Kurt Darren | |
---|---|
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Kurt Johan van Heerden |
Gebore | 19 Februarie 1970 Pretoria, Suid-Afrika |
Genres | Pop |
Beroep(e) | Sanger, liedjieskrywer, TV-aanbieder |
Instrumente | Stem |
Jare aktief | 1995 – nou |
Etikette | SELECT |
Webwerf | kurtdarren.co.za |
Kurt Darren (gebore Kurt Johan van Heerden; 19 Februarie 1970)[1] is 'n Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, TV-aanbieder, en akteur. Darren se debuutalbum, For Your Precious Love, is in 1995 vrygestel. In 2002 maak hy sy deurbraak in die Afrikaanse musiekbedryf met sy album Meisie Meisie.
Darren se musiek kan ook in Nederland en Vlaams België gehoor word, maar word meestal deur ander kunstenaars gesing. Sy liedjies "Staan op", "Meisie meisie", "Kaptein span die seile", "Af en af" en "Bloubergstrand se sonsak" (Nederlandse Vinzzent, Dromendans 2012) is voorbeelde hiervan.
In 2010 ontvang Darren twee SAMA-toekennings vir beste verkopers in die afdelings "true tone"-aflaaideuntjie vir "Kaptein" en vollengte-aflaaideuntjie vir "Af en Af".[2]
Hy was vanaf 2006 tot 2011 die aanbieder van die gewilde TV-program Jukebox wat op kykNET en verskeie radiostasies gebeeldsend word.
Darren is in Pretoria gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Lyttelton Manor. Sy pa was Afrikaanssprekend en sy ma Engelssprekend. Kurt het al van jongs af in musiek belang gestel en het op skool aan verskeie musiekblyspele deelgeneem.
Na matriek is Kurt weermag toe om sy basiese opleiding in Walvisbaai te doen. As lid van die weermag se vermaaklikheidsgroep toer hy vir 'n jaar saam met hulle boereorkes deur die land. Daarna werk hy as 'n wildbewaarder in die Krugerwildtuin en tree op as 'n toergids. Hy werk ook in die boubedryf voordat hy besluit om voltyds te begin sing.
Darren is op 8 Januarie 2011 met Dunay Nortjé in die eg verbind.[3]
Op 7 Julie 2013 is Darren ernstig beseer in 'n motorongeluk terwyl hy op pad terug huis toe was nadat hy 'n rugbywedstryd bygewoon het. Sy agent Marnus Bisschoff en sekretaresse is ook ernstig beseer. Almal is met 'n helikopter vervoer na die hospitaal, waar toetse getoon het dat Darren 11 gebreekte ribbes gehad het en ernstige beserings aan sy kop aangedoen het. Hy is na weke se behandeling uit die hospitaal ontslaan.[4] Baie van sy geskeduleerde konserte moes gekanselleer word. Hy het later aktiewe lewe hervat met hergeskeduleerde konserte en 'n toer in die Verenigde State en Europa aan die begin van 2014.