Lidië (Assiries: Luddu; Grieks: Λυδία, Turks: Lidya) was ’n Ystertydperk-koninkryk in die westelike Klein-Asië wat oos van antieke Ionië in die hedendaagse Wes-Turkye geleë was. Die bewoners het ’n Anatoliese taal bekend as Lidies gepraat.
Op sy hoogtepunt het die Koninkryk Lidië oor die hele Wes-Anatolië gestrek. In Persië was Lidië ’n satrapie met Sardis as hoofstad.[1] Tabalus, wat deur Kores die Grote aangestel is, was die eerste satraap. Lidië was later die naam van ’n Romeinse provinsie.
Muntstukke het glo omstreeks die 7de eeu v.C. in Lidië ontstaan.[2]