Lofsöngur (AfrikaansLofsang) is die naam van Ysland se nasionale volkslied wat uit die jaar 1874 dateer. Die teks is deur Matthías Jochumsson (1835–1920) geskryf, terwyl Sveinbjörn Sveinbjörnsson (1847–1926) die melodie gekomponeer het. Die lied het drie strofes waarvan net die eerste as amptelike teks van die nasionale volkslied gesing word.
Lofsöngur het ter geleentheid van Ysland se milleniumfeesvierings ontstaan wat op 2 Augustus 1874 plaasgevind het. Tydens 'n kerkdiens in Reykjavík se Dómkirjka, wat deur die Deense en Yslandse koning Christiaan IX van Denemarke bygewoon is, is Lofsöngur vir die eerste keer deur 'n gemengde koor opgevoer. Die liedteks baseer op die Bybelse psalm 90 wat as preekteks vir die plegtigheid gekies is.
Die lied het vervolgens as nasionale volkslied van Ysland gewild geraak en is ook ter geleentheid van die viering van Ysland se selfregerende status in 1918 opgevoer. Nogtans het die volkslied eers deur 'n wet uit die jaar 1983 amptelike status verkry.
Voor 1874 is gewoonlik Bjarni Thorarensen se lied Eldgamla Ísafold volgens die melodie van God Save the Queen as 'n soort nasionale volkslied gesing.