Die merinoskaap is een van die bekendste skaaprasse ter wêreld. Merino's is veral bekend vir die kwaliteit van hulle wol, hoewel hulle ook vir vleisproduksie aangehou word. Daar is twee soorte merinoskape: die met lang spiraalvormige horings (wat naby die kop groei) en die sonder horings (soms is klein stompies sigbaar).[1] Die ooie dra egter nie horings nie (net die ramme).
Die ras is oorspronklik van Alentejo in die suide van Portugal afkomstig, vanwaar dit aan Spanje bekendgestel is. Die wol van die skaap was reeds in die Middeleeue hoog aangeskryf. Vandag word merino's steeds as een van skaaprasse met die mooiste en sagste wol beskou.
Danksy die skaap se geplooide vel produseer dit ongeveer vyf kilogram wol per jaar. 'n Merino groei gemiddeld tien keer soveel haartjies per vierkante sentimeter as ander skape. Hulle is egter nie net vir die hoeveelheid wol wat hulle lewer bekend nie, maar ook vir die wol se kwaliteit. Die wol het 'n fyn tekstuur en is daarom vir verskeie toepassings geskik. Dit word onder meer vir gordyne en die maak van kleredrag aangewend. Omdat dit nie krapperig of jeukerig is nie, word die wol veral vir sportdrag gebruik.
Merino's moet minstens een keer per jaar geskeer word omdat hulle wol aanhou groei. Skape wat nie gereeld geskeer word nie, kan hitte-uitputting, probleme met mobiliteit en blindheid ondervind.[2]
Merino's is uiters aanpasbaar en floreer op yl grasveld. Die ooie kan drie keer elke twee jaar lam (elke agt maande).
Suid-Afrika se skaap- en wolbedryf is in ongeveer 1789 gevestig. Die eerste merino's, vier Spaanse Merino-ooie en twee -ramme, is deur die Nederlandse regering aan kol. R.J. Gordon geskenk. Van die eerste wolboere was die broers Van Reenen, J.F Reitz en M. van Breda.[3]
Die Suid-Afrikaanse Vleismerino is 'n dubbeldoelras wat vir beide sy vleis en wol geteel is. Die wol se kwaliteit is nie so goed soos die van wolmerino's nie, maar die skaap het 'n groter karkas wat vleisproduksie verhoog. Die ras is van die Duitse Vleismerino ontwikkel. Die eerste Duitse Vleismerino, tien ooie en ’n ram, is in 1932 uit Duitsland ingevoer.