Kaart (kiesafdeling) | Wapen |
Landsvlag | |
Land | Namibië |
Gewes | Karas |
Koördinate | 26°38′S 15°09′O / 26.633°S 15.150°O |
Stigting | 1883 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 112,9 vk km |
Hoogte bo seevlak | 5,7 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2015) | 20 000 |
- Bevolkingsdigtheid | 177,1/vk km |
Tydsone | UTC +2 (MET) |
Burgemeester | Hambelela Suzan Ndjaleka (SWAPO) |
Amptelike Webwerf | -- |
Lüderitz is 'n klein seehawe en vissersdorp aan die Atlantiese kus van Namibië (Suidwes-Afrika) en die administratiewe hoofstad van die ǃNamiǂnûs-kiesafdeling in die Namibiese gewes ǁKaras. Die dorp is vernoem na die Bremense koopman Franz Adolf Eduard Lüderitz. Die permanente bevolking is in 2015 op sowat 20 000 beraam.
Die Portugese seevaarder Bartolomeu Diaz was die eerste Europeër wat in 1487 in 'n nabygeleë baai suid van die huidige dorp voet aan wal gesit en 'n tradisionele steenkruis met wapen op die Lüderitz-skiereiland se Diazpunt opgerig het. Die oorspronklike kruis (Portugees: padrão) was as gevolg van erosie sterk verweer en is in 1929 deur 'n replika vervang. Die ou Portugese origineel word tans in 'n Kaapstadse museum vertoon.
Die Bremense tabakhandelaar Adolf Lüderitz het in 1883 in Angra Pequeñabaai (die latere Lüderitzbaai) geland. Sy medewerker en vennoot Heinrich Vogelsang het van die plaaslike Orlam-hoof Josef Frederiks 'n gebied met 'n lengte van 40 myl en 'n wydte van 20 myl gekoop om hier 'n handelspos te stig. Die hoof het 100 goudpond en 250 gewere ontvang en was daarvan oortuig dat hy eintlik 'n gebied met 'n lengte van 70 en 'n wydte van 35 kilometer aan die Duitsers sou verkoop het. Nadat hy die ooreenkoms onderteken het, het die Duitse koopmans egter daarop verwys dat hulle nie Engelse myl (wat gelykstaan aan 1,6 kilometer) bedoel het nie, maar Pruisiese myl (7,5 kilometer) – Frederiks het sodoende die grootste deel van sy stamgebied van 300 by 150 kilometer verkoop.
Die land is nogtans as waardeloos beskou, en Lüderitz het eintlik gehoop om hier grondstowwe te kan ontgin. Sy mynbou-eksplorasies het egter op niks uitgeloop nie. Lüderitz het uiteindelik in finansiële moeilikhede beland en sy omvangryke grondbesit in 1885 aan die Duitse Koloniaalmaatskappy van Suidwes-Afrika verkoop.
Die dorp het eers met die veldtog teen die Nama-stam geleidelik begin groei toe hier in 1904 Duitse troepe gestasioneer is. Lüderitz het in hierdie tydperk veral vir die konsentrasiekamp bekend gestaan wat hier vir Orlam- en Nama-gevangenes en hul familielede opgerig is. Van die sowat 2 000 gevangenes het as gevolg van die slegte higiëniese en ongunstige klimaattoestande net sowat 450 oorleef. Eers nadat Duitse sendelinge daarop aangedring het dat die kamp gesluit moes word, is dit na die binneland verskuif.
Eers jare nadat Adolf Lüderitz in 1886 tydens 'n ekspedisie na die Oranjerivier spoorloos verdwyn het, is in 1908 diamante in die gebied ontdek, en die dorp het 'n kortstondige ekonomiese bloeitydperk beleef. Die Swart werker Zacharias Lewela het tydens die bou van 'n smalspoor-spoorweglyn 'n diamant in 'n duineveld ontdek. Hy het dit aan die boumeester August Stauch getoon, en Stauch het saam met die ingenieur Sönke Nissen 'n konsessie vir die gebied gekoop. Albei het danksy die diamante-mynbou miljoenêrs geword, terwyl Lewela niks ontvang het nie.
Lüderitz het in die volgende jare tot 'n besige handelshawe ontwikkel. Danksy die mynbou, talle immigrante wat die land binnegestroom en die diamantedorp Kolmannskuppe gestig het, het Lüderitz 'n welvarende dorp geword.
Toe die winsgewende diamantontginning in 1920 na die suide van die land verskuif is het Lüderitz sy ekonomiese rol as 'n mynbousentrum kwytgeraak. Die plaaslike ekonomie het nou op 'n kleinskaalse visserybedryf en 'n aantal klein skeepswerwe gesteun. Danksy die karakoelteelt in die suide van die land het 'n aantal tapytwewers hulle ook hier gevestig. Nogtans het Lüderitz se toekoms minder rooskleurig gelyk.
Teen die einde van die 20ste eeu is die Koedoe-gasveld langs die kus ontdek, ook seegras, wat daagliks op die dorp se strande uitspoel, 'n belangrike grondstof vir die voedsel- en kosmetiese bedryf. Daarnaas het 'n plaaslike oesterbedryf begin ontwikkel.
Ter geleentheid van Lüderitz se eeufeesvierings in 1983 is talle historiese geboue uit die koloniale tydperk gerestoureer, en Lüderitz het 'n belangrike toeristebestemming in Namibië geword. Die boubedrywighede by die hawe, wat aansienlik vergroot is, het talle nuwe werkgeleenthede vir jongmense geskep, en in 2000 is die toeristesentrum Waterfront ingewy.
Nadat die Swapo-regering enkele administratiewe streke hernoem het om die laaste oorblyfsels van die land se koloniale verlede af te breek, het nuusberigte oor 'n beplande naamwysiging vir Lüderitz onrus onder die blanke bevolking veroorsaak, terwyl ook swart Namibiërs hul misnoeë oor dié stap uitgespreek het. Laat in 2013 is bekendgemaak dat slegs die kiesafdeling se naam na !Nami‡Nûs verander sal word. !Nami‡Nûs is 'n term uit die plaaslike Khoekhoegowab-taal en beteken "omhelsing".
Pres. Hifikepunye Pohamba het in 'n amptelike toespraak, wat hy in 2014 gehou het, albei name gebruik. In Duitse reisgidse, wat in 2015 gepubliseer is, word derhalwe steeds die benamings Lüderitz en Lüderitzbucht vir die nedersetting gebruik.[1] Lüderitzbucht ("Lüderitzbaai") is 'n ouer naam uit die vroeë koloniale tydperk wat in die omgangstaal steeds gebruik word om na die nedersetting te verwys. Bewoners uit alle etniese groepe verwys na hulself dan ook trots as Buchters.
Sedert die 1970's het Lüderitz se bevolking van sowat 2 000 tot 5 800 in 2001 verdubbel. Die persentasie Duitssprekende bewoners het egter merkbaar afgeneem.
Alhoewel daar nog steeds diamantemynboubedrywighede in die omgewing is, het vissery en toerisme die belangrikste ekonomiese sektore geword. Veral seekreef word na lande soos Spanje en Japan uitgevoer. Oorbenutting van visbronne het egter daartoe gelei dat beperkings op die vissery geplaas is. Duitsland het 'n patrollieboot aan Namibië beskikbaar gestel sodat onwettige visvangaktiwiteite bekamp kan word.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Lüderitz. |