Michael Halliday | |
Michael Halliday in 2015
| |
Geboortenaam | Michael Alexander Kirkwood Halliday |
---|---|
Gebore | Leeds, Yorkshire, Engeland | 13 April 1925
Oorlede | 15 April 2018 (op 93) Sydney, Nieu-Suid-Wallis, Australië |
Blyplek | Australië |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Vakgebied | Taalkunde |
Bekend vir | Sistemiese funksionele taalkunde |
Beïnvloed deur | Vilém Mathesius (Prague school) Wang Li, J.R. Firth, Benjamin Lee Whorf |
Invloed op | Ruqaiya Hasan, C.M.I.M. Matthiessen, J.R. Martin, Norman Fairclough |
Michael Alexander Kirkwood Halliday (dikwels ook genoem M.A.K. Halliday) (gebore 13 April 1925; oorlede op 15 April 2018) was 'n Australiese taalkundige. Hy het 'n model van grammatika, die sistemiese funksionele grammatika, ontwikkel wat wêreldwyd belangrik geword het. Hierdie model is nie net op Engels van toepassing nie, maar ook op meeste ander tale, soos die Indo-Europese groep.
Halliday is gebore en word groot in Engeland. Hy verkry 'n BA Honneurs in Moderne Chinese Taal en Letterkunde (Mandaryns) by die Universiteit van Londen. Hy spandeer die volgende drie jaar in China, en met sy terugkoms verkry hy sy doktersgraad by die Universiteit van Cambridge in Chinese Linguistiek. Hy skakel oor na die veld van linguistiek, en in 1961 publiseer hy sy teorie oor sistemiese funksionele grammatika, gebou op die vroeëre werk van sy Britse mentor J. R. Firth en 'n groep Europese linguiste van die vroeë twintigste eeu, bekend as die Praagskool.
In 1965 word hy professor in Linguistiek by die Universiteit van Londen. In 1976 verhuis hy na Australië vir 'n professoraatskap in Linguistiek by die Universiteit van Sydney, en hy bly in hierdie pos aan tot met sy aftrede. Hy verkry 'n emeritus professoraatskap by beide die Universiteit van Sydney en die Macquarie-universiteit. Hy is 'n besoekende professor in die Fakulteit van Opvoedkunde by die Universiteit van Hongkong.
Benewens linguistiek beïnvloed hy ook die studierigtings van visuele en multimodale kommunikasie. Hy word beskou as die stigter van die studieveld sosiale semiotiek. Hy werk in verskeie areas van taalstudie, beide in die teorie en toepassing daarvan. Hy beywer hom veral om die begrippe omtrent die basiese beginsels van taal toe te pas op die teorie en praktyk van opvoedkunde. In 1990 lewer hy 'n lesing in Saloniki waarmee hy een van die pioniers word in die nuwe studieveld van eko-kritiese diskoersontleding.
In 1975 identifiseer en benoem Halliday die sewe funksies wat taal bied aan kinders in die vroeë kinderjare. Kinders word gemotiveer om taal aan te leer omdat die aanleer sekere doelwitte vir hulle bedien. Die eerste vier help kinders om fisiese, emosionele en sosiale behoeftes te bevredig.
Die laaste drie funksies help die kind om met sy of haar omgewing oor die weg te kom.