-, Zoroastristiese en Mitraïstiese tempels sowel as leidende universiteite en ander opvoedingsinstellings wat met die omringende stede aan albei oewers van die rivier, soos die Hellenistiese stad Seleukië, saamgesmelt het.
Daar is soms na Ktesifon en die omgewing verwys as "Die Stede" (Aramees: Mahuza; Arabies: المدائن, al-Mada'in). Sommige skrywers het dit in die laat 6de en vroeë 7de eeu beskryf as "die grootste stad ter wêreld".[2]
Tydens die Romeins-Partiese Oorloë het Ktesifon drie keer in die hande van die Romeine geval. Ná die Moslemse inval het die stad verval en teen die einde van die 8ste eeu was dit ontvolk. Sy plek as 'n politieke en ekonomiese sentrum is deur die Abbasidiese hoofstad, Bagdad, ingeneem.
Die opvallendste struktuur wat behoue gebly het, is die Taq Kasra, wat soms die Gewelfde Poort van Ktesifon genoem word.[3]
Ktesifon is min of meer by Al-Mada'in, 35 km van die moderne stad Bagdad, Irak, aan die Tigris geleë. Dit was sowat 30 km2 groot. Die Taq Kasra was eens deel van die koninklike paleis in Ktesifon en dateer na raming van tussen die 3de en 6de eeu.[4] Dit is in die huidige dorp Salman Pak geleë.