Kwikstertjie

Kwikstertjies
Die witkwikkie (Motacilla alba) van Eurasië en Noord-Afrika
Wetenskaplike klassifikasie
Domein:
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Motacilla
Spesies

'n Dosyn of meer spesies, sien teks.

Die kwikstertjies (ook kwikkies, wipstertjies of akkermannetjies[1] genoem) is klein Ouwêreldse sangvoëls in die familie Motacillidae. Hulle is slankgeboude en dikwels kleurryke insekvreters wat oop landskappe in die Ou Wêreld bewoon. Die dosyn of wat spesies van genus Motacilla is die enigste verteenwoordigers van die subfamilie Motacillinae,[2] en blyk hul oorsprong in die Palearktiese gebied te hê.[3] Die Latynse naam vir ‘n kwikstert, motacilla, is afgelei van muttex, ‘n voëlsoort wat deur Hesychius van Alexandrië (Grieks: Ἡσύχιος ὁ Ἀλεξανδρεύς) vermeld is.[4]

Kenmerke

[wysig | wysig bron]

Kwiksterte het ‘n sierlike bouvorm, en hul lang dun sterte word konstant op en af gedu.[5] Hul volksname dui juis op hierdie kenmerkende en byna konstante stertbeweging, 'n gedragskenmerk wat egter nie goed verstaan word nie. Dit is al voorgestel dat dit prooiinsekte uit hul skuilplekke versteur, of dat dit onderdanigheid aan ander kwiksterte mag aandui. Onlangse studies het eerder voorgestel dat dit 'n teken van waaksaamheid is[6] wat mag bydra om potensiële roofdiere te ontmoedig.[7]

Kwiksterte is terrestriële voëls van hoofsaaklik binnelandse waterryke habitatte. Die Kaapse kwikkie toon egter ‘n wye habitat-toleransie en word ook aan enige rotsagtige of sanderige seestrande gevind, benewens verskillende gemodifiseerde habitatte soos parke, sportvelde, tuine en rioolwerke.[8][9]

Hulle maak op die grond nes, dikwels in 'n rotsskeur of teen 'n styl grondbank of muur, en lê 4 tot 6 (3–8) meestal gespikkelde eiers op 'n keer.[10] Sommige spesies is matig tot besonder gregaries buite die broeiseisoen, en enkeles migreer. Hulle broei in Afrika, Europa en Asië, en sommige vertoon deelse of volkome trekgedrag. Twee spesies broei ook in westelike Alaska, en oorwinterende voëls mag Australië bereik. In Kenia is ‘n migrasiespoed van 46-48 km per uur by die geelkwikkie gemeet.[11]

Hul kleursig is goed-ontwikkeld met tot 120 000 konusselle per mm2 wat in die retina van die geelkwikkie aangeteken is (vergeleke met sowat 10 000 by die mens).[11] Hierdeur is hulle goed aangepas by helderverligte omgewings, en kan hul omgewing in detail waarneem.[12]

Spesies

[wysig | wysig bron]
'n Kaapse kwikkie in Namibië
'n Gryskwikkie in China

Die genus van kwikstertjies, Motacilla, omvat 12 spesies,[13] of 13 as die São Tomé-kortstertjie (Amaurocichla bocagii) bygereken word:

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Makro Blokraaisels Woordeboek, deur L.L. Pansegrouw; ISBN 0636025187
  2. Carnaby, Trevor (2008). "Introduction". Beat about the bush: Birds (1ste uitg.). Johannesburg: Jacana. p. 40. ISBN 9781770092419.
  3. Irwin, Michael P. Stuart (1981). The Birds of Zimbabwe. Salisbury, Zimbabwe: Quest Publishing. p. 330. ISBN 086-9251-562.
  4. Jobling, James A.; Fowling, Richard (1991). A Dictionary of Scientific Bird Names. Oxford: Oxford University Press. p. 152-153. ISBN 0-19-854634-3.
  5. Prozesky, O.P.M.; van Rooyen, Minette (1964). Uit die Natuur: Ons Voëls. Johannesburg: Voortrekkerpers. pp. 183–187.
  6. Randler, C (2006). "Is tail wagging in white wagtails, Motacilla alba, an honest signal of vigilance?" Animal Behaviour 71 (5): 1089-1093
  7. Hasson, O. (1991). "Pursuit-deterrent signals: communication between prey and predator". Trends in Ecology & Evolution, 6:325-329.
  8. Prozesky, O.P.M.; Findlay, Dick (1974). Veldgids – Voëls van Suider-Afrika (1ste uitg.). Johannesburg: Perskor Uitgewery. p. 297. ISBN 0-628-00266-1.
  9. Harrison, J. A., red. (1997). The Atlas of Southern African birds: Vol.2 Passerines (PDF). Johannesburg: BirdLife South Africa. pp. 378–379. ISBN 0-620-20730-2. Besoek op 13 Februarie 2024.
  10. Snow, D. W. & Perrins, C. M. (1998). The Birds of the Western Palearctic Concise Edition. OUP ISBN 0-19-854099-X.
  11. 11,0 11,1 Bologna, Gianfranco; Mondadori, Arnoldo (1978). The World of Birds: Sampson Low Guides. Sampson Low. pp. 69, 177. SBN 562-00112-3.
  12. Carnaby, Trevor (2008). "Cells in the eye". Beat about the bush: Birds (1ste uitg.). Johannesburg: Jacana. p. 137. ISBN 9781770092419.
  13. Gill, F., Wright, M. & Donsker, D. (2010). IOC World Bird Names (weergawe 2.6). (en)

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]