’n Kylix (Grieks: κύλιξ; meervoud: κύλικες, kylikes) was in Antieke Griekeland ’n soort wynkelk. Dit was groot en vlak, met ’n kort steel en twee handvatsels.
Die buitekant van die kelk was dikwels versier, maar die binnekant, of tondo, het die belangrikste versiering bevat. Aangesien dit met wyn bedek was, sou die tonele mettertyd ontbloot word terwyl iemand daaruit drink. Kylikes is dikwels ontwerp met dié feit in gedagte; tonele is so geskep dat die drinker eindelik verras of vermaak sou word wanneer die glas leeg was.
Die woord beteken "kelk" in Grieks en is verwant aan die Latynse woord calix, die aanvanklike bron van die Afrikaanse woord "kelk"[1] – maar nie aan die soortgelyke Griekse woord calyx nie; laasgenoemde beteken "blomkelk".
Die hoofdoel van die kylix was die drink van wyn (gewoonlik met water gemeng en dikwels ook met geurmiddels) op ’n simposium, ’n kuieraand van die manne in Antieke Griekeland. Hulle was dus dikwels versier met tonele van ’n humoristiese of seksuele aard wat net sigbaar sou word wanneer die glas leeg was. Dionysos, die god van wyn, en sy saters was gewilde onderwerpe. Die buitekant was dikwels ook versier. Die vorm van die kelk het ’n mens in staat gestel om te drink terwyl jy agteroorlê, wat die geval was op simposiums.[2] Dit het die mans ook in staat gestel om kottabos te speel – dit was ’n spel waartydens wynmoer onder in die kylix na teikens gegooi is.
Hulle het gewoonlik sowat 250 ml wyn gehou, hoewel dit grootliks verskil het volgens die grootte en vorm.[3]
Daar is talle subtipe kylikes wat verskil van vorm, die ligging van die geverfde tonele, die plek van vervaardiging of dikwels ’n kombinasie hiervan. Hier volg ’n paar voorbeelde: