Volgens ’n ou legende was Ljech, Tsjech en Roes ([lɛx tʃɛx rus]) broers wat die drie Slawiese nasies gestig het:
In een van die weergawes van die legende het die drie broers saamgejag, maar elk het ’n ander prooi gevolg en op die ou end het al drie in verskillende rigtings gereis. Roes het oos gegaan, Tsjech wes om hom te vestig op die Berg Říp wat uit die Bohemiese landskap verrys het, terwyl Ljech na die noorde gereis het tot hy ’n fantastiese witarend gesien het wat oor haar nes waak. Hy was so beïndruk deur die toneel dat hy besluit het om hom daar te vestig. Hy het sy nuwe blyplek (gród) Gniezno (Poolse byvoeglike naamwoord van gniazdo, of "nes") genoem en die witarend aanvaar as wapen. Dit is tot vandag ’n simbool van Pole.
Twee soortgelyke legendes met effens ander name kom ook voor in die volksverhale van Kroasië: in die Kajkawiese dialek van Krapina in Zagorje (Noord-Kroasië) en in die Chakawiese dialek van Poljica aan die Adriatiese See (Sentraal-Dalmasië). Die Kroatiese weergawe is in 1940 beskryf en in besonderhede ontleed deur S. Sakač.[1]
Die eerste Poolse verwysing na Ljech, Tsjech en Roes word gevind in die Kroniek van Groter Pole wat in 1295 in Gniezno of Poznań geskryf is. In Bohemiese kronieke verskyn Tsjech alleen of net saam met Ljech; hy word aanvanklik Bohemus genoem in die Cosmas-kroniek (1125).
Die legende suggereer die gemeenskaplike herkoms van die Pole, Tsjegge en Roeteniërs (of hedendaagse Russe, Oekraïners en Wit-Russe) en illustreer die feit dat minstens drie verskillende Slawiese volke reeds in die 13de eeu daarvan bewus was dat hulle volkekundig en taalkundig verwant was.
Die legende probeer ook om die etimologie van hierdie volke se name te verduidelik: Ljechië (’n ander naam vir Pole), die Tsjech- of Tsjeggiese lande (insluitend Boheme, Morawië en Silesië), en Roes (Roetenië).
Ljech, Tsjech en Roes is ook die name van drie groot eikebome in die tuin langs die paleis in Rogalin, Groot-Pole. Hulle is almal ouer as 700 jaar.