MiG-29 | |
---|---|
'n MiG-29 van die Duitse Lugmag oor die Golf van Meksiko | |
Tipe | Lugoorheersingvegter, meerdoelige vegter |
Vervaardiger | Mikojan |
Ontwerp deur | Mikojan |
Nooiensvlug | 6 Oktober 1977 |
Bekendstelling | Julie 1983 |
Status | In gebruik |
Hoofgebruikers | Russiese Lugmag Indiese Lugmag Poolse Lugmag Oekraïense Lugmag Siriese Lugmag |
Vervaardig | 1982–hede |
Aantal gebou | 1 600+[1] |
Eenheidskoste | VS$11 miljoen[2][3] (MiG-29B, 1984, 1999) VS$29 miljoen (gemiddelde koste, 2009) |
Weergawes | MiG-29M MiG-29K MiG-35 |
Die Mikojan-Goerewitsj MiG-29 (Russies Микоян МиГ-29) is 'n vierde-generasie vegvliegtuig wat in die Sowjetunie met die oog op lugoorheersing ontwerp is. Nadat die MiG-29 in die 1970's deur die ontwerpateljee van Mikojan-i-Goerewitsj ontwikkel is, is dit in 1983 deur die Sowjetlugmag in gebruik geneem. Die vegvliegtuig is nog steeds in diens van die Russiese en talle ander lugmagte.
In verslae van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) word na die MiG-29 as Fulcrum verwys. Die Sowjet-vegvliegtuig is saam met die Su-27 ontwikkel om nuwe Amerikaanse vegvliegtuie soos die F-15 Eagle en die General Dynamics F-16 Fighting Falcon die hoof te bied.[4]
Die enigste NAVO-lidstaat, wat MiG-29-vegvliegtuie voor die uitbreiding van die NAVO na Oos-Europa gebruik het, was Duitsland nadat 24 vliegtuie (20 MiG-29 A en 4 MiG-29 UB) ná die hereniging met die Duitse Demokratiese Republiek in 1990 van die Oos-Duitse Nationale Volksarmee ("Nasionale Volksleër") oorgeneem is. Ná 'n toetsfase en die ombou volgens NAVO-standaarde is die vegvliegtuie onder die nuwe naam MiG-29 G en GT ('n afkorting van German en German Trainer) deur die Duitse Lugmag (Luftwaffe) gebruik. Die vliegtuie is later aan Pole verkoop.