Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas.
Die April-Lyrides (LYR)[4] is ’n meteoorreën wat elke jaar van 16–26 April duur.[5] Die uitstralingspunt is in die sterrebeeldLier – naby sy helderste ster, Alpha Lyrae (Vega). Dit bereik gewoonlik op 22 April sy hoogtepunt.
Die bron van die reën is stofdeeltjies afkomstig van die langperiodekomeet C/1861 G1 (Thatcher).[1] Die April-Lyrides is die aktiefste jaarlikse reën wat deur ’n langperiodekomeet veroorsaak word omdat C/1861 G1 ’n relatief kort wentelbaan het (415 jaar teenoor tot 10 000 jaar). Die Lyrides word al die afgelope 2 600 jaar waargeneem.
Die reën se hoogtepunt is gewoonlik omstreeks 22 April en die oggend van die 23ste, wanneer tussen 5 en 20 meteore per uur gesien kan word.[5] Die meteore het ’n skynbare magnitude van omtrent 2. Boliede (helder, ontploffende meteore) kan egter voorkom en ’n rookbaan agterlaat wat ’n paar minute duur.[6]
Soms is die Lyrides intenser, wanneer die planete die komeet se stof in die Aarde se wentelbaar instuur – dit gebeur sowat elke 60 jaar.[1] In 1982 het amateursterrekundiges 90 meteore per uur getel, en dieselfde het in 1922 gebeur. ’n Sterker storm van tot 700 meteore per uur het in 1803 voorgekom,[3] soos gesien deur ’n joernalis in Virginië, Amerika:
"Shooting stars. This electrical phenomenon was observed on Wednesday morning last at Richmond and its vicinity, in a manner that alarmed many, and astonished every person that beheld it. From one until three in the morning, those starry meteors seemed to fall from every point in the heavens, in such numbers as to resemble a shower of sky rockets ..."[6]