Memphis | |||
|
|||
Bynaam: The River City, The Bluff City, M-Town | |||
Ligging van Memphis in Tennessee | |||
Ligging van Tennessee in die VSA | |||
Land | Verenigde State van Amerika | ||
---|---|---|---|
Staat | Tennessee | ||
Distrik | Shelby | ||
Regering | |||
- Burgemeester | Jim Strickland (D) | ||
Oppervlakte | |||
- Totaal | 763,4 km² (294,8 myl²) | ||
Bevolking (2019) | |||
- Totaal | 651 073[1] | ||
- Digtheid | 852,9/km² (2 209/myl²) | ||
ZIP code | 63 ZIP-codes | ||
Areakode(s) | 901 | ||
Webwerf: www.memphistn.gov |
Memphis is een van die groot metropole in die Amerikaanse Suide en die grootse stad in die Amerikaanse deelstaat van Tennessee, met 'n bevolking wat op 1 Julie 2019 op 651 073 beraam is. Na sy bewoners word in Engels as Memphians verwys.
Memphis is die beginpunt en hoofstad van die vrugbare Mississippi Delta[2] - 'n landskap met 'n unieke karakter wat grotendeels in die deelstaat Mississippi geleë is (en nie verwar moet word met die Mississippi-rivierdelta nie, die mondingsgebied van Noord-Amerika se magtige stroom in Louisiana waar die Mississippi soos reusetentakels begin vertak om in die Golf van Meksiko uit te mond), maar ook 'n streek wat tradisioneel deur armoede geteister is.
Die onvoorspelbare rivier het Memphis se geskiedenis, wat geografiese en topografiese besonderhede betref, grootliks bepaal en die stad tot 'n vervoer- en handelsentrum laat groei. Setlaars uit die landboustreke van die omgewing het die Amerikaanse Middelsuide se kultuur en ekonomie van katoen en slawerny gevestig.
As die poort tot die Laer Suide en die uitgestrekte gebiede van die Amerikaanse Weste anderkant die Mississippi het Memphis tot die grootste binnelandse katoenmark ter wêreld ontwikkel.[5] Hierdie status is bevestig toe die vervoerinfrastruktuur verder uitgebou is met paaie, spoorweë en lughawens. So was Memphis as vervoer- en verspreidingspilpunt 'n maklike keuse as hoofkwartier van FedEx Corporation, een van die voorste koerier- en vragondernemings ter wêreld.
Nogtans was Memphis gedurende 'n groot deel van sy geskiedenis 'n stad van kontraste en teenstrydighede waar die sjarme en elegante leefstyl van die Amerikaanse Suide gepaard gegaan het met etniese en sosiale spanninge en geweld. So is Memphis beskryf as een plek wat deur twee bevolkings bewoon is, geskei van mekaar op baie lewensterreine, en tegelykertyd aangewese op mekaar. Progressiwiteit en agterlikheid het hier voortgespruit uit 'n ingewikkelde en vlugtige mengsel van swart en wit, arm en ryk, stedelik en plattelands, ou en nuut.
Binnelandse migrasie en verstedeliking het armer lae van die plattelandse bevolking, swart en wit, na Memphis laat stroom op soek na 'n beter heenkome. Ongeag sosiale ellende, armoede en etniese verdeling het Memphis se stedelike leefstyl bygedra tot 'n kulturele opbloei wat juis deur die swakstes in die samelewing bewerkstellig is.
Danksy hulle kon Memphis die bakermat van musiekstyle word soos blues en rock'n'roll, gebore uit 'n ongewone kulturele omwenteling waarin onafhanklike plate-etikette en die plaaslike werkersklas hoofrolspelers was. Hul musiek, wat sy oorspronge in Afrika sowel as Ierland, die noorde van Engeland en Skotland het, sou uiteindelik ingang vind tot die hoofstroomkultuur van die Verenigde State en na ander dele van die wêreld versprei, onder meer deur wêreldsterre in die musiekbedryf soos Elvis Presley wie se laaste woning, Graceland, en laaste rusplek in Graceland se begraafplaas trekpleisters vir toeriste geword het.
Memphis het daarnaas 'n sentrale rol in die Amerikaanse burgerregtebeweging van die 1950's en 1960's gespeel. Die National Civil Rights Museum (Nasionale Burgerregtemuseum) het op die plek ontstaan waar die swart aktivis Dr. Martin Luther King Jr. sy lewe verloor het. Die historiese distrik van Beale Street en die plaaslike radiostasie WDIA maak deel uit van die U.S. Civil Rights Trail, 'n roete wat as wegwyser dien tot 'n honderdtal sleutelplekke van die burgerregtebeweging.
In die Beale Street-distrik, wat met sy vyftien straatblokke ook as klassieke buurt van bluesmusiek bekend staan, het swart Amerikaners ná die einde van die Amerikaanse Burgeroorlog in 1865, maar ook in die tyd toe hulle vir gelyke regte geveg het, met sukses hul eie besighede begin vestig het. Hier het die Freedman's Bank ontstaan wat na die finansiële belange van vrygelate slawe omgesien het, net soos die radiostasie WDIA - die eerste wat programme vir swart luisteraars as hoofteikengroep uitgesaai het, en hier is Free Speech gepubliseer, 'n dagblad wat as spreekbuis vir die burgerregtebeweging gedien het.
Memphis is geleë in die suidweste van Tennessee, aan die oostelike oewer van die Mississippirivier. Die stad is omtrent 212 myl (341 km) suidwes van Nashville (die hoofstad en tweede grootste stad van Tennessee).
Memphis is die jongste van die vier grootste stede (Nashville, Knoxville en Chattanooga) in Tennessee, gestig in 1819.
In 2000 het die stad 'n bevolking van 650 100 gehad: 34,14% wit, 61,41% swart of Afro-Amerikaans, 0,19% Amerikaanse inboorlinge, 1,46% Asiaties, 0,04% Pasifiese eilanders, 1,45% van ander rasse en 1,04% van twee of meer rasse. Spaans-Amerikaners of Latyns-Amerikaners van enige ras het 2,97% van die bevolking uitgemaak.
Die minimumvereiste vir die gebruik van dodelike geweld deur polisielede is deur die Hooggegeregshof in die saak Tennessee vs. Garner van 1985 vasgestel. 'n Skietvoorval in 1974 het tot die hofsaak gelei. Twee polisie-offisiers in diens van die Memphis Police Department, Elton Hymon en Leslie Wright, het 'n sogenaamde prowler inside-noodroep beantwoord. Die verdagte inbreker, die 15-jarige Edward Garner, het gevlug toe Hymon hom probeer vaskeer het. Alhoewel Hymon geen teken van 'n vuurwapen waargeneem het nie, en bewus was van die feit dat Garner ongewapen was, het hy die jongeling geskiet om hom te verhinder om te vlug. Edward Garner is deur 'n koeël in sy agterkop getref en het later aan die besering beswyk.
Hymon se optrede is deur destydse wetgewing van die deelstaat Tennessee en die polisiedepartement van Memphis se beleid gedek, gebaseer op die destydse Common Law se any fleeing felon rule. Garner se pa het in die Federale Distrikshof vir die Westelike Distrik van Tennessee 'n hofsaak ingedien teen die Polisiedepartement van Memphis en sy direkteur, die Stad Memphis, die Hoofbestuurder (Chief) en burgemeester van Memphis. Volgens hom is die grondwetlike regte van sy seun, soos gewaarborg deur die 4de, 5de, 6de, 8ste en 14de Amendment van die Amerikaanse Grondwet, deur die polisieoptrede geskend. Die Distrikshof het die destydse wetgewing bevestig. Die Amerikaanse Hooggeregshof (U.S. Supreme Court) het bevind dat die deelstaat Tennessee se heersende polisiestatuut in stryd was met die Amerikaanse Grondwet.[6][7]
Memphis se Intenasionale Lughawe dien as globale SuperHub of wêreldhoofspilpunt vir FedEx Express, die lugvrag- en lugposafdeling van FedEx Corporation, 'n koerier-, pos- en vragonderneming met belange dwarsoor die wêreld wat sy setel in Memphis het. Die lughawe hanteer sodoende die tweede grootste hoeveelheid vrag op aarde na Hong Kong se Internasionale Lughawe.