Loki is 'n god in die Noorse mitologie, een van die Ase of oorlogsgode. Volgens sommige bronne is hy die seun van Fárbauti ('n trol) en Laufey ('n godin), en die broer van Helblindi en Býleistr. Hy is getroud met Sigyn en hulle het twee seuns, Narfi en Nari (of Váli). By die trol Angrboða is Loki die pa van Hel, die wolf Fenrir en die wêreldslang Jörmungandr. Toe Loki die vorm van 'n merrie aangeneem het, is hy deur die hings Svaðilfari bevrug, en hy het die lewe geskenk aan die agtbenige perd Sleipnir.
Loki se verhouding met die ander gode wissel van bron tot bron; soms help hy hulle en soms tree hy kwaadwillig teenoor hulle op. Loki kan van gedaante verander en verskyn soms as 'n salm, 'n merrie, 'n vlieg en dalk as 'n ou vrou met die naam Þökk. Loki se positiewe verhoudings met die gode eindig toe hy die god Baldr se dood bewerkstellig.
Eindelik bind Odin se seun Váli hom met die binnegoed van een van sy seuns vas. In beide die Prosaïese Edda en Poëtiese Edda plaas die godin Skaði 'n slang bo hom. Gif drup uit die slang se bek wat Loki se vrou, Sigyn, in 'n bak opvang. Wanneer die gif egter op Loki drup, laat dit hom van pyn ruk, en dit veroorsaak aardbewings.
Wanneer Ragnarök aanbreek, sal Loki vry kom en saam met die trolle teen die gode veg. Hy sal teen die god Heimdallr te staan kom, en hulle sal mekaar doodmaak.
Loki word genoem in die Poëtiese Edda, wat in die 13de eeu saamgestel is uit vroeëre tradisies; die Prosaïese Edda en Heimskringla wat in die 13de eeu geskryf is; die rune- en skaldegedigte; en die Skandinawiese folklore. Hy word soms as 'n bedrieërgod beskryf.
Lokka.