Kye Allums (gebore op 23 Oktober 1989) is 'n voormalige basketbalspeler in die vrouespan van die George Washington-universiteit wat in 2010 uitgekom het as 'n trans man. Hy was die eerste openlik transgender NCAA Division I-universiteitsatleet.[1][2] Allums is 'n kampvegter vir transgendersake, 'n openbare spreker, kunstenaar en mentor vir LGBT-jeugdiges.
Allums het drie seisoene vir die George Washington Colonials, die vrouebasketbalspan van die George Washington-universiteit in Washington, D.C., gespeel.[3] Sy spanmaats het hom "Kay-Kay" genoem.[4] Allums het mense begin vra om hom "Kye" te noem.[5] Hy het in 2010 as 'n trans man uitgekom.[6] Hy het aan die sportwebtuiste Outsports gesê: "My biologiese geslag is vroulik, wat my 'n transgender man maak."[7]
In Mei 2011 het hy ophou basketbal vir die universiteit speel.[8] Hy het in dié jaar sy BA-graad in die skone kunste behaal.[9]
Allums het ná sy universiteitsopleiding deur die land begin reis om te praat oor die lewe van 'n transgender persoon.[10] Hy het hoërskole, kolleges en universiteite besoek om die transgender gemeenskap te bespreek en hoe dit moontlik is om transgender te wees en in 'n span te speel.[11] Hy gee ook raad aan trans jongmense oor hoe om boelies te hanteer.[12]
Hy het in Laverne Cox se dokumentêr The T Word verskyn.[13] Die prent volg jong transgender individue en verduidelik wat hulle deurmaak.[14]
In 2015 is hy in die Amerikaanse eresportsaal vir gays en lesbiërs opgeneem.[15]