Maatskaplike vooruitgang of sosiale vooruitgang word gedefinieer as die vooruitgang van die samelewing wat die samelewing uit die algemene oogpunt verbeter, soos gesien deur dié wat die verandering veroorsaak. Die begrip, maatskaplike vooruitgang, is in 19de eeuse maatskaplike teorieë ingevoer, veral in die teorieë van maatskaplike ewolusioniste soos August Comte en Herbert Spencer. Dit was teenwoordig in die Verligting se geskiedenisfilosofieë.
Op die stadium toe belangegroepe met die gedagte van maatskaplike vooruitgang vorendag gekom het, is dit as geweldig radikaal beskou. Die rede hiervoor is dat mense tot op daardie stadium die maatskaplike orde as onveranderbaar, en dikwels deur 'n hoër gesag bepaal, beskou het. Met ander woorde sou uiteindelik die gode die maatskaplike stelsel geskep het, en die stelsel asook die plek wat mense binne daardie stelsel beklee het was ewigdurend, konstant en permanent (maar wel siklies, soos die seisoene). Niks het werklik verander nie, en hoe meer dit verander het hoe meer sou dit dieselfde bly; die klem is geplaas op die waarneem van die konstante, ewigdurende aspekte in die lewe. Hierdie opvatting oor die samelewing was baie konserwatief, aangesien selfs wanneer verandering plaasgevind het, dit slegs 'n oppervlakkige aspek van 'n onderliggende maatskaplike orde was, wat ewigdurend sou wees. Die beskouing was weer gegrond op 'n lewenswyse waarin min verander het (behalwe seisoenaal, soos die weer of die stadiums in 'n mens se lewe). Mense was vasgevang in hulle plek in die lewe en het nie die opsie of moontlikheid gehad of verwag om uit hulle bestaande stand te ontsnap na 'n nuwe stand nie.
Die groot deurbraak het in Europa gedurende die Verligting ontstaan toe maatskaplike kommentators en filosowe begin besef het dat mense self die samelewing en hulle lewenswyse kon verander. In plaas daarvan dat dit heeltemal van die gode afhanklik was, was daar al hoe meer ruimte vir die gedagte dat mense self hulle eie samelewing skep – en verder, soos Giambattista Vico geredeneer het, omdat mense in praktyk hulle eie samelewing skep, kon hulle dit ten volle begryp. Dit het gelei tot die opkoms van nuwe wetenskappe, of proto-wetenskappe, wat beweer het dat dit beskik het oor nuwe wetenskaplike kennis oor wat die aard van die samelewing was, en hoe mens dit kon verander om dit beter te maak.
Dit het weer aanleiding gegee tot progressiewe mening, in teenstelling met konserwatiewe mening. Die maatskaplike konserwatiwiste wat skepties, krities, en sinies oor panaceas vir maatskaplike vooruitgang. Volgens ultra-konserwatiewes, was dit byna onmoontlik om menslike omstandighede te verander. Hulle het ook geredeneer dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Die enigste vooruitgang wat daar kon wees, is as mens net die ewigdurende toestand van die lewe kon verstaan en kon ophou stry met die realiteit.
In teenstelling hiermee het die progressiewes gefokus op reële veranderings wat werklik voorgekom het, en die konsep van keuse ingevoer. Die lewe hoef dan nie op 'n voorafbepaalde manier af te loop nie; verrassend genoeg kon mense in werklikheid keuses uitoefen en gegrond op die keuses kon daar besonder uiteenlopende gevolge wees. Eties gesproke het dit geïmpliseer dat 'n mens morele verantwoordelikheid het vir dit wat met mense gebeur, eerder as om dit eenvoudig as God se wil te sien.
Hierdie nuwe idee het 'n nuwe konsep van vryheid van die mens geïmpliseer, d.i. mense kon hulle lewens onafhanklik bepaal deur hulle eie oordeel te gebruik. Aanvanklik het die konsep redelik paradoksaal voorgekom; sodat Jean-Jacques Rousseau geskryf het, "Mense word vry gebore, maar is orals in kettings". 'n Groot deurbraak was die Franse Rewolusie van 1789 wat baie nuwe filosofiese denke geïnspireer het. In die filosofie van die Duitse denker Hegel, is geskiedenis radikaal heroorweeg as die kontinue ontwikkeling van die mensdom na al hoe groter vryheid wat die perke op vryheid al hoe meer uitgestrek het. Hierdie filosofie is egter steeds godsdienstig en misties, in soverre as wat Hegel geskiedenis sien asof dit sou eindig in die eenheid van God met die wêreld, maar terselfde tyd het Hegel ook 'n Logos of teleologie tot die geskiedenis van die mens aldus bevestig, en ten volle erken dat beide ewolusionêre en rewolusionêre transformasies in die geskiedenis plaasvind. Dit was 'n hoopvolle filosofie, wat op 'n rasionele manier waarneem hoe vooruitgang in die geskiedenis voorkom.
Dit was moontlik om menslike vooruitgang waar te neem, asook menslike regressie na 'n vroeëre staat. Volgens Hegel was iets, indien dit bestaan het, rasioneel. As dit ophou bestaan het was dit omdat dit irrasioneel geword het. Dit het 'n baie belangrike idee bevat, al is dit dalk nie so goed uitgedruk nie, naamlik dat geskiedenis nie 'n gelukskoot, lot ('n kismet) was nie, maar dat dit rasioneel verstaan kon word,’’ minstens in beginsel.
Die denkrigting is op kragtige wyse ontwikkel in die denke van Karl Marx ('n student van Hegel se denke) en sy sekulêre historiese materialisme. Deur middel van skitterende retoriek beskryf Marx die middel-19de eeuse toestand in die Kommunistiese Manifes as volg:
Die kapitalistiese era in die geskiedenis word hier radikaal anders verstaan as 'n proses van voortdurende verandering, waarin die groei van markte alle vastigheid in mense se lewens laat verdwyn. Dit is byna 'n algehele verwerping van die konserwatiewe etos, waarvolgens niks werklik in die menslike lewe verander nie. Marxisme stel verder dat kapitalisme, in die strewe daarvan vir hoër winste en nuwe markte, onvermydelik die saad vir die stelsel se eie ondergang sal saai. Marxiste glo dat kapitalisme in die toekoms met sosialisme en uiteindelik kommunisme vervang sal word.
Baie voorstanders van kapitalisme het met Marx se analise van kapitalisme as 'n proses van voortdurende verandering saamgestem, maar, anders as Marx, geglo en gehoop dat kapitalisme vir altyd sou voortduur.
Dus het twee opponerende denkskole - Marxisme en liberalisme - teen die begin van die 20ste eeu in die moontlikheid en wenslikheid van voortdurende verandering en verbetering geglo. Marxiste was sterk gekant teen kapitalisme en die liberale het dit sterk ondersteun, maar die een konsep waarmee beide wel kon saamstem was modernisme.
Modernisme is 'n denkrigting wat die mag van mense om hulle samelewing te skep, verbeter en hervorm met behulp van wetenskaplike kennis, tegnologie en praktiese implementering bevestig het. Dit het sy uiterste limiete bereik met die Russiese Rewolusie en die derde Sjinese rewolusie wat deur Marxistiese ideologie geïnspireer is. Hier het mense met soveel vertroue geplaas in die vermoë om hulle wêreld na iets beters te verander dat hulle gedink het dat, in 'n betreklik kort periode, grootliks ongeletterde kleinboere sou kon begin om 'n regverdige, egalitariese en sosialistiese orde op 'n bewuste manier te skep, bewapen met wetenskap en tegnologie.
In die postmodernistiese denke wat geleidelik vanaf die 1980's veld gewen het, word die grandiose bewerings van die moderniseerders algaande weggekalwe, en die konsep van maatskaplike vooruitgang weereens bevraagteken en ondersoek. In die nuwe visie lyk radikale moderniseerders soos Stalin en Mao Zedong soos totalitêre despote, wie se visie van maatskaplike vooruitgang as geheel en al misvormd beskou word.
Postmoderniste bevraagteken die geldigheid van 19de en 20ste eeuse idees oor vooruitgang – beide aan die kapitalistiese en die Marxistiese kant van die spektrum. Hulle redeneer dat beide kapitalisme en Marxisme tegnologiese prestasie en materiële welvaart oorbeklemtoon terwyl die waarde van innerlike geluk en tevredenheid geïgnoreer word.
Dus lei die eietydse kultuur van postmodernisme na 'n min of meer kritiese her-evaluasie van maatskaplike vooruitgang en vooruitgang van die mensdom. Hierdie herevaluasie neem baie verskillende vorme aan. In die ekstreme vorm daarvan word die einste idee van maatskaplike vooruitgang verwerp. Hoe is mense beter daaraan toe, vra postmoderniste, as hulle almal moderne verbruikersgoedere het, maar hulle hopeloos ongelukkig en vervreemd is? Hoe kan ons met geldigheid sê dat mense beter af is as honderde jare gelede, as mense nie eers sin kan maak van hulle eie lewens nie? Wat kan ons regtig verander behalwe ons indiwiduele lewens? Selfs as dinge verander, hoe kan ons sê dat dit werklik beter word?
In die begin van die 21ste eeu lei die neiging in denke oor maatskaplike vooruitgang na vier hooftipe reaksies: