Die Mars-poollandingstuig (Engels: Mars Polar Lander of Mars Surveyor '98 Lander) was 'n robotlandingstuig van 290 kg wat op 3 Januarie 1999 deur Nasa gelanseer is om die grond en klimaat van Planum Australe, 'n streek naby die suidpool van Mars, te bestudeer. Dit was deel van die Mars Surveyor '98-sending.
Op 3 Desember 1999, nadat die tuig sy nadering van die planeet moes voltooi het, het dit nie weer kommunikasie met die aarde hervat nie. In 'n ontleding van die voorval is vasgestel die waarskynlike rede was dat die enjinvuur vir die landing te gou gestaak is en die tuig die planeet teen 'n hoë snelheid getref het.[1]
Die totale koste van die landingstuig was $165 miljoen (destyds amper R1 miljard).[2]